Koeëlvaste Volvo nou in SA

Volvo is wêreldwyd bekend om sy veilige motors en nou het die Sweedse vervaardiger dit nog ʼn stappie verder gevat.

Dit is geen geheim dat Suid-Afrika se paaie verskeie risiko’s inhou nie, of dit nou ontvoerings, kapings of klipgooiery is – en gepantserde voertuie word om dié rede al hoe gewilder.

Volvo het pas aangekondig dat hy ʼn spesiale gepantserde weergawe van sy XC90-vlagskip by sy plaaslike reeks gevoeg het. Die maatskappy bied dus nou vir uitgesoekte kliënte die opsie om die koeëlvaste weergawe direk van die luukse vervaardiger te bestel (mits jy die stewige prys daarvan kan oorleef).

Die gepantserde XC90 bied 360° se gesertifiseerde ballistiese beskerming sonder om gerief óf werkverrigting in te boet, sê Volvo.

“Alle pantsermateriaal word diskreet in die sportnutsvoertuig se bestaande ontwerp geïntegreer om die voertuig se insittendes te beskerm, sonder dat dit sigbaar is.”

Die pantserweergawe van die XC90 se onderstel, sowel as sy remstelsel, is geoptimaliseer om die bykomende gewig, sowat 300 kg, te ondersteun. Dit het tot gevolg dat die sportnutsvoertuig se fundamentele eienskappe grootliks onveranderd bly in vergelyking met dié van die standaard motor.

Daarbenewens bly al Volvo se talle standaard en kenmerkende veiligheidstelsels ten volle funksioneel.

Greg Maruszewski, besturende direkteur van Volvo Suid-Afrika, sê die gepantserde XC90 verteenwoordig die ideale keuse vir ʼn uitgesoekte groep spesiale klante wat ʼn verhoogde vlak van beskerming benodig.

“Ons het ʼn toenemende vraag na gepantserde voertuie wêreldwyd en hier in Suid-Afrika opgemerk, en het ons die afgelope paar jaar talle versoeke ontvang om ʼn XC90 met ballistiese beskerming te ontwikkel.

“Die toevoeging van hierdie spesiale model tot ons plaaslike reeks beteken dat ons nou ʼn fabriekgesteunde oplossing kan bied aan uitgesoekte individue wat daardie ekstra laag beskerming verlang.”

Aangesien die gepantserde XC90 ten volle deur Volvo goedgekeur is, bly die voertuig se standaard vervaardigerwaarborg van vyf jaar/100 000 km, sowel as die instandhoudingsplan, geldig.

Plaaslike pryse vir die spesiale pantserweergawe van die XC90 begin by R2,5 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

Die regering sal sekerlik vir elke mini-ster een aankoop. Want die bloulig brigade moet gehelp word.

Johann ·

Lekker da vir ‘n paar vir Phala Phala en Nkandla en Lutuli House.

Catherina ·

Isn’t it sad that, if we could afford it, we have
to resort to such measures.

Boon ·

Ek ry al baie lank Volvo, die beste , veiligste voertuig beskikbaar.

Karina ·

“Ek sien daar is goewerment mense se ogies wat blink vir die nuwe mouterkar” Ai tog, nou gaan dit Suid Afrika nog biljoene kos om al die ministers en agbares veilig te vervoer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.