‘Kontroletoetse’ benadeel dalk eksamengereedheid

skole matrieks matriek matriekeksamen onderwys

Die departement van basiese onderwys het skole opdrag gegee dat leerders in gr. 10 en gr. 11 vanjaar slegs kontroletoetse skryf. (Foto: Maroela Media)

Kenners is bekommerd dat kontroletoetse wat gr. 10 en gr. 11-leerders vanjaar in sommige hoërskole afgelê het, eksamenfiksheid kan belemmer en leerders nie behoorlik voorberei op die matriekeksamen nie.

Luidens voorskrifte wat in Oktober deur die departement van basiese onderwys aan skole gekommunikeer is, is daar van onderwysers verwag om vanjaar weer, nes verlede jaar, heelwat korter vraestelle per vak op te stel, wat steeds die hele jaar se werk insluit.

Die voorskrifte, wat op kort kennisgewing deur die departement gekommunikeer is, behels dat leerders net een vraestel van twee uur lank skryf, en nie twee vollengte vraestelle van drie uur elk nie. Sommige skole het wel besluit om voort te gaan met vollengte vraestelle, aangesien vraestelle reeds opgestel was.

Skole is aanvanklik op 4 Oktober ingelig dat hulle wel vollengte vraestelle vir dié grade kan opstel en onderwysers het reeds geskarrel om dit betyds af te handel. ʼn Week later het die departement egter aangedui dat kontroletoetse nou geskryf sal word – dieselfde reëling wat verlede jaar aan skole deurgegee is.

In omsendbriewe skryf die departement dié voorskriftelike veranderings onder meer aan verlore skooltyd sedert die aanvangs van die Covid-19-pandemie toe.

Die Solidariteit Skole Ondersteuningsentrum (SOS) meen die jongste reëling veroorsaak egter “ʼn totale verskraling van die inhoud wat getoets word”.

“Leerders word oppervlakkig getoets in twee grade wat deurslaggewend is in die opbou tot gr. 12. Belangrike beginsels gaan nie getoets word nie – beginsels wat in gr. 12 wel getoets gaan word.”

Die SOS sê die skryf van kontroletoetse daartoe sal bydra dat leerders nie “eksamenfiks” is nie.

“Dit is reeds vanjaar sigbaar in terugvoer wat ontvang is ná die eerste klompie vraestelle van die matriekeksamen. Punte wat aan die einde van die jaar op gr. 10 en gr. 11-leerders se rapporte verskyn, skep boonop ʼn totale wanindruk van leerders se vermoë.”

Die SOS meen dit sal veral ʼn enorme impak op ʼn vak soos fisiese wetenskappe hê.

“Volgens die nuwe regulasies skryf gr. 10’s slegs een toets van 50 punte aan die einde van die jaar, wat die inhoud van chemie én fisika bevat. Die gr. 11’s is skryf een toets van 100 punte, ook met die inhoud van fisika en chemie daarin vervat.”

ʼn Onderwyser by ʼn hoërskool in Gauteng wat op versoek anoniem wil bly, sê dis belangrik dat leerders oor al die werk eksamen skryf sodat hulle volkome voorbereid op gr. 12 is.

Om dié rede, sê die onderwyser, gaan verskeie skole voort met die skryf van vollengte eksamens, ondanks die voorskrifte van die departement.

Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê die saak sal volgende week met die departement bespreek word.

Deacon sê hy is bewus dat opvoedkundiges bekommerd is dat leerders nie genoeg blootstelling aan “eksamenomstandighede” kry nie, en die druk dan toeneem as ʼn leerder vir die eerste keer in gr. 12 ʼn volledige, vollengte eksamenvraestel moet aflê.

Hy meen die reëling is ingestel vir dié skole waar leerders nog nie ten volle terug is by die skool nie weens die Covid-19-pandemie en sukkel om deur die kurrikulum te kom. “Ons het begrip vir skole wat in hierdie posisie is.

“Daar is egter ook skole wat 100% normaal funksioneer, hard gewerk het en ’n volledige eksamen wil skryf.”

Hy meen skole moet hul eie omstandighede in ag neem en besluit wat in beste opvoedkundige belang van die leerders is.

Die departement het nie op Maroela Media se navrae in dié verband gereageer nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elsa ·

Die slaagvereistes is so laag dat die gehalte van vraestelle nie eintlik saakmaak nie. Meeste leerders slaag al is hul nie gereed om na die volgende graad te gaan nie. Dis so jammer want ons maak ñ lui, ongemotiveerde generasie groot. Punte word bygesit al weet die onderwyser die leerder is nie gereed vir ñ volgende graad nie. Word deur departement afgedwing.

jou gewete ·

Verstaan nie die bekommernis nie. Almal slaag in elk geval as hulle darem net n paar dae in die jaar naby die skool was en sy naam bo aan n antwoodstel geskryf het.

Pablo ·

Sit hulle net deur. Eksamens is kolonialistiese en rasisties. Bee vereis geen intellegensie of kwalifikasie nie.

Renier johannes ·

Hulle wil almal se standaarde af bring na hulle vlak toe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.