Kleinhandelaar hoor daar is ‘bom’ in winkel

Argieffoto van ‘n Checkers-winkel (Foto: Ashraf Hendricks, GroundUp)

Die Checkers-winkel in St George’s Square in George is Dinsdagmiddag ontruim nadat dit ’n bomdreigement ontvang het. Die dreigement blyk later vals te gewees het.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, sê ’n man het omstreeks 14:45 die winkel se foonnommer geskakel en gesê daar is ’n bom in die gebou geplant. Die man het aangevoer dat die bom binne enkele minute sou ontplof. Personeel en klante is terstond uit die winkel verwyder.

“Die George-polisie se bomeenheid en honde-eenheid is na die winkel ontbied,” sê Pojie.

“Geen bom is egter in die gebou gevind nie en die perseel is toe later veilig verklaar.”

’n Klag van ’n valse bomdreigement word deur die George-speurders ondersoek.

Die polisie vra nou mense om te help om die man wat die bomdreigement gemaak het, op te spoor.

Enigiemand met meer inligting kan AO J Malan by 044 803 4715 bel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

Maroela Media het verskeie kere die Shoprite Groep se hoofkantoor in Port Elizabeth genader om kommentaar oor die voorval te kry, maar kon teen die tyd van publikasie steeds nie die betrokke persoon in die hande kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.