Klein JD sterk aan ná amper-verdrinking

JD Lange (Foto verskaf)

JD Lange, die een jaar oue seuntjie wat byna verdrink het op sy eerste dag by ʼn dagmoeder in Saldanha aan die Weskus, word stadig uit sy mediese koma gebring.

ʼn Woordvoerder van die familie, het Donderdag in ʼn Facebook-plasing gesê sy morfieninname word geleidelik verminder om hom uit sy mediese koma te bring. Hy word in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad behandel.

“Ons vra almal om saam met ons te bid vir hierdie vegtertjie van ons. Ons vra in Jesus se naam dat Hy hom sal beskerm en rustig sal maak.”

JD se ma, Jessica Lange, het bygevoeg JD het vanmiddag haar vinger vasgehou. “Hy wil nie los nie. Hy probeer om sy ogies oop te maak.”

Die hele familie is by JD en wag in spanning vir die oomblik dat hy uit sy koma sal kom.

“Ons wil weereens baie dankie sê vir die ondersteuning en gebede. Ek kan nooit genoeg beskryf hoe elkeen van julle ons tot dusver gedra het nie. Ons God is groot en hy stuur al sy engele om te help in nood.”

Maroela Media het vroeër berig Jessica, ʼn enkelma, het die naweek van die Kaap na Saldanha verhuis en JD Maandagoggend omstreeks 07:30 in Carien Möller (64), ʼn dagmoeder wat sy al jare lank ken, se sorg gelos. Dit was Jessica se eerste dag by ʼn nuwe werk, maar 40 minute later het sy ʼn oproep gekry dat JD amper verdrink het en op pad is na die hospitaal op Vredenburg.

Volgens Elana Wilde, Carien se dogter wat saam na die kinders kyk, het JD saam met die ander kinders sy pap geëet. Toe die kinders net daarna in die speelkamer bymekaar kom, was JD nie by hulle nie. Sy het onmiddellik almal na hom laat soek. Sy self het ʼn “swaar gevoel” gekry en om gehardloop na die swembad.

“Die swembad is omhein met ʼn hoë betonmuur en twee hoë houthekke met kinderveilige knippe. Ek het by die hek ingegaan en JD onderstebo in die swembad sien dryf,” vertel Wilde.

Sy het hom onmiddellik uitgehaal en met kardiopulmonêre resussitasie (KPR) begin terwyl sy om hulp geroep het. Haar man, Jimmy Wilde, het noodhulpkursusse by die werk gedoen en die KPR oorgeneem. Hy het ook met mond-tot-mond-asemhaling begin.

“ʼn Gesinsvriend het die ambulans gebel, maar toe dit nie gou genoeg by ons aankom nie, het ons besluit om self die sowat 11 km na die Life Weskus Privaat Hospitaal op Vredenburg te jaag,” sê Elana. “Jimmy het op die agterste sitplek met KPR en mond-tot-mond-asemhaling aangehou tot by die hospitaal. Hy het kort-kort hardop gevra dat die Here asseblief die kind se lewe spaar.”

By die hospitaal aangekom is JD per helikopter na die Rooikruis-hospitaal in Kaapstad gevlieg, waar hy in ʼn mediese koma geplaas is.

Jessica wil nie in hierdie stadium die skuld vir wat gebeur het op iemand se skouers plaas nie, maar vra dat mense eerder vir JD bid. Boodskappe oor sy toestand word op die JD Lange-blad op Facebook gedeel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Genadige Here dankie dat elkeen van ons lewe spreek oor Jd…U Naam ter ere

Agter die skerms..... ·

In U naam Heilige Vader laat JD asb net wakker word en normaal aangaan – beskerm hom met U bloed my God. Met U veiligheidsuitrusting. JD – mamma en pappa het jou nodig. Amen

Nella ·

‘n Ongeluk gebeur so gou. Net iemand wat al in so ‘n situasie was, besef hoe vinnig dit is. Ek is een van die wat die minste vinger kan wys. Die duiwel is listig en doen dinge wat ons nie wil he nie. Maar daar is Een wat sterker en beter en magtiger is wat die kleinman gesond gaan maak. Sterkte aan die mamma asook die dagmoeder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.