Kommer oor openbare werke se tenders van R82 miljoen

(Foto: Itumeleng English/ANA)

Die VF Plus is uiters bekommerd oor die departement van openbare werke se besteding en klaarblyklike vermorsing van geld tydens die Covid-19-tydperk.

In ʼn geskrewe vraag van die VF Plus aan Patricia de Lille, die minister van openbare werke, oor of die betrokke departement enige tenders toegeken het wat verband hou met die Covid-19-pandemie en of daar afgewyk is van die standaard-verkrygingsprosedures, het De Lille geantwoord dat daar wel afgewyk is van prosedures weens die ramptoestand.

Ingevolge artikel 27(2)(L) van die Rampbestuurswet (nr. 57 van 2002) en die regulasies van die nasionale tesourie, word daar voorsiening gemaak vir die afwyking in die noodverkryging van sekere dienste, items en goedere, soos in haar antwoord vervat.

Philip van Staden, woordvoerder van die VF Plus, sê egter minister De Lille se antwoord laat rooi ligte flikker oor die geld wat bestee is. Hy het die volgende enkele voorbeelde aangehaal:

  1. Die verkryging van 1 000 outomatiese handreinigers vir die Kaapstadse streekkantoor van die departement vir ʼn bedrag van R3 864 000 (R3 864 per eenheid).
  2. Die sterilisering van ses landdroskantore in die Durban-gebied vir ʼn totale bedrag van R10 235 495 (R1,8 miljoen in die Midlands-distriksmunisipaliteit, R1,8 miljoen in uMgungundlovu, R1,8 miljoen in eThekwini, R1 050 448 in Ugu, R1 878 831 in eThekwini en R1,7 miljoen in die Zululand-distriksmunisipaliteit).
  3. Die sterilisering van ʼn gebou in Pretoria vir die bedrag van R914 147 en nog ʼn gebou, ook in Pretoria, vir R553 631.
  4. Handreinigingsvloeistof vir die departement se hoofkantoor vir die bedrag van R9 085 000.
  5. Die verkryging van 65 outomatiese handreinigers vir die Kimberley-streekkantoor vir ʼn bedrag van R657 162 (R10 110,18 per eenheid)
  6. Die verskaffing van sanitêre dienste vir een jaar vir die bedrag van R994 529 aan die Mmabatho-streekskantoor.
  7. Die verskaffing van farmaseutiese maskers vir die Pretoria-streekkantoor vir die bedrag van R2 132 000 (dit is nie duidelik hoeveel maskers bestel ter sprake is nie).
  8. Die oprig van infrastruktuur vir die Salvokop-kwarantyngerief in Pretoria teen ʼn bedrag van R1 333 348.
  9. Die Beitbrug-grensdraad teen R40 miljoen (wat sedertdien gevandaliseer is).
  10. IT-, video- en sekuriteitsdienste by die departement se hoofkantoor teen ʼn bedrag van R12 501 698.

“Die totale bedrag wat deur die departement gebruik is in die Covid-19-tydperk vir die noodbesteding sonder om van die gebruiklike verkrygingsprosedures gebruik te maak, beloop R82 706 925,” het Van Staden gesê.

“Dit wil voorkom of daar in hierdie tyd skreiend misbruik gemaak is van die afwyking in die normale verkrygingsprosedure en dit is veral nie duidelik of die betrokke maatskappye in staat is om wel die dienste te kan lewer nie.”

Hy het bygevoeg daar is by die VF Plus geen twyfel nie dat dit die weg baan vir grootskaalse korrupsie.

“Die party sal onder meer wil sien hoe lyk die outomatiese handreinigers wat R3 864 elk gekos het. Hierdie inligting moet ook harde vrae laat opklink oor gedwonge kwarantyngeriewe waarvoor groot bedrae geld bewillig is terwyl dit in ʼn haglike toestand is en nie aan gesondheidstandaarde voldoen nie. Dit wil voorkom of die minister in hierdie stadium geen beheer het oor haar departement se besteding nie en die VF Plus sal toesien dat sy verantwoording doen vir alle uitgawes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

marius ·

Het enige iemand iets anders verwag ? Vuil kloue wat ingeslaan word sonder om te werk sal nooit
verdwyn nie .

Gemaskerde Sopbeen ·

Behalwe nou vir die hoenderhokdraad en die laaste eenetjie op die lys vir IT en so, moet ek darem tot Antie Pat se verdediging byvoeg dat dit darem ‘n baie skoon Department is.

Pieter ·

Dit is nou een ding wat julle komuniste baie goed kan doen en dit is plunder.

Morné ·

Sy wil net haar naam skoon kry, die dat sy al die geld mors op outomatiese handreinigers. Meskien moet iemand haar net inlig jy was nie daai tiepe vuil af nie.

Jan ·

Ek herhaal maar net wat ek reeds na die heiningdebakel gese het. Elke ding wat De Lille se department in die inperking gedoen het dui op korrupsie

Jack ·

Sy was al voorheen voor stok oor geld geneem vir persoonlike uitgawes aan haar woning as ek reg onthou. As al die syfers waar is gaan sy bloot voort op die anc manier en niks sal daarvan kom nie. Sonraak die skelms net ryker en elke volksramp is n geleentheid om kits miljoeners te skep. Lekker plek die.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.