Elandré, Riana Nel maak skoonskip by Aitsas

Elandré was die groot wenner van die aand en het met vier toekennings huis toe gegaan. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die sanger en liedjieskrywer Elandré was die groot wenner by die Aitsa-musiektoekennings wat Woensdagaand in die AfriForum-teater in Pretoria plaasgevind het.

Die Aitsa-toekennings is deur PretoriaFM aangebied en is geskep met die doel om ʼn onafhanklike geleentheid te skep waartydens die room van die Afrikaanse musiekbedryf op grond van hul uitmuntende prestasies beloon kan word.

Elandré is met die prys vir alternatiewe of rock-liedjie van die jaar vir “Binne en buite”, popliedjie van die jaar vir “Dag en nag”, kontemporêre liedjie van die jaar vir “Waar die wind my waai” en as kunstenaar van die jaar vereer.

“Ek is dankbaar vir iemand wat my jare gelede raakgesien het toe ek by ʼn Kerspartytjie die mikrofoon gegryp het en dat [my] ouma toe vir my gesê het: ‘Miskien is dit wat jy met jou lewe moet doen’. Daar was intussen vele struikelblokke, maar ek wil dankie sê vir elke persoon wat hulle energie in my stort. Ek waardeer julle ondersteuning,” het Elandré op die verhoog gesê.

Riana Nel het drie beeldjies huis toe gevat. Nel en die gospelsanger Retief Burger het die prys gewen vir geestelike liedjie van die jaar vir “Die seën”, terwyl sy ook die pryse vir liedjieskrywer van die jaar en Afrikaanse liedjie van die jaar vir die liedjie “Hou die hemel oop” gewen het.

Elandré tydens een van sy toesprake. (Foto: Bronwyn Kruger)

ʼn Emosionele Nel het gesê sy wou op die verhoog hulde bring aan die seuntjie by wie se begrafnis sy dié hartroerende treffer geskryf het. Sy het ook haar man, Cornél de Beer, bedank.

“Jy leer my van die ewigheid en om nie bang te wees vir die dood nie. Ons hoef nie bang te wees nie, want Jesus is by ons en Hy het ʼn pad vir ons gemaak,” het sy gesê.

Sarina Bosman van PretoriaFM en die sanger Pieter Smith was die aanbieders van die geleentheid. Smith het ook die gehoor vermaak met sy treffer, “Stukkie van der Merwe”.

Ander kunstenaars wat hulle talente met die gehoor gedeel het, was Ricus Nel, wat “Ploeg jy?” gesing het, Saarkie wat “As die hippies begin dans” uitgevoer het en Bernice West wat die aand se verrigtinge afgeskop het.

Corlea het die liedjie “Sonvanger” aan die sanger Theuns Jordaan, wat in November sy stryd teen kanker verloor het, opgedra.

Ricus Nel het die prys vir boeremusiekliedjie van die jaar vir “Bosveldbul” ingeoes. Hy het dié liedjie saam met die boeremusieklegendes, Die Klipwerf Orkes, opgeneem.

Die Vatvas Dansorkes het die prys vir instrumentale liedjie vir “Laataand Boogie” huis toe gevat en Christia Visser is met die prys vir nuweling van die jaar vereer.

Riana Nel op die verhoog. Sy wou hulde bring aan die seuntjie op wie se begrafnis sy die lied, “Hou die hemel oop”, geskryf het. (Foto: Bronwyn Kruger)

Johan C Venter en Christian Wolf het die toekenning vir musiekvideo van die jaar gewen vir Ruhan du Toit se “Monumentaal” en vervaardiger van die jaar het gegaan aan Juan “Floors” Oosthuizen vir Riaan Benadé se “Spontaan”.

Die legendariese Gert van Tonder, bekend as liedjieskrywer en deel van die musiekduo Groep Twee, is vereer vir sy lewensbydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf.

Van Tonder is staande toegejuig deur die gehoor en het selfs ʼn impromptu weergawe van die “Oukraalliedjie” saam met die Aitsa-orkes uitgevoer.

Die orkes het bestaan uit Sean Butler op klawerbord, Raymond Green op elektriese kitaar, Denny Lalouette op baskitaar en Vinnie Henrico op tromme. Butler het ook as musiekregisseur vir die geleentheid opgetree.

Die aand is op ʼn hoë noot afgesluit deur al die kunstenaars wat vroeër die aand opgetree het wat saam die liedjie “Sing Afrikaner, sing” uitgevoer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Santie ·

Corlea dankie dat jy die liedjie “Sonvanger” aan Theuns Jordaan opgedra het! Ons gaan hom baie mis!

SomeOne ·

as ek nie gelees het dat dit elandre is nie, was ek verwonderded oor die vrou wat daar sit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.