Kleuter sterf ná honde-aanval: ‘Hy was ’n geskenk van God’

Christopher van der Merwe saam met sy sussie en ma. (Foto: Verskaf)

’n Gesin van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal is in rou nadat hul kleuter vandeesweek by familievriende se huis deur twee honde aangeval is en later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Christopher van der Merwe (3) is Dinsdag in die vroeë oggendure in ’n plaaslike hospitaal dood, enkele minute voordat hy na ’n teatersaal geneem sou word vir ’n noodoperasie.

Hy het kort vantevore nog na sy pa gevra, vertel sy ma, Christelle, aan Maroela Media.

“Hulle kon daardie laaste connection hê.”

Christelle vertel dat haar man, Carl, net verlede week met ’n nuwe werk begin het en vriende van die egpaar het ingestem om Christopher vandeesweek smiddae by die dagsorg te gaan haal en na hulle huis te neem voordat Carl hom later ná werk sou kom oplaai.

Die Van der Merwe-gesin. (Foto: Verskaf)

Christelle het egter Maandagmiddag ’n oproep by die werk ontvang dat Christopher deur die vriende se twee honde aangeval is en ernstige beserings, waaronder aan sy kop en nek, in die proses opgedoen het.

“My gedagtes het blank gegaan. Ek het uitgehardloop, maar nie geweet waarnatoe ek hardloop nie. Ek was histeries.”

Paramedici is omstreeks 16:32 na die huis in Glenwood ontbied waar Christopher aangeval is.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het intussen bevestig dat polisiebeamptes die middag ook na die toneel ontbied is. Die honde was in dié stadium so aggressief dat hulle ook polisiebeamptes bestorm het waarna die diere op die toneel van kant gemaak is.

Christelle vertel dat paramedici met haar aankoms op die toneel reeds besig was om Christopher te behandel. Hoewel die seuntjie in dié stadium kon reageer op vrae en sy naam aan paramedici kon bevestig, het die mediese personeel Christelle en Carl daarop voorberei dat Christopher baie ernstige beserings opgedoen het.

Hy is op die toneel gestabiliseer waarna hy na ’n hospitaal gehaas is waar dokters onverpoos die kind probeer red het. “Al die dokters en verpleegsters was rondom sy bed en het alles in hul vermoë gedoen om hom te help.

Christopher van der Merwe (Foto: Verskaf)

“Christopher was onder verdowing, maar die dokters het ons kans gegee om vinnig met hom te praat. Ons kon vir hom sê: Christopher, ons is hier. Ons is lief vir jou. Ons het vir hom gevra of hy ons kan hoor en hy het sy kop geknik. Ons het later gegaan en was by die deur toe Christopher weer na sy pa vra.”

Christopher is Dinsdag omstreeks 01:30 oorlede.

“Dit was net ’n ongelukkige en tragiese ongeluk,” vertel Christelle nou.

“Hy was my klein engeltjie. Hy was ’n geskenk van God. Dit is ook wat sy naam beteken – ’n offerande van God.”

Gwala het gesê ’n klag word teen die eienaar van die honde ondersoek terwyl daar ook met ’n geregtelike doodsondersoek begin is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Misky ·

Dit is so hartseer en my hart gaan uit na julle as ouers en familie. Alle sterkte en gebede vir julle in die moeilike tyd

lollapot ·

Christellie en Charl, julle het ‘n pragtigste klein seuntjie terug gegee aan Jesus. Onthou die liefde, die vreugde, die lag en die stoutwees vir altyd, maar moet ook nie kwaad wees vir die eienaars van die honde nie. Niemand kon voorsien wat gebeur het nie. Ek bid julle sterkte en genade toe.

Chantz ·

Dis verskriklik :(
Sterkte aan die familie. Mag God julle die rustigheid gee in julle harte en styf vashou in hierdie tyd en die pad wat nog voorle

Jakes ·

Ons innige meegevoel met die seuntjie se familie en vriende. Dis die ergste tragedie ooit om n kind te verloor.

Melanie ·

Ek kan my trane nie keer nie. So pragtige klein seuntjie. Rus sag tussen die engele

katerinadiekat ·

My hart is nou so seer, wat n lieflike ou seuntjie! My innige simpatie met die Van der Merwe gesin. So bitter jammer dat dit met julle gebeur het.

Antz ·

Sjoe, jy is ‘n sterk vrou Christelle! Ek het my kind net bietjie meer as 3 maande terug verloor, en kan steeds nie eers daaroor praat nie. Maar jy kan ek sien, is sterker as ek. Ek hou jou ook in my gebede! Snaaks, ek noem my dogtertjie of eintlik doen almal, ons Engelkind nes Christopher! Mag hy saam met Minette speel daarbo! Die 2 Engeltjies..

Katjie ·

My hart gaan uit an die ouers. Ek het my man onlangs verloor en ek weet dit is nie dieselfde nie, maar dit bly ‘n onbeskryflike verlies – soos ‘n ledemaat wat nie meer daar is nie. Mag Jesus julle toevou in Sy liefde.

Tanniepetoors ·

Dit is regtig baie, baie tragies. Innige simpatie met Van der Merwe familie en vriende. Dis n baie hartseer ding wat met julle gebeur het. Ek wens almal betrokke berusting en vrede toe.

Thea ·

Rus in vrede klein seuntjie. Mag die Here jou ouers en familie troos en vashou.

Sandra ·

My innige simpatie aan Christopher se familie wat hom so lief gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.