Komplekse diplomasie nodig vir komplekse wêreld

Foto ter illustrasie (Foto: Gerd Altmann/ Pixabay)

ʼn Stortvloed van diplomatieke flaters die afgelope tyd opper belangrike vrae oor ander maniere waarop Suid-Afrikaners hulle kan verskans teen die rampspoedige gevolge van wat sommige kenners die sentrale regering se diplomatieke domastrantheid noem.

“Suid-Afrika se diplomatieke betrekkinge het die afgelope tyd kommerwekkend agteruitgegaan. Dit is asof die sentrale regering probeer funksioneer, verwyder van die regte wêreld se globale magspolitiek,” verduidelik Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging.

“Daarom raak dit noodsaaklik vir die burgerlike samelewing en ander sfere om ook diplomatieke strategieë te ontwikkel om te verhoed dat Suid-Afrika te veel ly weens hierdie regering se swak diplomatieke optrede.”

Komplekse diplomasie die toekoms

Alida Kok, departementshoof vir sosiale wetenskappe by Akademia, meen “in die huidige politieke milieu is die diplomatieke verhoog veel meer kompleks en veelvlakkig”. Dit verg komplekse antwoorde op die diplomatieke front.

Kleynhans stem saam.

“Die tradisionele diplomatieke wêreld is besig om te verander en die gedagte dat state nog die enigste en belangrikste rolspelers én kanale vir diplomatieke verhoudinge is, sterf uit,” verduidelik Kleynhans.

Hierdie komplekse orde van diplomasie behels belangegroepe, gemeenskappe en bedrywe wat oor staatsgrense heen verhoudinge bou – eerder as net ministers en diplomate wat alle buitelandse skakeling reël.

Alida Kok (Foto: Verskaf)

Dit plaas volgens Kleynhans groot klem op diplomatieke skakeling buite sentrale regerings spesifiek en regeringsrolspelers oor die algemeen; ʼn verskynsel wat wêreldwyd reeds aanvaar word as ʼn nuwe norm van internasionale betrekkinge.

“Sentrale regerings het nie meer altyd totale beheer in die moderne, groot sentralistiese staat nie. Verskillende rolspelers beweeg in dié vakuum in en begin sodoende eintlik ook regeringsnetwerke oor grense heen vorm,” verduidelik Kok.

Hierdie diplomatieke kompleksiteit sluit ook aan by die verskynsel van sogenaamde herglobalisering waarin ʼn nuwe waardeorde vorm aanneem. In ʼn neutedop: die wêreld lyk nie meer soos voorheen nie en om daarin te floreer, moet jy die reëls en raamwerk verstaan.

“Diplomate, veral diegene wat in die tradisionele diplomatieke stelsels van die Weste en veral Europa opgelei is, weet nie altyd meer hoe om hulself te oriënteer nie. Ons moet eintlik ook krities kyk na wat diplomasie in ons tyd behels.”

Daar is dus nie mooi teoretiese boksies waarin alle internasionale betrekkinge perfek geplaas en verstaan kan word nie. Skakeling tussen rolspelers oor staatsgrense heen is ook lank reeds nie meer eenvoudig en eendimensioneel nie. Waar ʼn sentrale regering ʼn diplomatieke brug brand, kan ander belangegroepe dalk ʼn alternatiewe weg baan.

“Net soos in ander kontekste het die kompleksiteit van diplomatieke aangeleenthede toegeneem in die sin dat daar verskillende ordes en netwerke tot stand gekom het. ʼn Reël wat in een orde of netwerk geld, geld nie noodwendig in ʼn ander nie,” sê Kok.

Hoe lyk hedendaagse diplomasie?

Staatsgrense is volgens Kok steeds belangrik. Dit beteken tradisionele diplomasie, soos toegepas deur ministers van buitelandse sake en diplomate in ambassades wêreldwyd, is steeds uiters relevant.

“Ons het egter nie nodig om net in hierdie ou raamwerk daarna te kyk nie. Ons het drie bykomende konsepte wat dit vir jou oopbreek en wys wat vandag ook op die diplomatieke verhoog ter sprake is – baantwee-diplomasie, geprivatiseerde diplomasie en subnasionale diplomasie.”

Kok sê subnasionale diplomasie is tipies optrede soos dié van premier Allen Winde wat ʼn Wes-Kaapse afvaardiging na die VSA gelei het om te gesels oor Agoa.

Premier Alan Winde se besoek aan die VSA. (Foto: Verskaf)

“Ons dink dikwels subnasionale diplomasie is verkeerd omdat ons gesosialiseer is om te glo dat die unie waarin ons tans is, die enigste manier is waarop mag gestruktureer kan word.”

