Kode oor grappies by die werk kan jou looi

Die gedragskode gaan egter selfs verder en sluit nou ook passief-aggressiewe teistering in. (Foto: pixabay)

Los maar die sarkasme, skinderpraatjies en oë wat rol tuis wanneer jy weer by die werk aanmeld – ingevolge ʼn nuwe gedragskode wat daarop gemik is om alle vorme van teistering in die werkplek uit te wis, kan dié gedrag jou in vet moeilikheid laat beland.

Die departement van arbeid en indiensneming het pas sy gedragskode van goeie bestuur in die Staatskoerant afgekondig. Die term “teistering” word nie in die Wet op Billike Indiensneming omskryf nie, maar word algemeen verstaan as dat dit byvoorbeeld ongevraagde gedrag is wat iemand se waardigheid aantas, of ʼn vyandige of intimiderende werksomgewing skep.

Teistering kan insluit geweld, fisieke, seksuele, emosionele of sielkundige mishandeling, asook geslagsgebaseerde misbruik of misbruik wat rasgedrewe is.

In die gedragskode word die spesifieke stappe uitgestippel wat ʼn werkgewer moet doen om teistering uit te wis. ʼn Werkgewer se versuim om stappe te doen wanneer ʼn bewering van teistering aanhangig gemaak word, sal die werkgewer ingevolge wetgewing aanspreeklik maak vir die gedrag van die werker – selfs al het die teistering net uit ʼn enkele voorval bestaan.

Heelwat gedrag kan as teistering gesien word. Dit sluit in die belediging van ʼn werker of die kwaadwillige verspreiding van gerugte, gedrag wat ʼn werker verneder, beledig of verkleineer, die weerhouding van werkverwante inligting of die gee van verkeerde inligting, die saboteer van iemand se werkprestasie, die uitsluiting van ʼn werkers van werkverwante bedrywighede, of druk op iemand om te bedank.

Die gedragskode gaan egter selfs verder en sluit nou ook passief-aggressiewe teistering in.

Dit sluit in negatiewe skinderpraatjies of grappies wat ten koste van iemand gemaak word, sarkasme, neerhalende oogkontak, gesigsuitdrukking of gebare, ʼn na-apery wat bedoel is om die spot met iemand te dryf.

Dieselfde geld vir doelbewuste pogings om iemand in die verleentheid te stel, sosiale uitsluiting, professionele isolasie of die doelbewuste sabotering van iemand se waardigheid, welstand, geluk, sukses en loopbaanprestasie.

Werkgewers se beleid oor teistering moet die spesifieke sanksies vir ʼn oortreder duidelik stel. Dit sluit in waarskuwings vir minder ernstige voorvalle, afdanking vir teistering wat selfs ná waarskuwings voortgesit word of vir ernstige oortredings en verplasing.

ʼn Werker wat kla oor teistering het ook die reg om ʼn strafregtelike aanklag aanhangig te maak of siviele stappe teen die beweerde oortreder in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

36 Kommentare

jongste oudste gewildste
domheks

Net nog wetgewing om afdankings makliker te maak! Wonder wie eerste gaan wees? our people – glo nie!

JM

Die “slagoffer” het sóveel moontlikhede om uit te kies. Tensy jy soos ‘n robot lyk en optree, kan jy van teistering aangekla word.

Philip

Dit is nou wragtig kinderagtig gelukkig is ek al jare lank afgetree.Ek het op my dag in groot konstruksie spanne gewerk wat aldag tussen wit en swart mekaar byname gegee het en met mekaar gespot maar tog as n eenheid uitsonderlike werk kon verrig.

Julius

Dit gaan eensydig toegepas word teen blankes. Wat van spraakvryheid?

Chris

Beuselagtig, en wie gaan dit toe pas, ek rol sommer my oe”