Foto’s: Afrikaanse musiek ordentlik gevier by Aitsa-toekennings

Steve Hofmeyr en Ruhan du Toit ontvang ‘n Aitsa-toekenning vir “Die Land” wat aangewys is as die gewildste liedjie van die jaar. Foto: Janie Monsieur/Maroela Media.

Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld, Steve Hofmeyr, Jay du Plessis en Ruhan du Toit se lied “Die Land” het die prys vir die liedjie van die jaar by die eerste Aitsa-Afrikaanse musiektoekennings ontvang.

Dié spoggerige geleentheid is Woensdagaand by die Moreletapark-ouditorium in die ooste van Pretoria gehou. Talle sangers en kunstenaars is tydens die geleentheid vir hulle bydraes tot die Afrikaanse musiekbedryf en vermaaklikheidswêreld vereer.

ʼn Verheugde Hofmeyr en Du Toit het dié toekenning onder luide applous van die gehoor in ontvangs geneem. “ʼn Mens kan my seker maar die vader van die Aitsas noem en al wat ek wil sê, is ‘boikot my nou weer’,” het Hofmeyr gesê.

“Die land” is vroeër dié jaar van die lys van nominasies by die Ghoema-musiektoekennings verwyder omdat Hofmeyr een van die sangers van dié lied is. MultiChoice, ʼn borg van die toekenningsgeleentheid, het sterk standpunt ingeneem teen Hofmeyr se betrokkenheid by die geleentheid omdat hulle die sanger se uitlatings op sosiale media veroordeel en as verdelend beskou. Die geleentheid is verder in omstredenheid gedompel nadat sangers gedreig het om dit te boikot ter ondersteuning van Hofmeyr.

Sonja Herholdt en Kosie van Niekerk het elkeen ‘n Aitsa-toekenning vir hulle lewenslange bydrae in die Afrikaanse musiekbedryf ontvang. Foto: Janie Monsieur/Maroela Media.

Afrikaanse musieklegendes gevier

Sonja Herholdt is met ʼn Aitsa-beeldjie vir haar lewenslange bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf vereer terwyl die gehoor haar staande toegejuig het. Herholdt het op haar beurt gesê haar droom vir dié musiekbedryf is dat dit weer sy wysie sal vind soos in die pioniersdae toe die hele Afrikaanse musiekbedryf hard saamgewerk het om radiostasies sover te kry om Afrikaanse musiek uit te saai. Dié dae toe niemand in Suid-Afrika kwansuis hierdie soort musiek wou luister nie. “Afrikaanse musiek mag protesteer, maar Afrikaanse musiek moet ook brûe bou,” het sy haar toespraak afgesluit.

Kosie van Niekerk, wat 31 jaar aan die hoof van die platemaatskappy Select Musiek gestaan het, is ook met ʼn Aitsa vereer vir sy lewenslange bydrae om veral Afrikaanse dansmusiek te ontwikkel en Afrikaanse musiek uit te bou.

Solidariteit se beroepsgilde vir die kunste het ook by die geleentheid sy eerste eretoekennings oorhandig. Dié gilde het vir Donnalee Roberts en Ivan Botha met ʼn Aitsa-toekenning vereer vir hul baanbrekerswerk in die Afrikaanse rolprentbedryf. Deon Meyer het ʼn Aitsa-eretoekenning ontvang vir die werk wat hy op die gebied van Afrikaanse letterkunde verrig, terwyl die Hoërskool Rustenburg ʼn Aitsa-beeldjie gekry het vir die skool se uitmuntende werk op Afrikaanse kultuurgebied.

Maroela Media het in Augustus vanjaar berig oor dié skool se koor wat byna oornag in ʼn internet-sensasie verander het nadat dit ʼn video op hul Facebook-blad geplaas het van hul vertolking van Queen se bekende “Bohemian Rhapsody”. Die video is reeds meer as 1,7 miljoen keer op Facebook gekyk en 48 000 keer op die sosialemediaplatform gedeel.

Demi Lee Moore het nie net ʼn Aitsa-toekenning vir die beste pop-album van die jaar ontvang nie, maar is ook bekroon met ʼn tweede Aitsa-beeldjie vir die beste album van die jaar.

ʼn Emosionele Moore het haar ma bedank, wat in haar droom geglo het. “Ek dank ook my hemelse Vader vir sy wyse tydsberekening. Dit het tien jaar geneem vir my droom om ʼn waarheid te word. Ek het net nou die dag nog in ʼn hotel vir ʼn klomp leë stoele gesing,” het Moore in trane gesê. Sy het ook elke aanhanger bedank wat haar album gekoop het.

Jo Black, wat met ʼn Aitsa-beeldjie vereer is vir die beste Afrikaanse kontemporêre album van die jaar, het gevra dat musikante weer terugkeer na dankbaarheid. “Ek voel soms daar is net te veel fokus op ons sangers; ons doen eintlik maar net wat ons goed kan doen en dit is sing, terwyl daar gewoonlik ʼn hele span agter ons staan wat dit vir ons moontlik maak om elke aand op die verhoog te staan op die wonderlikste plekke in Suid-Afrika. Dit is die spanne wat ook eintlik al die eer moet kry.”

Jo Black het ook twee Aitsa-toekennings ontvang. Foto: Janie Monsieur/Maroela Media.

