‘Onse Mimi’ op Aitsas vir lewensbydrae vereer

Mimi Coertse is vir haar lewensbydrae tot die vermaakbedryf vereer. (Foto: Bronwyn Keyter)

“Onse Mimi het ʼn vrou van Suid-Afrika gebly, al het sy op die grootste verhoë reg oor die wêreld heen in elke denkbare taal gesing en harte wêreldwyd verower.”

Só sê Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM en die Aitsa-trust, oor die geliefde en befaamde operasangeres Mimi Coertse (90), wat Dinsdagaand met die Aitsa-musiektoekenning vir haar lewensbydrae tot die vermaakbedryf vereer is.

Vorige wenners van dié toekenning is Sonja Herholdt en Gert van Tonder.

“Mimi het Afrikaans gebly en haar voete op die grond gehou. Sy het die Afrikaanse kunslied geliefd en bekend gemaak en ons neurie nog steeds saam met haar. Mimi versinnebeeld wat elkeen van ons droom om te wees, daarom vereer ons haar met ʼn Aitsa-toekenning vir haar lewenslange bydrae,” voeg Spies by.

Coertse is Dinsdagaand tydens die Aitsa-geleentheid deur die bekende operasanger Coert Grobbelaar ondersteun.

“Afrikaans lê Mimi nog altyd baie na aan die hart en dit is vir haar ʼn riem onder die hart dat haar eie mense haar steeds onthou. Dit beteken vir haar ontsettend baie,” sê Grobbelaar, wat ook namens Mimi die toekenning ontvang het.

“Vir my as operasanger is dit ook verblydend dat Mimi op hierdie wyse vereer word. Mimi is en sal altyd ʼn ikoon bly.”

Coertse is op 12 Junie 1932 in Durban gebore en het in 1951 op die ouderdom van 19 vir die eerste keer in die Plastic Theatre saam met wyle Gé Korsten opgetree. Haar loopbaan as operasangeres het egter nuwe hoogtes bereik nadat sy in 1953 ʼn vaste betrekking by die Weense Staatsopera gekry het.

Haar loopbaan het hierna verskillende hoogtes bereik. Haar naam was onder meer sinoniem met haar rol in Mozart se Die Towerfluit. Hierin het sy die “Koningin van die nag” gespeel.

Uiteindelik het Coertse hierdie rol tussen 1955 en 1962 altesaam meer as 500 keer vertolk, op verskeie plekke, in vier tale.

In haar dagboek het sy geskryf: “Sang, en dis al wat lewe is!” en ook: “Wat bly daar vir my oor in my lewe? My sangloopbaan – ag, en alles wat wonderlik is.”

Lees meer oor Mimi Coertse hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tredoux ·

Charlize Theron moet let op die volgende:

“Afrikaans lê Mimi nog altyd baie na aan die hart en dit is vir haar ʼn riem onder die hart dat haar eie mense haar steeds onthou. Dit beteken vir haar ontsettend baie,”

Louis ·

Dit is hoe ‘n opgevoede, gekultiveerde mens praat! Therron se optrede is veragtelik!

kaplyn ·

Baie geluk Mimi ek onthou nog die 78 spoed plate van jou musiek in my ouerhuis. (Ja daardie tyd was daar nie CD’s of You Tube ens. nie) As ons die geleentheid gekry het, het ons gereeld na operas geluister waarin jy opgetree het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.