Kolisi & kie dalk (voor-)Bokke by Laureus-toekennings

(Foto: FRANCK FIFE/AFP)

Die Springbokke – wat die indrukwekkende prestasie vermag het om twee agtereenvolgende Wêreldbeker-rugbytitels te wen toe hulle verlede jaar die Webb Ellis-beker in Frankryk verower het – en die nasionale kaptein, Siya Kolisi, is weereens vir hul prestasies beloon deur vir top-Laureus-toekennings benoem te word.

Die Springbokke, wat ook die Laureus- Wêreldspan van die Jaar-toekenning gewen het ná hul Wêreldbeker-oorwinnings in 2007 én 2019, is weer vir dieselfde toekenning genomineer.

Hulle sal teen die Manchester City-mansvoetbalspan, die Spaanse vrouesokkerspan, die Europese Ryderbeker-gholfspan, die Oracle Red Bull Racing Formule 1-span en Duitsland se basketbalspan te staan ​​kom.

siya kolisi

Siya Kolisi lig die Webb Ellis-trofee in 2023. (Foto: @Springboks/X/Twitter)

Kolisi, wat die kans getrotseer het deur te herstel van ʼn ernstige kniebesering wat hy in April opgedoen het om die Bokke in Oktober na hul tweede Wêreldbeker-rugbytitel agtereenvolgens te lei, is genomineer vir die Laureus- Wêreldterugkoms van die Jaar-toekenning.

Die Laureus-toekennings, wat die wêreld se grootste atlete, die inspirerende krag van sport en sy vermoë om lewens te verander vereer, erken en vier, sal in April in Madrid aangebied word.

Mark Alexander, SA Rugbypresident, is trots op die erkenning wat die Springbokke en Kolisi ontvang het vir hul dapper pogings om die eerste land te word wat die Wêreldbeker-rugbytoernooi vier keer wen en het hulle gelukgewens met hul onderskeie toekennings.

“Die Springbokke verdien elke greintjie erkenning wat hulle ontvang vir hul reuseprestasie verlede jaar in Frankryk, en ons is verheug om hulle in die ry te sien vir die Laureus- Wêreldspan van die Jaar-toekenning,” het Alexander gesê.

“Hul heldedade op en van die veld was merkwaardig, veral in die lig van hul moeilike pad na die Wêreldbeker-eindstryd.

“Maar die sege in Frankryk was meer as net ʼn 80-minute-rugbywedstryd. Dit was ʼn triomf vir Suid-Afrika – in nasiebou én in sosiale kohesie – en ons hoop dat die uitwerking van die Bokke se sukses deur die sport sal bly straal en na ander sportkodes in die komende jare sal oorspoel.”

Alexander het ook vir Kolisi geprys, wat ná ʼn dramatiese herstel van ʼn ernstige kniebesering, wat baie mense gedink het sy Wêreldbeker-rugbyhoop sou kelder, danksy harde werk en intense rehabilitasie aan die voorpunt was om die span deur sy voorbeeld op die veld te lei.

“Siya se harde werk en vasberadenheid om vir die Wêreldbeker te herstel, en die feit dat hy hierdie prestasie bo alle twyfel kon behaal, was besonders,” het Alexander gesê.

“Dit verg ʼn vegter om iets so merkwaardig te doen, en daardie reis het dit selfs meer buitengewoon gemaak om hom die beker vir die tweede keer agtereenvolgens te sien lig.

“Ons is baie trots op die Springbokke en Siya, en ons wens hulle sterkte toe vir die toekenningseremonie.”

(Foto: @Springboks/X/Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Ek neem aan geen ander speler sou kon vermag wat Kolisi vermag het nie en sk neem aan die bokke sou nooit die wêreldbeker gewen het sonder Kolisi nie, o ja en Rachel was natuurlik sy inspirasie.

SjN ·

Hoekom een spesifieke speler so ophemel, dit is mos immers n spansport.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.