Kommer oor ‘slagting’ op KZN-paaie

Die ongeluk op die N11 naby Ladysmith het die lewe van sewe mense geëis (Foto: Suburban Control Centre, Facebook)

Die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in KwaZulu-Natal, Jomo Sibiya, het Sondag sy kommer uitgespreek oor die slagting wat die afgelope naweek op die provinsie se paaie afgespeel het.

Altesaam 18 mense het Saterdagaand in twee afsonderlike ongelukke op onderskeidelik die R617 en die N11-snelweg in die provinsie omgekom.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is sewe mense dood en vier beseer, onder wie twee kinders, toe ʼn bakkie en twee ligte voertuie gebots het. Die ongeluk het omstreeks 18:30 op die N11 buite Ladysmith plaasgevind.

“Met paramedici se aankoms op die toneel het hulle die drie voertuie in die middel van die pad aangetref. Pasiënte het oral op die toneel gelê,” sê Meiring.

Ses mense is op die toneel dood verklaar terwyl ʼn sewende persoon later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Altesaam 11 mense het tydens die ongeluk noodlottige beserings opgedoen (Foto: Midlands EMS, Facebook)

Die ander vier beseerdes, ʼn vrou en twee kinders, ʼn seun van 13 jaar en meisie van vyf jaar, is in ʼn kritieke toestand hospitaal toe geneem vir verdere mediese behandeling.

Maroela Media het vroeër berig 11 mense het noodlottige beserings opgedoen nadat vier voertuie omstreeks 21:30 op die R617 by Merrivale gebots het.

Onder die oorledenes was ʼn polisiebeampte.

Daar word beweer dat die bestuurder van ’n minibustaxi beheer verloor en teen die padversperring vasgery het, wat tot ’n tweede, afsonderlike ongeluk gelei het.

Sibiya het Sondag bevestig dat ʼn 12de persoon Sondag in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Die LUR het die oorledenes se families asook die beseerdes in die hospitaal besoek.

“Ons dink aan die families in hierdie moeilike tyd en mag hulle hul krag in die Here vind,” het Sibiya gesê.

“Ons moet versigtig op die paaie wees en die pad respekteer. Ons kan nie so baie lewens op die paaie verloor nie.”

Die omstandighede van albei ongelukke word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

T-Man ·

Ek dink dit is beter vir die LUR om te bedank so ook die minister van vervoer…

Nie Verbaas ·

Gaan kyk maar eers hoeveel mense wat motors bestuur het werklike geldige rybewyse.

Swerwer ·

Daar is nie meer woorde nie………………………………die hel is los in ons land.

gpsa ·

Is daar nog iets soos padreels? Taxis het almal mooi gewys alle reels is opsioneel. Volg dit waneer jy lus voel.

Hennie ·

Verban alle taxi’s! As mense doodgeskiet word, kry vuurwapens die skuld. Pas dieselfde logika toe op taxi’s!

Johan ·

Ironies dat een van die oorledenes ‘n polisieman is! Hulle is oral waar hulle nie moet wees nie.

SjN ·

Onverskuldige padgebruik is die oorsaak, steek verby op sperstrepe ens.

Surfer ·

Party van ons (hulle) het nie jare se bestuurders vernuf nie en kan ook nie mooi 3D of op n kronkel wit lyn kyk nie. Dan is party lisensies nog agter die truksvei boom ook gekoop.

Roek ·

Hulle kan nou maar maak soos hul wil, die rede en die oorsaak is die Bestuurders lisensie toets sentrums, daar is geen beheer en toesig nie, almal is kop in een mus!!
was daar en het dit beleef, as jy nie in is nie werk hul jou sommer gou-gou uit !!

H.A. ·

Bring die spoed grens af na perdekar spoed, dit sal beslis baie help.

Pietertjie ·

Wat van meer verkeersbeamptes met spoed-kameras op die reguit, oop stukke snelweë? Ook net bedags, want snags is dit te gevaarlik.

Nico ·

Baie van hierdie ongelukke is die bestuur van ‘n geldige bestuurs lisensie stop hierdie nuwe idee van die rooi L , want die wat dit op die voertuig het is glad nie bevoeg om agter ‘n motor se wiel in te klim nie, dan is daar nog die gebruik van selfone, dronk bestuur, die minag van die verkeers reës die verby daan op sper strepe wat nie weet wat die volg afstand is nie, wat gaan die minster van vervoer nou doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.