Kragkrisis: ‘ANC volg kortpaaie voor die verkiesing’

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit. (Foto: GCIS)

Die DA meen Kgosientsho Ramokgopa, die minister van elektrisiteit, se optimisme, glimlag en innemendheid kan nie die kragkrisis oplos nie.

“Die energie-aksieplan is al meer as ʼn jaar aan die gang. Minister Ramokgopa is meer as sewe maande gelede aangestel, en hierdie jaar het ons die ergste beurtkrag in die land se geskiedenis beleef,” het Samantha Graham-Maré, die DA se skaduminister oor elektrisiteit, gesê.

Sy het reageer op Ramokgopa se toespraak in die parlement oor die inwerkingstelling van die regering se energie-aksieplan.

“Die onlangse afname in beurtkragfases met verskeie dae waar beurtkrag opgeskort is, was ʼn groot verligting – veral vir Proteas- en Springbok-ondersteuners. Is dit nie hartseer dat ons as ʼn land geseënd voel dat ons almal elektrisiteit gehad het sodat ons saam ons nasionale spanne kon ondersteun nie?”

Graham-Maré waarsku egter dat die kragkrisis nie opgelos is nie, dit is slegs tydelik opgeskort. “Daar is nog baie werk wat voorlê om ʼn stabiele, doeltreffende en kostedoeltreffende energiebedryf te ontwikkel.”

Kusile was die grootste oorsaak van dié krisis die afgelope 12 maande en was in teenstelling ook die rede vir die onlangse verligting. “Die kragstasie, wat ons reeds R250 miljard gekos het om te bou, is geteister deur korrupsie, ontwerpflaters en wanbestuur en, sover ons weet, het die kragstasie in ʼn stadium nie ʼn enkele kilowatt opgewek nie.”

Alhoewel eenheid 1 en 3 weer aangeskakel is ná probleme verlede jaar, is dit slegs ʼn tydelike herstel wat die land R250 miljoen gekos het. Die herstelwerk wat gedoen is om Kusile vinniger aan te skakel, omlei die ontswawelingsproses. “Alhoewel die bykomende 1 800 MW iets is om te vier, is daar ʼn keersy om herstelwerk te bespoedig. Die kortpaaie wat geneem is, kan tot grootskaalse besoedeling en uitlatings lei met die moontlike impak van sowat 680 sterftes en 3 000 asma-noodgevalle in omliggende gemeenskappe. Dit is ʼn katastrofale hoë prys om te betaal vir elektrisiteit.”

Graham-Maré sê dit is duidelik dat, ondanks ʼn paar sleutelprioriteite in die energieaksieplan vir die kort-, medium- en langtermyn, ly die regering steeds aan “stiksienigheid en traagheid”.

Sy sê Ramokgopa en Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne, weier hardkoppig om af te sien van ʼn steenkoolgebaseerde kragstelsel. “Hulle loop enorme geleenthede mis wat deur ʼn gemengde-energieoplossing gebied word waar ʼn balans van hernubare energiehulpbronne by ons bestaande energievoorraad gevoeg word. Om hernubare energie by te voeg beteken nie dat ons die steenkoolbedryf tot stilstand bring, mynwerkers afdank en vir winderige en sonnige dae bid nie. Dit beteken bloot dat ons begin om die grootste kwessies aan te roer en, soos wat die tegnologie verbeter, kan stabiliteit verhoog, ons kragstelsel stabiliseer en kan ons met die oorgang begin van vuil na skoon krag.

“As jy dink dis nie moontlik nie, kan ek jou verseker dat dit wel moontlik is. Kyk maar bloot na die Wes-Kaap om te sien wat gedoen kan word wanneer jy politieke wil, konsensus oor die uitslag, ʼn plan met werkbare teikens en realistiese tydsraamwerke het. Terwyl die nasionale regering, insluitend minister Ramokgopa oor idees praat, is die Wes-Kaap besig om dit te implementeer. Terwyl die ANC eindelose beperkings en hindernisse verskaf om die kragkrisis te takel, bied die Wes-Kaap oplossings.”