Geprivatiseerde diplomasie vind weer plaas waar privaatsektorrolspelers oor staatsgrense heen ʼn diplomatieke rol vervul deur bepaalde internasionale betrekkinge te handhaaf.

“Baantwee-diplomasie vind plaas waar geen regeringsrolspelers teenwoordig is nie en invloedryke nieregeringsrolspelers onderhandel, mettertyd vertroue bou en sake vrylik bespreek met die doel om uiteindelik invloed op die regering uit te oefen. Die hele doel van baantwee-diplomasie is dat dit baaneen-diplomasie gaan word,” verduidelik Kok.

Hoewel hierdie komplekse samehang van diplomatieke weë ongelooflike geleenthede bied, meen Kok met baantwee-diplomasie in besonder is dit nie so maklik om resultate te lewer nie.

“Jy draai jouself ʼn rat voor die oë indien jy dink jy gaan sommer net so baantwee-diplomasie beoefen wat gaan oorgaan tot onderhandeling met die regering wat politieke omwenteling teweegbring,” waarsku Kok.

Hierdie oorskakeling na baaneen-diplomasie word verder bemoeilik wanneer jy met ʼn vervalle staat moet onderhandel – dit is moeilik om ʼn staat te kry om ánder besluite te neem wanneer hy nie eens sy basiese funksies kan vervul nie.

“Daarom is dit belangrik vir gemeenskappe en groepe om vas te stel wie hul diplomate in die sfere van baantwee-, geprivatiseerde én subnasionale diplomasie is.”

Kok meen gemeenskappe moet eintlik reeds verteenwoordigers begin oplei om as diplomate op te tree, omdat diplomasie lank reeds nie meer net tot sentrale regerings beperk is nie.

Dit is die teorie van komplekse diplomasie, maar wat dan van die werklikheid?

Reeds toegepas

Volgens Kleynhans is dit nodig dat Suid-Afrikaanse instellings en groepe baie meer moeite doen met hierdie ander vorme van diplomasie – en ophou wag vir die sentrale regering.

“ʼn Mens sien eintlik nou reeds verskeie gevalle waar die toepassing van hierdie komplekse diplomasie in ander lande ook gebeur. Elders in die wêreld is dit egter nie altyd geformaliseer nie, maar handhaaf veral georganiseerde minderhede hul eie diplomatieke strategieë buite amptelike regeringskanale,” verduidelik Kleynhans.

Kleynhans lig Suid-Tirool in die noorde van Italië uit as goeie voorbeeld.

“Daar is geen amptelike Italiaanse strategie nie, maar hulle het hul eie diplomatieke kantoor vir Tirolers in Italië. ʼn Mens sien dit ook al hoe meer in Oos-Europa en Wes-Asië waar minderheidsgroepe soos in Pakistan en selfs Indië almal besig is met hierdie soort skakeling.”

Afrikaner-diplomasie

Kleynhans meen Afrikaners moet die proses versnel om op baie georganiseerde wyse nie net met ander kultuurgroepe te skakel nie, maar ook met ander regerings.

“Die Solidariteit Beweging se strategie vir buitelandse skakeling was die afgelope jare beperk tot vriendskapsnetwerke en natuurlik, waar moontlik, ook die toepas van politieke druk. Waarmee ons nou besig is, is ʼn volwaardige diplomatieke proses parallel aan dit wat die regering doen.”

Met die regering se onlangse diplomatieke mislukkings meen Kleynhans dit word toenemend belangrik om handelsbetrekkinge, handelsooreenkomste en ekonomiese beleid ook te begin beïnvloed en self te vestig.

Die aantal gebiede waarop dit nodig word om eie betrekkinge te handhaaf, word ook al hoe meer namate die regering al hoe meer struikel.

Jaco Kleynhans besoek die Amerikaanse kongres namens die Solidariteit Beweging (Foto: Verskaf)‘Goeie vriende om te hê’

Die vraag ontstaan dan ook oor wat die voordeel vir ʼn vennoot aan die ander kant van diplomatieke betrekkinge is.

“In enige diplomatieke verhouding is daar ʼn element van gee en neem. Almal wil weet wat hulle daaruit gaan put. Dit is dus belangrik om te weet wat ons ook het om te bied,” sê Kleynhans.

“Afrikaners moet baie duidelik kan formuleer wat ons na die tafel bring indien ons suksesvolle internasionale betrekkinge wil handhaaf.”

