Kommer oor trosuitbrekings in Oos-Kaap

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Dept. van gesondheid)

Daar word dringend in die Oos-Kaap ingegryp waar Covid-19-gevalle die afgelope paar weke bly styg het.

Die provinsie het op ʼn week-tot-week-grondslag ʼn styging van 50% in bevestigde Covid-19-gevalle gehad.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Dinsdag met amptenare in die provinsie vergader in ʼn poging om die stygende virusgetalle in bedwang te probeer bring.

“In ʼn stadium het die hele land ʼn styging ondervind en die getalle het ʼn plato bereik. Die meeste provinsies het steeds hoë syfers en hulle probeer steeds om dit af te bring ná die eerste vlaag – maar in die Oos-Kaap is anders,” het Mkhize gesê.

“Daar is nou nuwe trosuitbrekings waarvan ons sommige aggressief kon bestuur. As ons dit nie doen nie, is dit die begin van die pandemie wat buite beheer raak,” het Mkhize gewaarsku.

“Dit is steeds moontlik dat ons dié vlaag kan onderdruk en ʼn oplewing kan vertraag.”

Volgens die minister moet daar nou in die gemeenskap gewerk word om te verseker infeksies word verminder. Verskeie maatreëls is reeds ingestel in ʼn poging om die vlaag te stuit.

Een van dié maatreëls is die versterking van personeel in die provinsie.

“Ons het ooreengekom dat ons die Kubaanse dokters moet verskuif en meer steun van Dokters sonder grense moet kry om die plekke waar ons meer dokters benodig, te versterk. As ons na ander dele van die land moet gaan en sê ons benodig soveel dokters om die Oos-Kaap te help, moet ons dit doen,” het Mkhize gesê.

“Ons het die getal verpleërs wat tydens die toename benodig is verhoog. Ek … het gehoor [die provinsie] het sommige van die verpleërs verloor. As daar ʼn probleem met ʼn tekort aan verpleegpersoneel is, moet dit aandag kry.”

Mkhize het ook benadruk dat die tydperk vandat ʼn Covid-19-toets gedoen is totdat die uitslag beskikbaar is, nie vertraag moet word nie.

Die minister het gesê minstens is daar nie in hierdie stadium ʼn probleem met die verspreiding van persoonlike beskermingstoerusting na werkers nie.

Uitgeputte personeel is egter ʼn enorme kopseer.

“Ons het gevra dat alle provinsies ʼn plan uitwerk wat personeel help.”

Mkhize het gesê die emosionele druk waaronder mense werk en die hoeveelheid inligting wat hulle moet verwerk – en die mate waarin hulle behoorlik kan rus – kan nie ligtelik opgeneem word nie.

Die probleem met groot getalle mense wat saamtrek by tavernes, straatpartytjies en feeste – terwyl daar glad nie aan Covid-19-regulasies voldoen word nie – is ook onder Mkhize se aandag gebring. In talle van die gevalle het mense glad nie maskers gedra nie en ook nie ʼn sosiale afstand gehandhaaf nie.

Mkhize het gesê sakeondernemings en organisasies wat nie aan voorkomende Covid-19-maatreëls voldoen nie, moet beboet of gesluit word.

Die Oos-Kaap het teen Maandagaand 108 993 bevestigde gevalle van die virus gehad. Altesaam 4 086 sterftes in die provinsie is bevestig en 96 300 mense het reeds van die siekte herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Gaan praat met julle taxi best want hulle maak soos hulle wil. Julle ANC is mos bang vir julle taxi broers

Jacobus ·

In een opsig akuraat. Daar word nie by tavernes, straat partytjies en EFF tipe massa byeenkomste maskers gedra nie en gefuif vir die vales. Dr Mkhize daar is menig van ons wat vir maande alles slaafs navolg. Gaan sit jul Jackboots op die oortreders se nekke en hou op vrees aanjaag by wetsgehoorsames.

Anel ·

Hiu tog op paranoïes wees. 20 000 uit 60milj is ‘n druppel in die emmer. Hoekom dit as pandemie verklasr weet nugter alleen. En dit is bewys.

Pietie ·

Ek bly in n oos kaapse dorpie. Hier dra die meeste nie maskers nie. Onbegonne taak. Mense maak nes hulle wil. Die kinders sing eerder n lied oor die corona virus. Lag jou uit maar hoeveel is die afgelope 2 weke dood daaraan. Pas jouself op bly tuis gaan winkel toe net as dit absoluit noodsaaklik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.