Nog toekennings

Black het saam met Freesolo Creative ook ʼn Aitsa-beeldjie ontvang vir die beste Afrikaanse musiek in ʼn TV-program of -reeks. Hulle is vereer vir die lied “Kom ons gaan groot” van Die Groot Ontbyt.

Die Afrikaanse rockgroep Spoegwolf het twee Aitsa-toekennings ontvang; die groep is bekroon as kunstenaar van die jaar en het ook beste rock-album van die jaar gewen.

Juan Boucher het ʼn Aitsa-musiektoekenning gekry vir die beste Afrikaanse lirieke van die jaar, terwyl Douvoordag as die Aitsas se nuweling van die jaar aangewys is.

Elandré het met die Aitsa-beeldjie vir die beste Afrikaanse musiekvideo weggestap vir sy en Christian Wolf, die vervaardiger, se video “Vuur op die water”. Hy is ook as die liedjieskrywer van die jaar bekroon.

Sorina Erasmus, ook bekend as die Flooze, het ʼn Aitsa-beeldjie ontvang vir die beste Afrikaanse humoristiese album. Die Ventertjies is vereer vir die beste boeremusiek-album. Early B se album Aangename kennis is aangewys as die beste Afrikaanse hip-hop-album van die jaar en Rocco de Villiers het ook ʼn toekenning vir die instrumentale album van die jaar gekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

wilma ·

Aitsa, maar dit wil gedoen wees! Baie, baie geluk aan julle almal.

Linda ·

Nie gedink Sonja Heroldt sal ‘n verhoog met Steve Hofmeyr deel nie? Het sy nie issues gehad oor hy Die Stem sing en het geweier destyds om saam hom Ek Verlang Na Jou vir sy Toeka album op te neem nie?

Rinda ·

Kan mens nie net iets waardeer en geniet vir wat dit is nie. Hoekom moet jy nou in mense se karakter en verlede inklim en dit onsmaaklik maak? Gun die son oor ander skyn.

Judge Dredd ·

Van wanneer af erken ‘n liberalis dat hul ook foute maak?

Ai tog ·

Sonja se dae is verby en vat maar elke geleentheid om op ‘n verhoog te staan.
AITSA is baie beter en geloofwaardig as die Ghoemas.

Amy ·

Sê ek ook Linda.
Toe sy hoor sy kry ñ toekenning, het sy vinnig van alles vergeet.
Hulle moes daai toekenning eerder vir Carike Keuzenkamp gegee het. Daar was nog nooit iets sleg oor haar in die media nie.

Chris Ws ·

Aitsa!Welgedaan aan almal. Dit doen mens se hart goed om te weet daar is iets BAIE beter as die Ghoemas .Ek hoop van harte AL ons Afrikaanse kunstenaars gaan nie meer deelneem aan die Ghoema musiekteokennings geleentheid in die toekoms nie.

Marlib ·

Sien ek ietwat van ‘n magie by Donnalee… Sal dit nou nie cute wees nie

Kennis ·

Ja, Donnalee en Ivan het so paar weke gelede bekend gemaak hulle gaan ouers word. Lieflike paartjie en pragtig gewees om hulle gisteraand op die verhoog te kon sien. Hulle is blykbaar, volgens Donnalee, besig met 3 films tegerlykertyd wat 1 einde van 2020 vrygestel gaan word.
Heerlike aand gewees gisteraand by die 1ste Aitsa-musiektoekenningsaand.
Welgedaan Petrich (Rex) en die hele span van 140 en dankie Pretoria Fm dat julle aan boord gekom het en ook dankie aan al die ander borge.

Claus Malema ·

Wonder of mense weet hoevel mense elke dag vermoor word in onse townships

Jerry ·

Aitsa ou Steve. En daar gee Sonja in haar toespraak jou dieselfde raad as wat ek jou al telkemale gegee het, deur brue te bou terwyl jy protesteer, nie om te protesteer om te verdeel nie. Hopelik sal jy nou die boodskap kry en die knie buig!

Siener ·

@jerry. Sonja wie? Steve het vir jou nie gevra vir raad nie. Wie is julle? Steve is ‘n intelegente man wat opkom vir wat hy glo reg is. Sy ondersteuners volg en ondersteun hom. Dis dieselfde as wat ‘n skoolkind vir ‘n Professor raad gee.
Lyk my Steve, ons Generaal, maak julle liberale bang. Pas aan of verdwyn.

Koos Bronkhorst ·

Elke keer as daar beurtkrag is, dan wonder Steve hoeveel Egiptise plae nog oor is voor ANC besef dat hulle die Afrikaners se kunstenaars vryheid van spraak gee. Laas het ANC die HIV virus nie erken nie, toe sterf 350 000 mense weens beet resepte wat nie wou werk nie. Nou kom ANC met n NASIONSLE GESONDHEID PLAN.

Amanda ·

My beste afrikaanse sanger is Joshua na die reën. Eg Suid Afrikaans en sy eie werk.

Petro Wesson ·

Toe ek hoor van die Aitsa-toekennings, het ek maar die nuus op die internet gevolg. Dit is so jammer dat ons dit nooit op TV sal sien nie. Ek is baie bly vir die kunstenaars se part dat Aitsa-toekennings tot stand gekom het en dat daar nou ‘n nuwe platform geskep is waar hulle kan deelneem. En alles het rustig verloop. Natuurlik het dit harde werk en goeie beplanning geverg. Sterkte met die volgende een!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.