Kiesstasiebeampte verwyder ná video aan die lig kom

Argieffoto

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het ʼn adjunk- voorsittende beampte van ʼn kiesstasie in Benoni aan die Oos-Rand verwyder nadat ʼn video aan die lig gekom het van ʼn party-agent wat help om stembriewe van stemsakke na stembokse oor te plaas.

Die OVK sê in ʼn verklaring die kommissie het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat dié video gister wyd op sosiale media versprei is.

Die verkiesing het gister begin met spesiale stemme wat oor ʼn tydperk van twee dae by kiesstasies en deur tuisbesoeke uitgebring word. Volgens die OVK word stemsakke gebruik om spesiale stembriewe deur middel van tuisbesoeke in te vorder bloot omdat die groot stembokse onprakties is vir tuisbesoeke.

“Aan die einde van die dag se tuisbesoeke word die spesiale stembriewe na ʼn stemboks oorgeplaas om veilig gestoor te word sodat die stemsak weer vir die volgende dag se spesiale stemme gebruik kan word,” lui die verklaring.

“Die hantering van enige verkiesingsmateriaal deur enige party-agent word streng verbied. Hulle word slegs toegelaat om die bedrywighede waar te neem en beswaar aan te teken. Die adjunk- voorsittende beampte wat ʼn oog oor dié proses gehou het, is daarom verwyder.”

Die OVK sê ondanks die oortreding glo hy die integriteit van die spesiale stemproses is nie ondermyn nie, aangesien daar ʼn baie streng verifikasieproses gevolg word voordat die stembriewe getel word.

“Al die spesiale stemme word eers in ʼn ongemerkte koevert geplaas, wat dan in ʼn tweede koevert geplaas word wat gemerk word met die stemstasie en die kieser se besonderhede vir verifikasie. Die koevert word dan in ʼn stemboks geplaas of in die geval van tuisbesoeke, in ʼn stemsak.

“Voordat die spesiale stemme by die ander stembriewe gevoeg word, word hulle deeglik geverifieer teenoor lyste van goedgekeurde spesiale kiesers. Die proses word deur party-agente en ander beamptes waargeneem. Eers wanneer elke spesiale stem geverifieer is aan die hand van die amptelike lys van spesiale kiesers, word die buitenste koevert verwyder en die eerste koevert word by die gewone stembriewe gevoeg om getel te word. Sodoende word die geheimhouding van elke stembrief bewaar.”

Die OVK sê hy ondersoek ook bewerings dat daar op sommige stembriewe wat tydens gister se uitbring van spesiale stemme gebruik is nie ʼn stempel agterop aangebring is nie. Daar word ook ondersoek of daar enige waarheid in bewerings steek dat daar gevalle was waar die dubbelkoevert-stelsel nie gebruik is nie.

“Afhangende van die uitkoms van hierdie ondersoek, sal die kommissie ʼn besluit maak oor of hierdie stemme getel gaan word of nie.”

Kiesers wat vermoed dat die korrekte prosesse nie tydens die verkiesing gevolg word nie, kan beswaar aanteken by die voorsittende beampte van die betrokke kiesstasie. Indien die kwessie nie op dié wyse opgelos kan word nie, kan die kieser van ander kanale, insluitend die skakelpersoon by die verskillende politieke partye, gebruik maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Judge Dredd ·

Vraag is – was dit nie vir die video? Sou daar enigsins ondersoek ingestel wees.
Watter stelsels is in plek om nog sulke voorvalle te voorkom?

Ja ne ·

Ja ne……jy gaan nie stem nie…maar na die tyd is dit die mense wat die meeste lawaai maak….deur nie te gaan stem nie is om vir enige ander party te stem….hulle kry n voorsprong..want op die einde gaan dit oor persentasies

jeff ·

Ek stem saam Jan jy kan kruisies trek dat jou vingers blou is maar as daar soveel korupsie al klaar is in die regering hoe word daar gedink dat as jy stem dat dit regverdig sal wees .

Rooi Jan ·

Ek stem saam, Jan, tydmors. Die ANC sal net met geweld onttroon word, soos in die res van Afrika.

Oom Okkert Stywe Arms ·

Ek kla nie die meeste oor ek nie gestem het nie, ek betaal elke maand belasting en sal daarom die meeste en hardste kla as die regering nie hulle werk doen nie.

