Koordirigent sê Sama-prys is inspirasie vir toekoms

Franco Prinsloo. (Foto: Alet Pretorius)

Die komponis en dirigent Franco Prinsloo en die Vox Chamber-koor het Saterdag met die Sama-toekenning (South African Music Awards) vir die beste klassieke of instrumentele album van die jaar weggestap.

Slegs ʼn handjievol Afrikaanse kunstenaars is tydens die geleentheid vir hulle bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf vereer, met sangers soos Bernice West, Francois van Coke, Jan Blohm en Ryno Velvet wat ook Sama-beeldjies huis toe geneem het.

Volgens Franco, wat in 2017 die Vox Chamber-koor gestig het, is dit ʼn “eer en voorreg” om met ʼn gesogte toekenning soos ʼn Sama vereer te word. Hulle album, Fire Beast, is met die prys bekroon.

“Dit is ʼn erkenning van die koor se harde en passievolle werk, en toewyding tot die uitvoering van nuwe koormusiek. Ek is ongelooflik trots op die koor,” sê Franco aan Maroela Media.

Franco is ook die stigter van die Akademia-universiteitskoor. Hy het sy musiekopleiding by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus begin en dit later by die Trinity College London en University of West London se musiekskool voortgesit.

Die Vox Chamber-koor is ook in September vanjaar met ʼn Aitsa-musiektoekenning vereer in die kategorie vir klassieke snit van die jaar. Dit is vir hulle opname van “Wieglied” wat deel van die siklus Ghoera Liedere vorm.

Franco (heel reg) saam met lede van die Vox Chamber-koor. (Foto: Alet Pretorius)

Franco, wat die klankbaan vir die kykNET-reeks Donkerbos gekomponeer het en wat deur die Vox Chamber-koor in Kaapstad opgeneem is, is ook vroeër vanjaar vir ʼn Suid-Afrikaanse fliek- en televisietoekenning (Safta) benoem in die kategorie vir beste prestasie in oorspronklike musiek van ʼn TV-drama.

“Vir my is dit so wonderlik om die erkenning te ontvang omdat die dieper boodskap van die projek my so na aan die hart lê.”

Hy vertel die inspirasie vir die Fire Beast-album en konserte het gekom nadat hy ’n gedig deur D.J. Opperman, getiteld “Vuurbees”, gelees het.

“Die album bepleit omgewingsbewaring en volhoubare menslike gedrag. Hierdie toekenning bind die koor nog meer en skep ʼn gevoel van gemeenskap. Om op hierdie manier vereer te word, moedig ʼn mens ook aan om voort te gaan en aan te hou met die wete dat die musiek werklik ʼn impak maak op gehoorlede, luisteraars en uiteindelik die koorlede self,” sê Franco.

“Die Sama-beeldjie dien nie net as ʼn simbool van erkenning nie, maar ook as ʼn inspirasiebron vir toekomstige projekte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.