Kind ernstig beseer in ongeluk op N4

(Argieffoto: Hansie Linde)

Die N4-tolpad by Mjejana op pad na Komatipoort was laat Vrydagmiddag nog gesluit weens ʼn motorongeluk waarin ʼn kind ernstig beseer is.

Min besonderhede is in dié stadium beskikbaar, maar volgens Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, was ʼn noodhelikopter op die toneel om die kind na ʼn hospitaal te neem.

“Weens die ernstige aard van die beserings werk paramedici tans hard om die kind te stabiliseer voordat die kind na die naaste hospitaal geneem kan word,” het hy gesê.

Verkeer het intussen swaar opgehoop en motoriste word versoek om geduldig en versigtig te wees.

“Ons moedig motoriste aan om alternatiewe roetes te gebruik.”

Spoedvraat naby Schoemanskloof in hegtenis geneem

In ʼn afsonderlike voorval op die N4 naby Schoemanskloof het ʼn motoris se swaar voet hom Vrydagmiddag duur te staan gekom toe hy vir oortreding van die spoedgrens in hegtenis geneem is.

Volgens Mmusi het die man teen 190 km/h uur in 100 km/h-sone met ʼn BMW X5-sportnutsvoertuig gery.

Hy was glo van Johannesburg in die rigting van Mbombela op pad.

“Die spoedvraat is op borgtog van R3 000 by die Ngodwana-polisiestasie vrygelaat en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.