Kiwi-juwelier: Nie eens SA se misdaad is só erg

‘n Skermgreep van die laaste voorval by Haddadin se juwelierswinkel in Auckland, Nieu-Seeland. (Skermgreep: Newshub)

ʼn Juwelier van Auckland in Nieu-Seeland wat die afgelope sewe maande drie keer onder rowerbendes deurgeloop het, sê nie eens in Suid-Afrika is misdaad so erg nie.

Thabat Haddadin het aan die Nieu-Seelandse Newshub gesê sy winkel, Tj Handcrafted, is Maandagmiddag vir die derde keer beroof. Kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval wys hoe die aanvallers vertoonkaste stukkend slaan en juwele gryp.

Die aanvallers het gevlug en die polisie is steeds op soek na hulle.

Haddadin sê hy voel nie meer veilig om te gaan werk nie.

“Ons weet nie wat om te sê nie. Dit word iets wat elke oomblik kan gebeur. Om die waarheid te sê, ek het vyf jaar lank goud en diamante in Johannesburg verkoop en ek het nooit, ooit so iets daar ondervind nie.

“Ons praat van Johannesburg, waar daar ʼn geweldige hoë misdaadsyfer is.”

Volgens Haddadin het hy al in vier verskillende lande gewoon en nêrens het hy al so onveilig as in Nieu-Seeland gevoel nie.

“Ek het nog nooit so onveilig gevoel as in die laaste twee of drie jaar in Nieu-Seeland nie. Ek weet nie wat aan die gang is nie; ek voel net nie meer veilig nie.”

Nie net kos die rooftogte hom geld nie, dit is ook geweldig traumaties vir die werkers betrokke. Tydens Maandag se rooftog moes ʼn werker agter ʼn toonbank skuil. Volgens Haddadin is die werknemer verpletter. “Toe ek haar sien, het sy dadelik begin huil. Sy is ʼn jong vrou… om gedreig te word dat jy oor die kop geslaan gaan word, is nie ʼn grap nie.”

Die voorvalle het hom reeds duisende rande gekos en elke dag wat sy winkel gesluit bly, kos selfs meer. “Alles wat hulle uit die winkel geneem het en al die skade wat hulle aangerig het… Hulle het alles stukkend geslaan en al die bates verwoes.”

Al wat hy nou kan doen, het Haddadin aan Newzhub gesê, is om veiligheid by die winkel op te skerp. Hy vrees egter dit gaan nie genoeg wees nie.

Volgens die webwerf is Auckland die afgelope paar maande in die greep van ʼn misdaadvlaag. Polisiestatistieke wys dat inbrake tussen Junie verlede jaar en Mei vanjaar van 17 166 tot 21 457 opgeskiet het. Diefstalvoorvalle het in dieselfde tydperk van 49 680 tot 59 078 toegeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Daleen ·

Was dit in Suid-Afrika was die jong vrou dood gewees want hier is geen respek vir enige lewe nie

Aletta ·

Rerig. Ek dink hy moet mooi dink. Wanneer laas was hy in SA.

LANA is ELANè ·

Nou toe nou, kriminele is wêreldwyd, maar SA is ongelukkig baie baie geweldadig tydens misdaad.

Josua ·

Toemaar in Australia is dit net so erg, maar jy hoor nooit hiervan tot iemand kom kuier nie!

Pofadder ·

Ek dink jy verwar stories met feite. SA is byna in ‘n liga van sy eie in terme van geweldadige misdaad.

Harley Davidson ·

Hy moet aan erge geheueverlies ly of deurmekaar wees oor die twee lande suid afrika is die tuiste van misdaad en New Zealand die tuiste van die all blacks bobaas rugby spelers.

Conraad ·

Ja, en Harley Davidson is die beste motorfiets in die wereld – solank jy boepens het

Anel ·

Ja,nê! Die gras is nie altyd groener aan die anderkant van die draad nie. Hier het ons min of meer ‘n idee wie die misdadigers is en ons is, soos hulle sê”street smart”! Daar weet hulle nie en hulle is ook nie “street smart” nie! So, ja, kry maar vir julle.

Truth2bfree ·

My nefie was amper keelaf gesny deur dwelmbendes in Australia en my niggie is erg aangerand & verkrag in ‘n park buite Melbourne na haar oefensessie.
Hulle het ook maar hul uitdagings…
En ja, hulle het ook alarmsisteme, kameras en sluit hul deure.

Maritza ·

Nee wat ou maat, jyt geen idee wat in SA aangaan nie. Bly maar eerder waar jy is, knap net jou sekuriteit op

AmY ·

Hier by ons een mall word die een juweliers winkel ten minste drie ‘n jaar beroof.
Elke keer word daai werkers bitter hardhandig hanteer.
Een jong vrou se skouer is erg beseer omdat sy die paniek knoppie gedruk het.

Jan Seerot ·

Kan ons asseblief die demografie van die betrokke rooftogte, en dan ook van die rooftogte in die algemeen te siene kry?

Oujongvrou ·

Nee wat, hy kan nou wraggies nie die 2 lande vergelyk nie. Ons het n kind en suster in New Zeeland. As ek more kon gaan was ek weg. Ongelukkig op pensioen en te min geld. Ons was al in vele lande. New Zeeland tops.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.