Kleynhans meen Afrikaners het hulself al herhaaldelik bewys as absolute kenners op sekere gebiede met baie mense wat hoogs gespesialiseerde kennis het.

“Daar word jaarliks in Amerika duisende spesiale visums uitgereik vir mense wat op plase gaan werk in Amerika – verlede jaar was dit sowat 700 000 visums. Van daardie visums is ʼn paar duisend aan hoogs vaardige mense uitgereik en meer as die helfte kom uit Suid-Afrika.

“Die Amerikaanse landbou is baie afhanklik van Suid-Afrika vir mense wat jaarliks vir ʼn paar maande op Amerikaanse plase gaan werk, omdat diegene uit Suid-Afrika oor absolute spesialiskennis beskik en die nuutste tegnologie onder die knie het.”

Verder is die produkte wat Suid-Afrika uitvoer, spesifiek landbouprodukte, van wêreldgehalte.

“In Suid-Afrika word verskeie produkte ontwikkel, ook in die finansiëledienstesektor en veral die IT-bedryf en jy sien dat Europese banke IT-dienste uit Suid-Afrika gebruik.”

Afrikaners bied volgens Kleynhans veel meer as wat besef word, maar het dié bydrae “net nog nooit mooi genoeg verwoord en verpak nie”.

“Ons het daarom eintlik ʼn plig om dit deeglik te kommunikeer; om te sê Afrikaners speel globaal ʼn baie groot ekonomiese rol met ons unieke vaardighede, hoër opleidingsvlakke en produkte en dienste.”

‘Uitstekend gerat’ vir komende uitdagings

Gaan Suid-Afrikaners steeds kan swem terwyl die sentrale regering se diplomatieke bootjie dalk sink?

Kleynhans is nie bekommerd nie.

“Ek dink Afrikaners is ongelooflik gerat vir die toekoms. Suid-Afrika het ʼn klomp uitdagings waarby ons reeds in groot mate begin aanpas en waarvoor ons planne begin maak het.”

Daarom meen hy Afrikaners is, wat ekonomiese en politieke uitdagings betref, ongelooflik vlugvoetig en entrepreneuries.

“Ons is geweldige innoveerders en planmakers omdat ons eintlik reeds met uitdagings van infrastruktuur-ineenstorting, aktiewe diskriminasie en oorregulasie gekonfronteer is.”

Hierdie noodsaaklike entrepreneurskap plaas Afrikaners in ʼn onsekere en veranderende internasionale konteks eintlik op die voorvoet.

“In ander lande kyk mense nog na die regering vir oplossings. Afrikaners het grootskaals die afgelope twee dekades uit die regeringsfeer beweeg en entrepreneurs geword. Die vlak van entrepreneursvaardighede onder Afrikaners is absoluut ongelooflik.”

Dit is eienskappe wat volgens Kleynhans voordeel inhou, “want ons gaan die volgende paar jaar ʼn era tegemoet van geweldige internasionale onsekerheid, toenemende konflik en ʼn voortslepende internasionale magstryd”.

“Binne daardie konteks is Afrikaners reeds baie goed gerat om nie net in Suid-Afrika nie, maar ook op globale vlak ekonomiese sukses te behaal en uitdagings die hoof te bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

So, die sanksies teen SA het verreikende gevolge gehad. Ons is nou ingebreek en moet die skoohondjie van die Weste ten alles koste bly. Kruip aan die voete van Biden en die King soos Japan nou doen anders kry ons ook ‘n erge raps. As die VSA sê jul seuns ix eintlik dogters, stuur hul vir ‘n redo. Afrikaners onder die DA probeer van onder regeer met Zelensky as koning. Dis skokkend watter agterlike slap gedrag sekere Afrikaners openbaar. Preek dat ons verkeerd reg noem a la 1984.

Gerrie ·

Telkens wanneer die Israel in Bybelse geskieddenis hul rug op God gekeer het, het dit met hulle sleg gegaan. Leiers wat die volk in God se weë gelei het, het weer tot voorspoed gelei. Ons het sulke leiers oor die wêreld heen nodig. Ons Afrikaner voorvaders het die land ingegaan met so ‘n gesindheid.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nie almal in die wêreld is Christene nie. Terloops, Afrikaners se kerkleiers het gelowiges liederik in die steek gelaat, selfs verwar. Dit sal nie gou reggestel kan word nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis gaan nie net oor die eksterne omgewing nie. Intern is lande in ‘n warboel. Dit raak al hoe moeiliker vir regerings om diverse gemeenskappe bymekaar te hou. Onsensitiewe regerings is gedoem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.