Kospryse: Groente, vrugte en suiwel dryf stygings

(Foto: Pixabay)

Stygende pryse vir basiese produkte op Suid-Afrikaners se inkopielys het talle verbruikers die afgelope twee maande genoop om hul sente om te draai. Kenners meen boonop dat infrastruktuurprobleme nog formidabele uitdagings vir die pad vorentoe kan inhou.

In sy jongste opsomming oor inflasie wys die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) daarop dat pryse vir groente, vrugte en suiwelprodukte gedurende die laaste kwartaal drasties toegeneem het.

“Ná kospryse relatief stabiel in die tweede en derde kwartaal van 2023 gebly het, het voedselprysinflasie weer die afgelope twee maande begin toeneem.”

Die primêre drywers agter voedselprysinflasie is die stygende prys van groente, vrugte en suiwelprodukte.

Aartappels, patats, pampoen en piesangs se pryse het in die afgelope vier maande met meer as 30% gestyg. Die prys van broccoli, blomkool, pynappels en pere het in die afgelope kwartaal met tussen 20% en 30% toegeneem.

“Hierdie prysstygings het ʼn groot uitwerking op verbruikers en kan uitdagings skep. Die optimistiese vooruitsig berus egter op die aanname dat verhoogde produksievlakke, veral in reaksie op stygende groentepryse, tot ʼn daling in pryse en later tot algehele stabilisering kan lei.

“Hoewel kommer voortduur, veral met die dreigende impak van El Niño en laer reënval in sekere streke wat somergewaspryse beïnvloed, bly daar optimisme dat voedselprysinflasie kan stabiliseer en, in die nabye toekoms, dalende neigings kan toon,” lui die verslag.

Die buro meen egter dat groot uitdagings ondanks die potensiaal vir korttermynverligting voorlê.

“Infrastruktuurprobleme wat elektrisiteit, brandstof en lone in die voedselwaardeketting insluit, wek groot kommer oor die langtermynvolhoubaarheid van voedselpryse.

“Selfs al sou inflasiekoerse daal, impliseer die stygende koste wat in die waardeketting ingebed is dat kos net duurder sal raak.

“Dit hou ʼn groot bekommernis in vir lae-inkomste-huishoudings vir wie bekostigbaarheid en toegang tot noodsaaklike voedselitems uiters belangrik is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dieter ·

Die stygende kospryse het niks met infrastruktuur probleme te doen nie.
Boere en klein vervaardigers word gekniehalter sodat die groot Illuminati besighede meer geld kan maak en n houvas op mense kan krybtov afhanklikheid en prysbeheer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.