Kommer ná moord op aanklaer buite hof

(Argieffoto: Kent Williamson)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is uiters bekommerd oor die moord op ʼn KwaZulu-Natalse aanklaer.

Lonwabo Booi (36) is Woensdag omstreeks 09:00 buite die Umlazi-landdroshof doodgeskiet. Hy was daarheen op pad om ʼn saak te hanteer.

Twee mans het na bewering uit ʼn voertuig geklim en luidens berigte op Booi losgebrand. Hy is glo etlike kere in die bolyf getref en het op die toneel gesterf.

Adv. Elaine Zungu, direkteur van openbare vervolging in KwaZulu-Natal, het die moord op Booi as ʼn “tragiese gebeurtenis” bestempel en sê alle Suid-Afrikaners behoort dit ernstig op te neem. Zungu sê die voorval is ʼn aanval op die oppergesag van die reg en diegene wat hul lewe gee om dit te handhaaf.

“Ons betuig ons diepe medelye met mnr. Booi se familie, vriende en kollegas. Hy sal diep gemis word. Mag sy siel in vrede rus,” sê Zungu.

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, het die moord ook ten sterkste veroordeel.

“Die toename in aanvalle op diegene wat veg vir geregtigheid in ons land behoort ons almal te bekommer. Ons moet die beskerming van amptenare in die strafregstelsel, fluitjieblasers en getuies beduidend verbeter. Die oppergesag van die reg hang hiervan af. Die toekoms van die land hang hiervan af – en ons is dit verskuldig aan hierdie dapper mans en vroue,” sê Batohi.

Batohi sê dit gaan egter ʼn grootse poging deur verskillende belanghebbendes vereis – en die tyd daarvoor raak al hoe minder.

Batohi het aanklaers ook verseker dat hul veiligheid van die grootste belang vir die NVG is. Bykomende veiligheidsmaatreëls sal waar nodig in werking gestel word en dit sal afhang van individuele sake.

Die NVG sê hy vertrou dat die ondersoek na Booi se dood voorrang sal geniet en diegene verantwoordelik vir die grudaad aan die pen sal ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elizabeth

Intimidasie. Niks minder as dit. Hoop dit is 72?uur saak. Innige simpatie met die familie. ñ Lewe in SA het niks meer waarde vir kriminele. Dit het só maklik geword????????????????

Shakespeare

NVG. Ek dink julle moet BAIE bekommerd wees oor die hele KZN en ons onbevoegde SAP. Hoekom is Zuma en sy kinders nie al in die tronk nie. Julle doen julle werk pateties.

Sarel

Ministet van Justisie en sy ewe knie Bheki Cele moet deur bevoegde mense vervang word.

Harley Davidson

Dit kan weereens toegeskryf word aan die onvermoë van die polisie om hulle werk te doen.

Vryheid, Gelykheid & Geregtigheid

‘n Doeltreffende Suid-Afrikaanse Kriminele Regstelsel is ‘n onontbeerlike pilaar vir ‘n ware demokrasie, geregtigheid, vrede en vooruitgang. Hoe doeltreffend en effektief is die SA kriminele regstelsel soos gemeet teen welke internasionaal erkende kriteria en standaarde? Haal nou uit en wys! Ek daag die leierskappe van elke been van die SA kriminele regstelsel uit om ‘n omvangryke “Custmer Satisfaction Surveys” regdeur SA deur onafhanklike internasionaal erkende assessors te laat doen en in die openbare domain te publiseer sodat SA burgers kan bepaal in welke mate SA burgers tevrede is met die dienste gelewer. Die Baldrige Excellence Framework for Performance Excellence behoort… Lees meer »