Video: Dié bekendes vanjaar met Aitsa’s bekroon

Dodo Nyoka wen die toekenning vir nuweling van die jaar en meeste stromings: manlike kunstenaar. (Foto: Maroela Media)

ʼn Rits talentvolle kunstenaars is Dinsdagaand by die Choose Life-ouditorium in Moreletapark, Pretoria, beloon vir hul bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf tydens Pretoria FM se jaarlikse Aitsa-musiektoekennings.

Bekendes soos Karlien van Jaarsveld, Bernice West, Zaan Sonnekus, Loufi en Barto is net ʼn paar van die Afrikaanse kunstenaars wat elk ʼn unieke Aitsa-trofee asook ʼn kontantprys van R10 000 tydens dié spogfunksie ontvang het.

Beoordeling van die rekordgetal inskrywings wat vanjaar vir Aitsa’s ingestroom het, het tussen 7 en 9 Junie 2023 plaasgevind en is deur ʼn paneel onafhanklike beoordelaars behartig. Die paneel het Gisela de Villiers, AJ Opperman, Rian Swanepoel, Carlé van Deventer, Anaretha Naude en Henco Harmse ingesluit.

Twee spesiale kategorieë vir die suksesvolste Afrikaanse liedjie deur ʼn mans- sowel as ʼn vrouekunstenaar – wat deur syfers van stromingsplatforms soos Spotify, Apple Music, YouTube Music en YouTube Video aangedui is – is ook aangekondig.

Bernice West se “Lyfie” asook Die Kontrak-naaswenner, Dodo Nyoka, se “Foto’s” is onderskeidelik met dié toekennings vereer.

Nyoko het ook met dié lied die toekenning vir “nuweling van die jaar” ingepalm.

Klassieke musiek het vanjaar ook meer erkenning kry, met Franco Prinsloo en die Vox Kamerkoor se “Ghoera Liedere” wat die beeldjie vir “klassieke snit van die jaar” verower het.

“Ons het baie navrae ontvang oor die moontlikheid om die Aitsas verder uit te brei deur ook aan die kunstenaars van klassieke musiek erkenning te gee,” het Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM en trustee van die Aitsa Trust, voorheen verduidelik.

“Daarom is daar besluit om die kategorieë vir 2023 uit te brei deur steeds die room van Afrikaanse musiek te erken, maar daarmee saam ook ʼn klassieke kategorie by te voeg.”

Die bekende en geliefde Afrikaanse musieklegende, Jannie du Toit, is Dinsdagaand vereer vir sy lewenslange bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek.

Die befaamde operasangeres, Mimi Coertse (90), is verlede jaar met dié Aitsa-musiektoekenning bekroon. Die Aitsa Trust ken dit jaarliks toe aan ʼn kunstenaar wat oor ʼn lang tydperk baanbrekerswerk vir die ontwikkeling van die Afrikaanse musiekbedryf gedoen het.

“Wat ʼn eer en wonderlike aanmoediging vir die pad vorentoe,” het die “Liedjie vir jou”-sanger oor sy toekenning gesê.

Die publiek het ook weer eens die geleentheid gekry om vir hul gunstelingkunstenaar te stem en vanjaar is dié spesiale toekenning aan die sanger, skrywer en akteur, Steve Hofmeyr, oorhandig.

Die stemme is volgens ʼn voorafbepaalde formule met die beoordelaarsterugvoer gekonsolideer en deur ʼn onafhanklike ouditeursfirma geverifieer.

Die wenners van vanjaar volgens kategorie is:

  1. Luisterliedjie van die jaar – Karlien van Jaarsveld en Jacob Swann, “Lief”
  2. Vervaardiger van die jaar – Danny Smoke en Tjaart van der Walt, “Ophou”
  3. Popliedjie van die jaar – Barto, “Impulsief”
  4. Nuweling van die jaar – Dodo Nyoka, “Foto’s”
  5. Alternatiewe/rockliedjie van die Jaar – Zaan Sonnekus, “Monitor”
  6. Boeremusiekliedjie van die jaar – Die Teelepeltjies, “Misvloer setees”
  7. Hiphop/kletsrym liedjie van die jaar – Loufi en Jayms, “Bank Rob”
  8. Geestelike liedjie van die jaar – Retief Burger, “Sekelmaan”
  9. Instrumentale liedjie van die jaar – CH2, “Simoné”
  10. Liedjieskrywer van die jaar – Jacob Swann, “Lief”
  11. Klassieke snit van die jaar – Franco Prinsloo en die Vox Kamerkoor, “Ghoera Liedere”
  12. Musiekvideo van die jaar – Eric T Graham, “Impulsief” vertolk deur Barto
  13. Afrikaanse liedjie van die jaar – Bernice West, “Lyfie”
  14. My Kunstenaar-wenner – Steve Hofmeyr
  15. Lewenslange bydrae – Jannie du Toit
  16. Meeste stromings: Manlik – Dodo Nyoka, “Foto’s”
  17. Meeste stromings: Vroulik – Bernice West, “Lyfie”

 

Jannie du Toit wen die toekenning vir lewenslange bydrae. (Foto: Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Benn ·

Dankie vir die artikel. Die goue agtergrond is nou nie fantasties nie.

Marcello ·

Is dit nou regtig nodig om so ‘n aanmerking te maak oor die agtergrond.

Theresa ·

Ek is baie bly vir Steve Hofmeyr, hy verdien nog meer toekennings…

Marcello ·

Baiee geluk aan Steve Hofmeyer, en Bernice West, Steve verdien dit om vereer te word..

Delia ·

Dankie vir Bernice se toekenning. Daardie liedjie van haar helder oud en klein se dag op. Ouma dans saam met haar kleindogter te lekker

Vonny ·

Bàie geluk aan ALMAL.
HOU ASB OP om vir Steve af te kraak.
Lewe volgens vrugte van die Gees

miraclealigner ·

skurweberg wil ernstige vrae vra oor die ekonomiese toestande in SA, die stelling hierbo is redelik duidelik :-p

skurweberg ·

As jy ‘n mens is wat Maklik deur jou maatskaplikebril na die ekonomiese toestande kyk, verstaan jy dit wat rondom jou aangaan en waar ‘n mens se
roeping. lê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.