Frank ·

Ja, die Demokrate het ook nie in Amerika gebodder om te stem nie, toe byt dit hulle so bietjie op ‘n plekkie waar hulle nie gebyt wou word nie…….. Dis maar wat gebeur as jy nie stem nie, jou stem tel inderwaarheid vir die oposisie. Viva Trump!

Delia ·

As jy nie stem…tel dan maar jou stem by die party vir wie jy nie wil stem.

Byl ·

Daar was niks met die proses verkeerd nie, geen bedoeling om te knoei nie, buiten dat die party-agent moes nie uitgehelp het nie, dis nou maar soos die prosedure werk, hou jou daarby, hulle stel dit nie in vir spek en bone nie.

Realis ·

Ek vermoed die uitslag van die verkiesing is reeds in moedertjie Rusland of China gepubliseer. Bokse langs die pad, bokse waarmee gepeuter word, stempels wat nie op is nie, partye wat nie voldoen aan die minimum reëls nie ens. ens.
Die klugspel gaan net aan en aan. (en almal hardloop stertswaaiend agterna)

Rooi Jan ·

Realis, die ANC gaan 68% van die stemme kry. Dan sal dit afwaarts aangepas word na 60% sodat dit darem regverdig lyk. Môre sal daar wel blankes wees wat in die tou gaan staan met blink ogies om ‘n “verskil” te maak. Na môre voel ek nog minder vir swartes wat van ellende krepeer.

Frank ·

“’n Troebel fontein en ’n vuile bron, so is die regverdige wat wankel voor die goddelose.” Spreuke 25:26
Julle stemlose outjies wankel deur nie julle kant te bring nie. Julle vergeet God is in beheer

Deona Aucamp ·

A nee a Maroela Media, waar kom julle aan ‘n “voorTsittende” beampte??

Mariné Lourens ·

Dagsê Deona Aucamp

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

remondo ·

ek wens so almal gaan stem al verknoei hulle die stem brief tenminste doen hulle die moeite , alles gaan oor persentasie stemme om die parliment te vul. Mense wat nie stem nie moet ook nie kla nie – as jy nie deelneem nie kan jy nie komentaar lewer nie—-klaar

Asb ·

Asb gaan stem asb asb asb vir enigiemand behalwe anc en verkieslik n afrikaanse party. Asb bring anc se persentasie net af.

Nuwe Generasie ·

Die wat so met trots se hul gaan nie stem nie… wil duidelik nie gehelp word nie. Hoe moet die Here ons help as ons nie eers ons self wil help nie. Lekker man, dis die tipe mentaliteit wat maak dat ons sit waar ons sit

LBS ·

Nuwe Generasie, net so! A no vote is an ANC vote. Dan moet hulle nie kla nie!

TLC ·

Ek weet wat ons almal weet
Maar stem gaan ek stem
Die wat nie gaan stem nie is die blikke wat meeste geraas maak
En dan gaan hul ons wat wel stem die skuld gee
Dis mos altyd iemand anders se skuld nooit hulle nie
Soos hul se wat jy saai sal jy maai

Right said Fred ·

@ Jan hierbo. Jy kan natuurlik maak soos wat jy wil, maar dis presies die reaksie wat die ‘vyand’ wil hê. Skep nog só ‘n paar insidente wat die sosiale media haal en hulle kry presies dit reg waarop hulle gehoop het.

BlinkStephaans ·

Ouens ek weetnie. Kan ons regtig die verkiesing in n klomp mense se hande los wat of knoei of nie weet wat hulle doen of skelm is? Moet ons nie maar aandring daarop dat die volgende verkiesing deur persone wat heeltemal onpartydig is beheer word? n Saamgestelde soan uit die buiteland. Kan ons regtig enigiets wat hier gebeur vertrou dat dit opreg en reg gedoen word. Daar is vandag spesiale stemme uitgebring. Daar is soveel aanmeldings van stembriewe wat nie die nodige stempels op het om geldig te wees. Dit is om van naar te word. Ons kan regtig niks in die regering van die dag se hande los en glo hulle sal dit reg doen. As n mense kyk na hul rekord van opgefoeste pogings… wat is die kans dat dié verkiesing vry en regverdig is?

schalk ·

Ag regering sit sommer 20 % by by kandidate wat20% vir wiskunde behaal en ander vakke dan kan hul universiteit toe gaan en dop .Hulle sit ook by en dop op hoogste vlak dis niks . eskom het net sy gat gesien nou sien ons ons ons sin. Alles onder vaandel van demokrasie en vryheid van spraak . Stem mense stem, swem Jannie swem, geniet die dag .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.