Kommer oor regering dalk data wil nasionaliseer

(Grafika: Bethany Drouin/Pixabay)

Die regering se voorgestelde Cloud and Data Policy mis die punt – en is meer geneig om plaaslike ondernemings te benadeel. Dit is volgens Sakeliga in kommentaar wat aan die departement van kommunikasie en digitale tegnologieë voorgelê is.

Sakeliga se kommentaar volg op die publikasie van en oproep vir kommentaar deur die departement op ‘n onlangse konsep National Policy on Data and Cloud, wat daarop gemik is om talle regulasies en vereistes vir data- en cloud-dienste daar te stel.

Volgens Sakeliga bevat die konsepbeleid verskillende beswarende ingrypings, waaronder duur mandate vir die duplisering van data-opberging, die aanwys van data wat plaaslik gegenereer word as “eiendom van Suid-Afrika” en die uitbreiding van SEB in die ITS-sektor.

Die organisasie is veral bekommerd oor ‘n skynbare beleid vir data-nasionalisering. “Data-nasionalisering is die soort regulatoriese oorskryding wat burgerlike en sakegroepe volledig behoort teen te staan,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Volgens Daniel du Plessis, Sakeliga-regsontleder, loop die regering die risiko om ernstige ekonomiese skade te veroorsaak. Vorige foute deur die regering, soos vertragings by die toewysing van radiospektrum, het ekonomiese ontwikkeling aansienlik belemmer. “Dit is baie duidelik dat die aannames van die regering nie veel verband hou met die huidige stand van die mark nie. Lomp pogings om swak beleid toe te pas, sal waarskynlik net ‘n merkwaardige suksesvolle en innoverende bedryf noodlottig ontwrig.”

Sakeliga is nie oortuig van die regering se bewering dat addisionele ingryping nodig is nie. “Vooruitgang in tegnologie beteken dat KMMO’s toegang het tot wêreldwye infrastruktuur – en teen ‘n fraksie van die koste,” voeg Du Plessis by.

“Hierdie mark werk; dit is baie mededingend en ontwikkel vinnig. Suid-Afrika loop die risiko om hierdie sukses mis te loop en plaaslike ondernemings en gevestigde maatskappye in ʼn agterstand te laat om met hul internasionale eweknieë te kompeteer.”

Hy sê talle plaaslike maatskappye maak ruim gebruik van internasionale diensverskaffers en die doel van die konsepbeleid is grootliks om kommersiële verhoudings met swaar regulatoriese vereistes in gevaar te stel.

“Alhoewel die Suid-Afrikaanse regering plaaslike mededingendheid wil verbeter, is dit onwaarskynlik dat lomp regulatoriese voorstelle dit sal moontlik maak. Die waarskynlikste uitkoms is om Suid-Afrikaanse maatskappye internasionaal minder mededingend te maak. Gegewe hoe maklik hierdie maatskappye kan verhuis, is dit nie duidelik waarom baie hoogs mobiele IT-ondernemings in die land sou bly nie.”
Lees die volle kommentaar hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter ·

Regering kan hulle self nie eens beheer of hulle mense nie, hoe gaan hulle met data maak- Klink weereens na n groot bedrog / Skelm spul.

Persheks Adri ·

Nee ons data is veilig soos dit is en dis PRIVAAT hulle het niks met dit te doen nie voetsek!

Dawie ·

Dat die regering oral krap waar dit nie jeuk nie en hulle neuse indruk waar hulle nie moet nie, weet ek wel. Ek is egter te leek om te verstaan wat hierdie aksie van hulle in die praktyk gaan beteken, of die artikel se verduideliking is nie goed genoeg nie.

Renier johannes ·

Hulle wil alles he maar niks werk wat hulle het nie

Suzette ·

Wat gaan aan met hierdie regering – hulle gaan net aan met vernietiging van alles in hierdie land – en hulle weier om na raad te luister. Hulle SIEN hoe alles ten gronde gaan, maar hulle gaan net eenvoudig voort. Hulle wil alles nasionaliseer en NIKS daarvan was nog ‘n sukses nie. Wat moet gebeur voor hulle tot hulle sinne kom? Woorde ontbreek my – dit gaan my verstand te bowe.

Tanniepetoors ·

Die ANC-regering bevorder nie vooruitgang en ontwikkeling nie, hul verhoed en beperk dit op elke vlak. Dit pas hul dat meer as halfte van die bevolking onder die broodlyn leef op SASSA-voordele wat kamtig van die.wonderlike ANC af kom. Enigiets wat werkloosheid en vooruitgang kan stuit word met haas en spoed geïmplimenteer. Verfoeilike politiek.

Pietertjie ·

Toe ek die berig begin lees, het ek vir ‘n oomblik gedink dis 1 April.

pompies ·

Nog n bewys hulle wil alles sentraliseer en sodoende kan hulle dan regeer tot die wederkoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.