Keuse van nuwe hoof by Transnet ‘bisar’

(Argieffoto: Facebook)

Vrydag nog het Siza Mzimela “ander opsies oorweeg” nadat sy ná slegs 18 maande by SA Express as tussentydse uitvoerende hoof bedank het.

Nou is sy aangestel as die nuwe hoof van vragspoorvervoer by Transnet – ʼn besluit wat die DA as “bisar” bestempel het.

Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, sê die party gaan nou aan minister Pravin Gordhan skryf om meer inligting oor die keuse te kry.

“Mzimela se aanstelling by so ʼn belangrike staatsbeheerde onderneming (SBO) is bisar, gegewe die feit dat sy net lugvaartervaring het en nie die vereiste ondervinding in die vrag- en spoorbedryf het nie,” sê Cachalia.

Die DA wil weet of die proses om Mzimela aan te stel deursigtig was. Cachalia vra ook of ʼn paneel die aanstellingsproses gemonitor het, wat die vereistes vir die kortlys van kandidate was en hoekom Mzimela aangestel is as sy geen ervaring op die gebied het nie.

“Mzimela se aanstelling is ʼn klassieke voorbeeld van die ANC se kaderontplooiing waar ondoeltreffende uitvoerende hoofde van die een staatsbeheerde onderneming na die volgende geskuif word. Mzimela se geskiedenis as die hoof van ʼn SBO is vrot, soos gesien kan word in die feit dat haar vorige werkgewer, SA Express, nou deur likwidasie in die gesig gestaar word,” sê Cachalia.

Hy sê Suid-Afrika se ekonomie is tot rommelstatus afgegradeer en dat korrupsie en die wanbestuur van SBO’s ʼn beduiende rol daarin gespeel het.

“Tog lyk dit of die ANC vasbeslote is om party-lojaliste ten koste van dienslewering en die ekonomie in belangrike posisies te ontplooi.”

SA Express het vroeër gesê Mzimela se toewyding en passie was deurlopend duidelik en sy het gekies om – tot haar bedanking – deur groot uitdagings by die span te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Stefan ·

En dan reken hulle dat dit uiters ongevoelig is dat ons tot junkstatus geval het!!!???
Met so’n regering kan ons net verder val.

Leonard ·

Ongelukkig, hét die ANC wéér ÁL sy vingers in die pastei.
Onbevoegdheid SÁL nié stop!

Corne123 ·

daar gaannlaaste biedjie wat transnet oorgehaat het ook nog n staatinstelling wat val o wag die hele staat het al geval tragies

J ·

Die ANC regime is vasbeslote om te “self destruct”!

Los hulle … !

GOOD RIDDANCE!

Genis ·

Ja nee wrintie waar, junk status is vir hulle lyk my n pluimpie in die hoed? Wanneer gaan die kader ANC agterkom hulle voeter als op met hul onbevoegde aanstellings?

jzjz05 ·

Die agtergeblewenis van SA glo hulle vriende en famielie sal SA red,daar is net een manier om die land te red en dit is om mense aantestel wat die kennis het sonder as om te kyk na kleur.Die ding van as iemand kwalifiseer vir n pos word hy oor gesien oor velkleur moet stop. Die bedryf word oopelik beoefen en die land is gedoem as daar voort gegaan word met velkleur voor kennis te plaas.

jzjz05 ·

Siza Mzimela ,beteken Ons Kruipweg, so ek hoop nie na n jaar ofwat daar regtig weggekruip gaan word nie.

Jaco ·

die ou SA was ook so. Die Verenigde Party regering het tot in 1948 lekker jobs vir Vrymesselaars gegee, veral in die staatsdiens. Toe vat die Nasionale Party oor, gee vir al daardie vrymesselaars golden handshakes en gee hulle jobs vir mense wat seker bekwaam was, maar lidmaatskap van die Afrikaner Broederbond was die deurslaggewende ding vir daardie jobs. Staatsdiens, SANLAM, ander groot afrikanerbesighede, selfs moderature van die 3 afrikaanse susterkerke is almal gelaai met Broederbonders
Gaan lees net die stuk oor Gideon Roos op die Afrikaanse Wikipedia. dit wys duidelik hoe hy stelselmatig uitgewerk is. hy was nie n Broederbonder nie en wou die SAUK net professioneel en onpartydig hou. Die Broederbond en die NP het egter ander planne gehad.Terloops, op ‘n stadium was Riaan Eksteen die baas van die SAUK. Hy was voor dit jare lank ‘n diplomaat wat van radio en TV en uitsaai geen ondervinding gehad het nie.
As dit toe ok was waarom nie nou nie? ANC het ditdan by ons geleer…

ElizeK ·

Jaco, dit wil my voorkom of die “lockdown” jou glad nie goed doen nie. Stap bietjie buite in jou tuin rond as jy een het.
Jy kort vars lug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.