Komitee gaan met of sonder OB se samewerking ondersoek afhandel

Die geskorste Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die parlementêre komitee wat moet bepaal of die geskorste Openbare Beskermer (OB) adv. Busisiwe Mkhwebane geskik is vir haar pos, is van plan om sy ondersoek af te handel, met of sonder Mkhwebane se samewerking.

Qubudile Dyantyi, voorsitter van die artikel 194-komitee, het Vrydag ʼn addendum tot die bestaande riglyne vir die komitee se werk uitgereik.

Daarin is verdere besonderhede gegee oor die proses wat die komitee nou sal moet volg aangesien hy voortdurend belemmer word om sy grondwetlike verpligtinge na te kom.

Die addendum wys onder meer daarop dat vrae wat lede van die komitee vir die OB het, skriftelik gestel sal word. Mkhwebane kan dan kies om van die vrae mondelings of skriftelik onder eed te antwoord.

“Indien sy versuim om die gekose vrae mondelings teen die gegewe datum te beantwoord, sal dit aanvaar word dat sy verkies om dit skriftelik te beantwoord,” sê Dyantyi.

Die addendum laat Mkhwebane ook toe om enige bykomende beëdigde verklarings of dokumentasie onder eed in te dien ter ondersteuning van deel B van haar skriftelike verklaring of voortspruitend uit die getuienisleiers se aanbiedings aan die komitee wat in April plaasgevind het.

Dit kom nadat Mkhwebane nie met deel B van haar verklaring kon voortgaan nie nadat die komitee gedwing is om skielik in Maart die verrigtinge te onderbreek.

Ingevolge die addendum sal die OB, ongeag of sy op die gestelde vrae gereageer het, die geleentheid gegee word om ʼn slotbetoog te lewer. Sy sal ook op die komitee se konsepverslag kommentaar kan lewer voordat dit in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê word.

“Indien Mkhwebane versuim om die vrae mondelings en/of skriftelik te beantwoord, om ʼn skriftelike en/of mondelinge slotbetoog te verskaf of om kommentaar op die konsepverslag te lewer, sal dit aanvaar word dat sy verkies om dit nie te doen nie,” sê Dyantyi.

“Die komitee sal dus nie verhinder word om te beraadslaag en sy bevindinge te maak op grond van die getuienis voor hom nie.”

Lede van die komitee kan nog vandeesmaand hul vrae aan Mkhwebane stel, maar Dyantyi verwag dat die komitee se werk in dié saak teen 28 Julie afgehandel sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.