Kokkedoor-faam se bejaarde ma sterf weens Covid-19

Adelheid van Vuuren (Foto: Verskaf)

“Sy was ’n formidabele vrou, ’n wonderlike ma en ouma.”

Só sal Leroux van Vuuren van Kokkedoor-faam sy ma onthou wat Vrydagoggend in ’n hospitaal in Potchefstroom weens Covid-19 oorlede is. Sy is amper drie weke gelede in die hospitaal opgeneem waar sy positief getoets het vir die virus.

Van Vuuren vertel sy ma, Adelheid van Vuuren (82), het middel Junie ernstig siek geword.

“Behalwe dat sy normale oumenskwale gehad het, wou sy nie eet nie en sy was heeltyd naar. Die ambulans het haar toe op 14 Junie kom haal. Sy is oorspronklik vir ’n buikbreuk opgeneem. Hulle het haar vir Covid-19 getoets, waar sy toe positief getoets het,” vertel ’n bewoë Van Vuuren aan Maroela Media.

Sy ma het verlede Sondagaand in ’n koma verval en sy het gesukkel om asem te haal. Sy het Vrydagoggend omstreeks 11:00 heengegaan.

Hy sê dit was vir hom en sy twee broers en twee susters baie wreed om nie hul ma te kon groet nie. Weens die Covid-19-protokol is hulle nie toegelaat om haar die afgelope drie weke in die hospitaal te besoek nie.

“Dit breek my hart om te dink dat sy stoksielalleen moes sterf. Ons hoop in ons harte dat sy vreedsaam gegaan het en nie gewonder het waar haar kinders is nie.”

Van Vuuren sê sy ma het die laaste ruk demensie gehad en kon nie verstaan waarom haar kinders haar nie tydens die afsonderingstydperk in die aftreeoord kon besoek nie. “Sy het gewonder waar haar kinders is. Sy het nie eers geweet wat Covid-19 is nie.”

Die personeel in die hospitaal was baie tegemoetkomend en het sy ma gehelp sodat die kinders met haar deur video-oproepe kon gesels. Die personeel het ook hulle stemboodskappe vir haar gespeel.

“Wat ons harte vrede gee, is om te weet sy is nou verlos van die afgelope twee weke se pyn en dat sy nou by my pa is.”

Adelheid en haar man, Christof, op hul troudag (Foto: Verskaf)

Adelheid het in ’n aftreeoord in Potchefstroom gewoon. Haar man, ds. Christo van Vuuren, is sowat vier jaar gelede oorlede. Hy was ’n predikant in die Gereformeerde Kerk. Die egpaar het saam in Potchefstroom gaan aftree, waar hy in 2016 oorlede is.

Volgens Van Vuuren het sy ma ’n fenomenale en vol lewe gehad. “Sy het baie mense se lewens aangeraak. Sy was nie net nog ’n dominee se vrou nie, sy was die perfekte dominee se vrou. Sy het voorgevat met alles. Sy het die kerk se orrel gespeel, sy het vroueverenigings gelei, skoolgehou, sy was die dominee se vrou en dan moes sy nog boonop vyf kinders grootmaak. Dit sit nie in enige iemand se broekspype nie.”

Adelheid was ook ’n onderwyseres. Sy het die laaste 25 jaar voor haar aftrede by Hoërskool Jeugland en Hoërskool Birchleigh in Kempton Park skoolgehou. Sy was aktief betrokke by die Voortrekkers en was in ’n stadium hoof van die Voortrekkerkommando Mooifontein. Sy het ook die revue en koor afgerig.

“Sy het talle kinders se lewens as onderwyseres aangeraak.”

Van Vuuren vertel selfs ná sy ma se aftrede het skole in Kempton Park haar nog gekry om af en toe onderwysers af te los.

“Jy kon haar altyd deur ’n ring trek. Sy het haar hoëhakskoene met trots gedra, net soos tannie Emsie Schoeman van haar sou verwag. Sy was baie gelowig, maar het ook die ligter kant van die lewe waardeer. Sy was kwaai, maar het ook ’n sin van humor gehad.”

As oud-Kokkedoor, sê Van Vuuren sy liefde vir kosmaak het hy ook by sy ma geleer. “My pa het my en my broers onder die motor probeer wys hoe om olie af te tap, maar ek het nie belang gestel nie. Ek het eerder belang gestel hoe my ma koeksisters en melktert bak.”

Van Vuuren sê sy ma het ook haar skoonkinders dadelik as haar eie kinders aanvaar. Sy eksvrou het in ’n boodskap aan die familie die volgende geskryf: “Wat ek altyd sal onthou, is hoe sy voluit geleef het. Skoonpa is meeste oggende op vakansie vroeg uit die bed gesleep om die sonsopkoms saam met haar te bewonder. Sy wou altyd stilhou om nog ‘n foto van Tafelberg te neem en sy wou by elke padstal of wynplaas inloer. Sy was ook lief vir proe, want sy sou aan almal se poeding wou proe. Sy het baie gelag en gesels en belang gestel. Sy was werklik ‘n Bybelse helper vir skoonpa gewees. Sy het hom geëer as vaderfiguur.”

Adelheid word oorleef deur haar vyf kinders en vyftien kleinkinders. Haar eerste agterkleinkind word die naweek gebore. Sy word Dinsdag op Christo se verjaarsdag begrawe.

Adelheid van Vuuren (links voor) saam met haar vyf kinders, Julialet Rens (regs voor) en van links agter Kobus, Chris, Anita en Le Roux (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.