‘Kleurryke hokkies bly deel van ikoniese St. James-landskap’

Foto: Suné van Heerden

Die kleurryke aantrekhokkies op St. James-strand in die Kaapse Skiereiland waarvan drie vernietig en twee gedeeltelik beskadig is in ʼn brand, sal herstel en opgeknap word.

Die oorsaak van Saterdagoggend se brand is steeds onbekend.

Volgens Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing, was die hokkies reeds voor die brand in ʼn slegte toestand as gevolg van ’n kombinasie van slytasie en vandalisme en is ʼn voorlegging vir die opknapping van die hokkies reeds opgestel.

“Die stad deel die publiek se siening oor die belangrikheid van hierdie hokkies as ’n ikoniese en historiese deel van die St. James-landskap en verseker die publiek dat hulle ook in die toekoms deel van die St. James-landskap sal uitmaak.”

Foto verskaf aan Maroela Media deur ‘n inwoner.

Daar is egter uitdagings om die hokkies te onderhou en om dit veilig te hou. Planne in die verband word tans hersien en sal aan die publiek bekendgemaak word sodra dit deur die stad goedgekeur is.

“In die lig van ons huidige maatskaplike uitdagings in openbare plekke raak dit egter toenemend moeiliker om hierdie soort toeganklike en oop openbare bates te behou en in stand te hou weens vandalisme, openbare veiligheidsrisiko’s en misbruik.”

Dié aantrekhokkies is wêreldbekend. Derduisende toeriste probeer jaarliks hier die perfekte foto vasvang voor die kleurryke hokkies op die strand en met die berge in die agtergrond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Ek het nog nooit in my lewe selfs eers ‘n gedagte gehad om iets af te breek of om iets af te brand. Eerstens as kind sou my Pa my boude lekker warm gemaak het, die polisie sou kom kuier het, en as volwasse het ek gou geleer dat my belasting geld betaal vir die geriefe wat ek in die lewe geniet, soos ‘n trein stasie en ‘n bus. Die hokkies doen niemand geen skade aan nie, maar daar kom iemand en steek hulle aan die brand. Nou moet ‘n paar nie net weer herbou word nie, maar ‘n manier moet gevind word om hulle nou veilig te hou. Soms is Suid Afrika nie ‘n lekker plek nie, of van die wat in hom bly is nie lekker nie!

Niklaas ·

Daar was seker vuur gemaak binne in die huisies teen die koue, deur haweloses.

Jaco ·

Gaan dit die moeite werd wees om die hokkies te herstel? Inperking tydens die coronavirus pandemie verbied mense dan om op strande te kom. So die herstelde hokkies gaan deur niemand gebruik word nie en sal nie as ‘n fotosessie plek kan dien nie, want niemand mag op die strand wees nie. En soos wat dinge vir my lyk, gaan BAIE goed van inperking die “nuwe normaal” word vir jare nog: toe strande, net 50 mense in die kerk, toe gimnasiums, wag in lang rye by winkels en die uiteindelike permanente toemaak van besighede in wit besit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.