Kiesers gewaarsku teen reën-, donderbuie

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Daoudi Aissa/Unsplash)

Reënbuie in die namiddag en donderbuie kan moontlik kiesers dié naweek van registrasiestasies weghou.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het in die lig van die die tweede (en laaste) registrasienaweek in aanloop tot die 2024- nasionale en provinsiale verkiesing gesê geïsoleerde reënbuie en donderbuie “met ʼn waarskynlikheid van 30%” word Saterdagmiddag regoor die land verwag.

“Kiesers moet ook bewus wees van ʼn 60% waarskynlikheid van verspreide donderbuie langs die Drakensbergreeks in KwaZulu-Natal en Mpumalanga.”

Die weerdiens sê erge donderstorms kan ook moontlik in dié streke ontwikkel. Die waarskynlikheid daarvoor is egter laag.

Soortgelyke toestande word vir Sondag voorspel.

Die weerdiens sê enkele reenbuie en donderbuie word teen Sondagmiddag verwag met ʼn waarskynlikheid van 30% oor ’n groot deel van die land.

Verspreide middagbuie en donderbuie met ʼn 60% waarskynlikheid kan oor die sentrale, oostelike en suidoostelike dele van die land verwag word.

Die uiterste westelike en suidwestelike dele van die land kan egter uitsien na warm en sonnige weer heel dag lank.

Die weerdiens sê ʼn groot deel van die land het die afgelope week byna daagliks middagdonderstorms beleef.

“Die gunstige toestande vir donderstorms spruit tans voort uit die kombinasie van ʼn oppervlaktrog oor die sentrale binneland, bygestaan deur die teenwoordigheid van ʼn bolugtrog oor die westelike dele van die land. Koeler vogtige lug word boonop na die oostelike dele van die land ingebring deur ʼn hoogdruk geleë oor die suidelike Indiese Oseaan.”

Die weerdiens sê alle oë is egter hierdie naweek op die weer aangesien weer ʼn groot invloed kan hê op die hoeveelheid Suid-Afrikaners wat vandag en môre registreer om hul kruisies in vanjaar se verkiesing te trek.

Maroela Media het vroeër berig Suid-Afrikaners kan by meer as 23 000 registrasiestasies oor die hele land ʼn draai gaan maak om te registreer om te stem óf bloot hul besonderhede voor die verkiesing na te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.