Kleuter dood by skool: Ouers soek antwoorde

Marelze Etzinger. (Foto: Verskaf)

Sestien maande ná die dood van hul kleuter by ʼn kleuterskool in die omgewing, het ʼn egpaar van Pretoria steeds meer vrae as antwoorde.

Lize en Paul Etzinger se enigste dogter, Marelze, is in September 2018 dood, nadat sy onverklaarbaar by haar kleuterskool in Pretoria-Oos inmekaargesak en etlike minute lank ophou asemhaal het. Weens die gebrek aan suurstof na haar brein, is sy dae later weens erge breinskade in die hospitaal oorlede. Sy was toe amper vyf jaar oud.

Die egpaar wil nou skadevergoeding van die kleuterskool se voormalige eienaar eis omdat hulle meen dié het nie die korrekte stappe gevolg om die nodige mediese behandeling so gou moontlik vir Marelze te verseker nie. Die naam van die kleuterskool én betrokke eienaar is aan Maroela Media bekend, maar word op versoek van die ouers weerhou.

Lize (46), ʼn opgeleide verpleegkundige, vertel die eienaar het haar op 17 September om 14:10 gebel en gesê haar dogter het “flou geword”.

“Die manier waarop sy dit gestel het, het my laat dink my kind het net ʼn bietjie hitte-uitputting,” sê Lize. Toe sy egter by die skool aankom, tref sy haar kind leweloos op die kombuisvloer aan. “Sy het glad nie ʼn polsslag gehad nie. Geen van die onderwysers het haar ook op daardie oomblik probeer bybring nie,” sê Lize. Tot haar skok moes sy ook verneem dat niemand nog ʼn ambulans gebel het nie en sy moes self met haar dogter na Kloof Hospitaal jaag.

Dr. Angela Colquhoun, die pediater wat Marelze dié dag behandel het, sê die meisie het glad nie asemgehaal toe sy by die hospitaal aangekom het nie. “Ek skat sy was tóé reeds omtrent 45 minute sonder suurstof.” Net toe Colquhoun die tyd van dood wou aanteken, het die onmoontlike gebeur en Marelze se hart het weer begin klop. Weens ernstige breinskade het haar organe egter dae later begin oppak en sy is op 27 September oorlede.

“Die breinskade was ʼn direkte gevolg daarvan dat haar brein vir so lank afgesny is van suurstof,” sê Colquhoun. Die rede waarom Marelze aanvanklik ophou asemhaal het, kon nog nie finaal vasgestel word nie, maar Colquhoun sê dit wil voorkom of sy dalk kon verstik het.

“Ons voel as die skool anders opgetree het, ons dogter dalk nog sou geleef het,” sê Lize huilend. “Selfs as ek geweet het hoe ernstig dit was, sou ek my tas met mediese voorraad saamgevat het na die kleuterskool, of self die ambulans gebel het.”

Marelze Etzinger. (Foto: Verskaf)

Volgens Lize het die kleuterskool glad nie ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur nie. Die skool is boonop enkele dae ná Marelze se dood verkoop.

Die egpaar wag ook nog vir die nadoodse ondersoek om afgehandel te word. “Die toksikologieverslag, wat moet wys of sy op ʼn manier vergiftig is, gaan nog ongeveer tien jaar vat omdat die staat se laboratoriums só ver agter is met die toetse,” sê Lize. “Dán eers kan hulle besluit of iemand vervolg behoort te word.”

Oor die skadevergoedingseis sê Paul (48): “Dit gaan nie vir ons om die geld nie, maar iemand moet aanspreeklikheid hiervoor aanvaar. Kleuterskole is verantwoordelik vir ander mense se kinders en hulle moet besef hoe ernstig noodmaatreëls is.”

Zahn van Niekerk, ʼn opvoedkundige sielkundige en kenner van voorskoolse onderrig, sê elke kleuterskool behoort minstens drie persone in diens te hê wat opgelei is in die toediening van basiese noodhulp. Kleuterskole behoort ook onmiddellik met ʼn kind hospitaal toe te jaag met die geringste voorval. “Selfs ʼn ambulans vat te lank. ʼn Mens kan nie ʼn kans waag nie,” sê sy.

Vir die Etzinger-egpaar bring tyd nie genesing nie. “Elke jaar is daar ʼn nuwe mylpaal wat Marelze sou behaal, wat ons opnuut herinner dat sy weg is. In dié stadium wens ons ons lewe om, sodat ons saam met haar in die hemel kan wees.”

Die egpaar sê hulle gaan nie nog kinders hê nie. “Ons voel in elk geval dat nog ʼn kind nie die leemte gaan vul wat Marelze gelos het nie,” sê Paul.

Die voormalige eienaar van die kleuterskool is genader om kommentaar, maar wou nie insette lewer nie, aangesien die saak “deur die polisie ondersoek word”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

hoe swaar moet dit nie vir ouers wees om ‘n kind te verloor en begrawe, wat nog daarvan dat die ouers nie eers weet wat het gebeur om die kind te verloor nie, sterkte aan die ouers, mag julle antwoorde kry
ek bid vir julle en ek glo dat God julle sal ondersteun met julle verlies, sterkte en vertrou op Hom om julle by te staan

wilhelm ·

Dis n erge pyn en plekke wat na mense se kinders om sien moet als in hul vermoe doen om kind te red

Wilhelm ·

Geen ouer behoort n kind aan die dood af te staan nie. Dit is seker die ergste wat met n ouer kan gebeur! Slegs God se krag en genade kan jou hierdeur dra. Sterkte!!

Moedeloos ·

Sterkte vir die ouers. In die berig word genoem dat personeel noodhulp moet kan toepas en ook onmiddellik met kind na hospitaal te jaag. My moeder was in n tehuis en hulle het nie eens met die inwoners hospitaal toe gejaag nie. Ek bly 60km van haar af en ek moes gereeld (aangesien my moeder asma gehad het) deurjaag soontoe en haar ongevalle toegeneem het. Dan moes ons nog sit en wag ook vir n dokter. Ek voel dat ouetehuise nie die dokters moet laat kom nie maar onmiddellik die ambulanse bel sodat hul met pasient kan deurjaag want dan kry die pasient ook eerste voorkeur by noodgevalle. Hierdie personeel het die kundige opleiding om te kan weet dat dit nood is.

Louise ·

Dis so bitter tragies en so jammer of van hierdie geval te hoor, kan nie eers dink waardeur die ouers gaan nie. Ek is jammer, maar ek verstaan nie die die staat toegelaat word om 10jaar kans te kry om resultate bekend te maak. Ek is nie n kenner op die veld ne. Maar iewers se iets vir my loop dinge nie reg nie. Dit moet tenminste 6maande vat om die toetse af te handel. Maar dis omdat lmal toegelaat word om weg te kom met alles. as die staat nie kan voorkom met al die werk nie. Dan moet hulle maar betaal vir prvaat instansies wat hulle werk vir hulle kan doen. Sterkte aan die ouers, my hart gaan uit na julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.