‘Koppe moet rol’ oor Thabo Bester-ontsnapping

Thabo Bester tydens sy verhoor meer as tien jaar gelede. (Foto: Verskaf)

Die African Christian Democratic Party (ACDP) eis dat diegene wat by die ontsnapping van die sogenaamde Facebook-verkragter en -moordenaar, Thabo Bester, betrokke was, se koppe moet rol.

“Dit is duidelik dat sy ontsnapping goed georkestreer is met behulp van geld en mag, aangesien sy ontsnapping eers ʼn jaar later aan die lig gekom het,” sê Wayne Thring, adjunkpresident van die ACDP.

“Koppe moet rol terwyl die waarheid oor hierdie hele sage oopgevlek word.”

Foto’s van ʼn man wat baie soos Bester lyk, het onlangs opgeduik en die ondersoek na sy beweerde dood in ʼn brand verlede jaar opnuut in die kollig geplaas.

Tien maande ná sy beweerde dood het dit aan die lig gekom dat Bester eintlik uit ʼn maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein ontsnap het en nie doodgebrand soos die owerhede voorheen aangevoer het nie.

Die ACDP sê pres. Cyril Ramaphosa moet ʼn private ondersoek na die voorval van stapel stuur – veral omdat Bester se ontsnapping skynbaar met hulp van binne die gevangenis gedoen is.

“Suid-Afrikaners verdien om te weet wat presies gebeur het,” sê Thring.

“Die betrokkenes moet aanspreeklik gehou word en daadwerklike stappe moet teen hulle gedoen word.”

Drie amptenare, onder wie die direkteur van kontrakbestuur by die departement van korrektiewe dienste se hoofkantoor, en twee ander bewaarders is reeds geskors vir hul beweerde betrokkenheid by die saak.

Die tronk se bestuurshoof, verbonde aan die private veiligheidsmaatskappy G4S, is tydelik vervang deur Patrick Ali Mashabathakga, verbonde aan die departement van korrektiewe dienste.

ʼn Beloning van R100 000 is intussen uitgereik vir enige inligting wat sal lei tot die suksesvolle inhegtenisneming en vervolging van Bester.

“Ons land kan nie bekostig dat verkragters en moordenaars vry rond loop nie – dit stel wetsgehoorsame burgers in gevaar en skep ʼn gevaarlike presedent,” sê Thring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.