Kortfilms laat kollig val op geweld teen vroue en kinders

Argieffoto

ʼn Veldtog wat aansluit by die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders het besluit om op ʼn unieke wyse die kollig op geslagsgeweld te laat val.

Vyftien roerende huldeblyke vir die slagoffers van verkragting sal op die werklike plekke vertoon word waar die misdade gepleeg is.

Die eerste kortfilm van 1st for Women Insurance het hulde aan Chanelle Henning gebring wat in November 2011 in Faerie Glen vermoor is. Nog kortfilms wat tydens die maand vertoon sal word, sluit in Hannah Cornelius wat op die plaas Groenhoek buite Stellenbosch verkrag en vermoor is, Clarissa Lindoor wat op Stellenbosch vermoor is, Courtney Pieters wat verkrag en vermoor is (haar liggaam is in Epping Industria, Kaapstad, gevind), Uyinene Mrwetyana, wat vermoor is toe sy ‘n pakkie by die poskantoor moes haal in Claremont, Kaapstad, en Janika Mello wat in Heinz Park, Kaapstad, verkrag en vermoor is.

“Die afgryslike gebeure van die afgelope jaar was die keerpunt vir Suid-Afrika en ʼn seismiese verskuiwing het plaasgevind ten opsigte van geweld teen vroue. Optogte, memorandums en hutsmerke het uiteindelik daarin geslaag om die regering te mobiliseer om geweld teen vroue tot ’n nasionale krisis te verklaar,” sê Casey Rousseau van 1st for Women Insurance.

’n Vollengte video word op die 16de dag, 10 Desember, teen die kant van ’n bekende landmerk in Johannesburg vertoon. Die huldeblyk sal ook op sosiale media geplaas word.

“Geweld teen vroue is ’n donker onderwerp. Dit gebeur in die donker. Wanneer dit nie aangemeld word nie, bly dit in die donker. Dit is hoekom ons ons daartoe verbind het om dit na die lig toe te bring en dit daar te hou. Dit is net as ons deurlopend lig daarop werp dat dit ’n fokuspunt sal bly – nie net vir 16 dae nie, maar vir 365 dae ’n jaar, elke jaar,” sê Rousseau.

Die 1st for Women‑stigting het sedert 2005 meer as R70 miljoen bygedra tot organisasies wat help om vrouemishandeling te beveg.

Argieffoto

“Hoewel meer as 90 000 slagoffers en oorlewendes van geweld deur die stigting gehelp is, is vrouemishandeling in Suid-Afrika ’n ernstige en komplekse kwessie wat ’n veelvlakkige benadering verg om aandag te skenk aan die onderliggende ingesteldhede, menings, praktyke en stelsels wat geslagsongelykheid kondoneer, regverdig of verskoon,” sê Rousseau.

Die versekeringsonderneming het daarom ook ’n nuwe strategie vir die hantering van armoede, ongelykheid en ongeregtigheid, en klimaatverandering ontwikkel. Om hulle hiermee te help, het hulle by die Verenigde Nasies (VN) se 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling kers opgesteek.

Sy verduidelik verder dat opvoeding ’n uiters belangrike boublok op die pad na geslagsgelykheid is. “Dit is waarom ons ’n skoolgebaseerde leerprogram by 20 geregistreerde vroeë-kind-ontwikkelingsentrums en vyf laer- en hoërskole vir kinders van drie tot 18 jaar in die Diepsloot-gemeenskap bekendstel.”

Die program sluit ’n omvattende gemeenskapsgebaseerde ondersteuningsprogram in vir die slagoffers van geweld wat tans saam met Lawyers Against Abuse in Diepsloot van stapel gestuur word.

Rousseau verduidelik dat die organisasie hulself juis op Diepsloot toespits omdat dit van die hoogste vlakke van geweld teen vroue het wat nog ooit in Suid-Afrika aangeteken is – meer as dubbel die vlakke wat deur navorsing elders in die land aangeteken is. “As die bekendstellingsprojek in Diepsloot suksesvol is, kan dit landwyd uitgerol word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Indien optrede nie Politieke voordeel inhou nie word dit nie na regte opgevolg nie. Horkom doen die MRK nie hier sy werk nir, ditvus tog skending van regte. Wst van die kinders?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.