Kind (10) verdrink by Wildernis

Wildernis (Foto: GardenRoute.com)

Seestrome aan die Tuinroete het die lewe van ’n tienjarige kind geëis.

Die jong meisie van George is Dinsdag op die hoofstrand in Wildernis dood verklaar nadat sy in sterk sleurstrome vasgevang was.

’n Jong man (26) van George word intussen vermis nadat hy Dinsdag vir die laaste keer in die water in Victoriabaai gesien is. Daar is sedertdien geen teken van hom nie.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Wildernis sê lewensredders het Dinsdag twee tieners en die tienjarige kind – glo familie van mekaar – uit die water op die hoofstrand gebring nadat hulle weens sterk sleurstrome in die moeilikheid beland het.

Die een tiener was ongedeerd. Die ander tiener en kind was egter bewusteloos toe lewensredders by hulle kom.

Kardiopulmonêre resussitasie (KPR) is op albei uitgevoer, maar die kind is later dood verklaar. Die tienermeisie is op die toneel gestabiliseer voordat sy met ’n ambulans na ’n hospitaal vervoer is vir verdere mediese behandeling.

Die NSRI is intussen meegedeel dat die tienermeisie na verwagting ten volle sal herstel.

Jong man vermis

Die NSRI Wildernis is ook Dinsdagmiddag deur lewensredders na ’n strand in Victoriabaai ontbied waar hulle na ’n jong man gesoek het wat vermoedelik gaan swem en toe onder die water verdwyn het.

Niemand op die strand het egter in daardie stadium al ’n geliefde as vermis aangemeld nie.

’n Soektog is nietemin van stapel gestuur, maar daar was geen teken van die man nie.

Die man se vriende het later na vore gekom nadat hulle hul vriend ’n ruk lank nie op die strand gewaar het nie. Hulle was in dié stadium onseker of hy nog in die water is óf dalk al huis toe gegaan het.

Die polisie is uitgestuur na die man se huis in George om ondersoek in te stel, maar daar was geen teken van die jong man nie. Polisiebeamptes is later weer na die huis, maar hy het steeds nie teruggekeer nie.

’n Saak is sedertdien aanhangig gemaak en die soektog duur voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.