Klagte by OB oor vergunnings vir VAE-leier

Adv. Kholeka Gcaleka (Foto: Twitter)

Die African Transformation Movement (ATM) het ʼn klagte van wanadministrasie en magsmisbruik by die waarnemende Openbare Beskermer (OB), adv. Kholeka Gcaleka, ingedien nadat die president van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en sy gevolg glo miljoene rande betaal het om by die Bulembo-lughawe op Bisho in die Oos-Kaap te land.

Die ATM voer in sy klagte aan dat dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, verskeie wette misken het toe hy die Bulembu-lughawe vroeër die maand tot ʼn tydelike internasionale grenspos verklaar het. Dit sluit in wetgewing oor immigrasie en grensbeheer.

Oscar Mabuyane, die Oos-Kaap se premier, word ook by die klagte betrek omdat hy “oënskynlik druk op verskeie partye geplaas het om sy doelwit te bereik om buitelanders in die land te laat inkom sonder om die regte prosedure te volg”.

Maroela Media het vroeër berig dat pres. Mohamed bin Zayed al-Nahyan en sy gevolg, volgens berigte sowat 500 mense, verlede week by dié lughawe geland het nadat die VAE glo R20 miljoen betaal het om die lughawe, wat in onbruik staan, op te knap.

Die provinsiale regering hou egter vol die nodige prosedure is gevolg om goedkeuring te verkry vir die gebruik van die lughawe.

“In ʼn mediaverklaring wat op 12 April 2023 uitgereik is, beweer die minister dat hy op artikel 9(3)(b) van die Immigrasiewet vir sy verklaring [van die lughawe as toegangspunt] gesteun het, maar daar is niks in daardie artikel wat handel oor die verklarings van lughawens as grensposte nie,” lui die ATM se klagte aan die OB.

Die ATM sê voorts dat Motsoaledi ook geen verwysing na die nakoming van ander artikels in die Wet op Grensbestuur gemaak het nie, insluitend dat ʼn kennisgewing in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer moet word minstens 30 dae voordat hy so ʼn verklaring instel.

“Gegewe die vlaag oorhaastige goedkeurings van binnelandse sake en die departement van vervoer – wat boonop alles gelyktydig en basies op die vooraand van die VAE se landing plaasgevind het – is die ATM daarvan oortuig dat hierdie goedkeurings onreëlmatig was.”

Die OB word versoek om dringend antwoorde op onder meer die volgende te bied:

  • Het Motsoaledi en Mabuyane gehoor aan alle toepaslike wetgewing gegee?
  • Het Mabuyane gehoor aan alle voorskrifte gegee voordat hy die R20 miljoen aanvaar het om die lughawe op te knap?
  • Watter regulasies van die tesourie het Mabuyane gebruik om die geld te aanvaar?
  • Kan die doeanekantoor van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens bevestig dat alle goedere en buitelandse valuta by die lughawe verklaar is?

Die ATM eis voorts ook antwoorde op diere wat glo op die betrokke VAE-vliegtuig was, maar na bewering in KwaZulu-Natal afgelaai is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Ons is moeg en keelvol vir die mafia wat ons land regeer!

domheks ·

Snaaks dat cr nie daar was om hom te verwelkom nie. Of nee liewer ou cele…

Aggie ·

Ek is nie ‘n ATM aanhanger nie, maar hierdie keer het hulle my volle steun. Die berig is baie goed uiteengesit en ATM vra die regte vrae. Die dokter kom totaal verward voor, veral as hy hakkelend stotter op TV. Tyd dat sy vlerkies geknip word.

Amelia ·

Diere nee hier is weer n slang in die gras Hoekom kon hul nie soos enige iemand anders bv op or tambo land nie 20 miljoen vir lughawe ag nee man die mense dink ander is stupid en waar is die geld n ou hierdie mense is besig met dinge wat ons in die bollie gaan kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.