Klag by MRK ingedien ná vrou in hospitaal sterf

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die VF Plus in Limpopo het ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK) teen die provinsiale hospitaal in Polokwane ingedien nadat ’n vrou vroeër vanjaar weens vermeende nalatigheid in dié hospitaal dood is.

Die vrou se familie voer aan dat die vrou (45) weens hospitaalpersoneel se nalatigheid gesterf het nadat hulle pleidooie om haar in die hospitaal se waakeenheid te laat opneem, glo op dowe ore geval het. Só het Marcelle Maritz, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus, Donderdag aan Maroela Media gesê. Die vrou se familie verkies dat haar naam nie bekendgemaak word nie.

Volgens Maritz is die vrou in April vanjaar met waterpokkies in die hospitaal opgeneem, waarna sy weer huis toe gestuur is. Die vrou is later weens komplikasies terug hospitaal toe waar sy op 10 April gesterf het nadat sy oor asemhalingsprobleme gekla het.

Volgens Maritz het die vrou gesukkel om asem te haal en haar familie het versoek dat sy in die waakeenheid van die hospitaal opgeneem word. Hospitaalpersoneel het glo aangevoer dat haar toestand nie van so ʼn aard is dat sy in die waakeenheid opgeneem moet word nie en sy is later in ’n algemene saal dood.

“Sy het vermoedelik versmoor,” het Maritz gesê.

Volgens Maritz is sy bewus van ’n soortgelyke geval in ’n ander hospitaal in die provinsie. “Dit is kommerwekkend dat al meer bewerings van wanpraktyke en [klagtes oor] onbevoegde mediese personeel teen staatshospitale gemaak word. In hierdie geval het ʼn persoon met haar lewe geboet daarvoor.”

Die MRK het ontvangs van die VF Plus se klag erken, het Maritz gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Burgermeester ·

Onbevoegdheid en nalatigheid, dit is wat jy kry as jy mense Kuba toe stuur om medies te swot.

JohanR ·

Miljoene het net dood en voudig nie ‘n keuse ander as om na ‘n staats hospitaal toe te gaan nie. Party is gellukkig om eie medies te he en na privaat hospitaal te kan gaan. ‘n Staats hospitaal is nie ‘n lekker plek nie, maar ons moet besef wat die ANC nou besig is met die NGV, gaan ons almal opeindig met slegte behandeling of nou staat of privaat hospitaal.

Willem ·

Mrk het nie tyd vir dit nie jag die Wes Kaap oor skole wat vroeg oop maK

PieterP ·

Ag ons is nie meer verbaas nie. cANCer het ‘n 1ste wêreld land deur die alie getrek tot rommelstatus in alles!

Yvonne ·

So tragies as mens dink die regering het hierdie hospitale almal in n puik toestand gekry..van die bestes in die suidelike halfrond…..mense soos die wat onbevoeg, onbekwaam en gewoonweg nie omgee nie is ons grootste vyand

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.