Koffiehuis leer wesies belangrike vaardighede

Die koffiehuis by die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom. (Foto: Verskaf)

Danksy ʼn splinternuwe koffiehuis wat vir die publiek oop is, kan inwoners van die Abraham Kriel‑kinderhuis in Modimolle (Nylstroom) belangrike vaardighede aanleer en werksondervinding opdoen terwyl hulle met lede van die publiek in aanraking kom.

Die koffiehuis, wat in Desember tydens die jaarlikse liggiefees sy deure oopgemaak het, help die kinderhuis boonop met ʼn broodnodige finansiële inkomste.

Die kinderhuis bestaan reeds die afgelope 64 jaar en huisves tans 170 kinders wat wetlik in die kinderhuis geplaas is.  Die ouderdomme van die kinders wissel tussen agt maande en 18 jaar.

“Ek het reeds in 2019 begin om ʼn geleentheid te skep om ons kinders op te lei en ook om interaksie en skakeling met die gemeenskap te hê.  Dit is vir my belangrik om die gemeenskap op ons perseel te hê aangesien die gemeenskap ons altyd ondersteun en ʼn groot rol in ons voortbestaan speel,” sê Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis in Modimolle.

“Die groot dogters help met die voorbereiding van die kos en kinders bo 15 help met bediening van die kos. Ons het ook ʼn bakprojek waar die kinders leer om te bak en die gebak dan aan die gemeenskap verkoop word.  Sodoende word vaardighede aangeleer en die gemeenskap sien ons produkte op die rakke van die vulstasie en een van die koffiewinkels in die gemeenskap.”

Die jaarlikse liggiefees by die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle (Nylstroom). (Foto: Verskaf)

Volgens Van der Merwe het hulle reeds hierdeur waardevolle fondse ingesamel. Die koffiewinkel het aanvanklik slegs Sondagoggende vir ʼn paar ure oopgemaak, maar is elke aand tydens die liggiefees oop. “Ons hoop dat die koffiehuis voortaan elke naweek sal kan oopmaak en dat dit een van ons groter fondsgenererende projekte kan wees.

“Alhoewel ons nou al in Desember oop was, is daar nog bouwerk wat afgehandel moet word.  Ons sal dus eers toe wees sodat die finale bouwerk afgehandel kan word voordat ons met ons beplande naweektye kan voortgaan.”

Die geld wat ingesamel word, word eerstens aangewend om die uitgawes van die koffiewinkel te dek, daarna word dit gebruik om die bakprojek aan die gang te hou. “Indien daar nog geld beskikbaar is, sal dit vir uitgawes op die begroting aangewend word.

“‘Dankie Lottoland’ het ons bederf met ʼn wonderlike speelterrein en ʼn donateur van Australië het vir ons ʼn kleuterswembad geskenk. Die koffiehuis is dus ʼn ideale plek vir mammas met kleuters en laerskoolkinders om heerlik te ontspan.  Die kinders kan in die veilige, omheinde speelpark speel terwyl ouers iets drink en eet. Ons sal ook beskikbaar wees as ʼn partytjievenue aangesien die terrein hom uitstekend daartoe leen.”

Volgens Van der Merwe word 60% van die kinderhuis se begroting deur ʼn staatsubsidie gedek, en hulle moet dus plan maak om die ander 40% self te befonds.  “Ons jaarlikse liggiefees is ook een van ons groter projekte. Die gemeenskap bied ook self geleenthede soos gholfdae aan wat ten bate van die kinderhuis is.

Debietorders deur individue is ons ander grootste bron van inkomste.  Dit stel ons in staat om te begroot aangesien dit vaste maandelikse inkomste is wat ons ontvang en ons is uiters dankbaar daarvoor.”

Indien enige persoon die kinderhuis deur middel van ʼn debietorder wil ondersteun, kan hulle die kinderhuis se webtuiste besoek of die kinderhuis by 014 717 5264/5 of [email protected] kontak.

* Die liggiefees strek vanaf Saterdag 4 Desember tot Vrydag 24 Desember en is elke aand oop vanaf 18:00 tot 21:00. In dié tyd kan die koffiehuis op die perseel ook besoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.