Graham-Maré verduidelik die ANC-regering hou vol netwerkbeperkings is die grensmuur vir die talle onafhanklike kragverskaffers wat gereed staan om hernubare energie aan die stelsel te verskaf – veral in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap. Die koste om die netwerk te vergroot na die vereiste 14 000 km, beloop R390 miljard. “Aan die ander kant is die drie Kaapprovinsies die sentrum van hernubare energie-ontwikkeling met die Noord-Kaap wat tans 60% van hernubare energie in Suid-Afrika verskaf. Dit is ook belangrik om te noem dat Eskom nog nie ʼn enkele kilowatt hernubare energie vanjaar ingestel het nie. Al 4 700 MW hernubare energie is aanlyn gebring deur sonkrag wat privaat individue en ondernemings geïnstalleer het.

Graham-Maré het ook verwys na die DA-geleide Wes-Kaap waar ʼn energieweerstandigheidsprogram van stapel gestuur is. “Dié program takel die impak van beurtkrag op ondernemings en inwoners en poog ook om al hoe minder op Eskom te steun.”

Die program werp reeds vrug af tydens beurtkrag wanneer die Kaapstad-munisipaliteit minstens een fase beurtkrag laer is as die res van die land. “Dit plaas die Wes-Kaap ook op ʼn langtermyn trajek wat dit ver vorentoe plaas as die res van die land wat betref energiestabiliteit en -veiligheid.

“En tog het die minister drie keer al versuim om met die ad hoc-komitee oor energie in die Wes-Kaap te vergader. Sekerlik is dit nou ʼn tyd wanneer ons almal moet saamwerk om die kragkrisis op te los? Tensy dit nie is wat die ANC-regering wil doen nie.

“Dit word al hoe meer duidelik dat die ANC-regering poog om te spoeg-en-plak waar hulle kan om beurtkrag tot die verkiesing te beheer. Hulle het nie enige langtermyn-strategie wat tot voordeel van die land is nie. Hulle volg eerder korttermyn-paaiery vir hul kiesers. Dit is nêrens meer duidelik as die feit dat ons nog steeds nie ʼn geïntegreerde hulpbronneplan het nie. Geen plan nie. Geen aanspreeklikheid nie.

“Dit is baie duidelik dat, veral in die lig van die Wes-Kaap se suksesse, dat die enigste party met ʼn plan om Suid-Afrika van die kragkrisis te red, is die Demokratiese Alliansie,” sê Graham-Maré.

‘Solank ANC regeer sal kragkrisis bly’

Wouter Wessels, VF Plus-LP en die party se hoofwoordvoerder oor openbare ondernemings, meen die naam van Suid-Afrika se kragprobleem is die ANC en minister Ramokgopa is bloot ʼn beeldpoetser vir die regering sonder enige werkbare plan om die land uit die krisis te kry.

“Gewone operasionele funksionaliteit word deur die ANC-regering aangegryp en voorgehou as suksesse in die stryd teen beurtkrag. Dit terwyl die regering self vir die krisis verantwoordelik is,” sê Wessels.

“Die minister is reg wanneer hy sê Eskom is in ʼn diep, donker gat. Hierdie gat het die ANC self gegrawe. Die minister spog dat daar vordering gemaak word met die kragprobleem terwyl die energiebeskikbaarheidsfaktor steeds onder 60% is. Dit moet boonop gesien word teen die agtergrond van ʼn krimpende aanvraag en ʼn groter kragbydrae van die private sektor.”

Wessels waarsku die huidige vermindering in beurtkrag is net tydelik en soos in 2008 gesien is, is die verduideliking hiervoor waarskynlik die verkiesing wat op hande is. “Net om ná die verkiesing met ʼn groter probleem te sit.

“Die minister is ook reg oor rol van bankrot munisipaliteite in die aangeleentheid. Daar word vir jare al gepraat oor planne om agterstallige kragskuld in te vorder en te verminder. Daarvan het niks gekom nie en die minister bied ook steeds geen oplossing daarvoor nie.”

Wessels voeg by die grondoorsaak van die land se kragprobleme het by die ANC self begin deur ʼn gebrek aan verantwoordbaarheid en korrupsie. “Werkbare beleidsbesluite is nodig om die probleem reg te stel. Dit moet gegrond wees op die realiteit en nie politieke ideologie nie. Verantwoordbaarheid en gevolge vir misdrywe moet onderliggend aan die oplossing wees en dit is nie eie aan die ANC nie.”

Hy sê die kragkrisis moet op ʼn volhoubare wyse opgelos word deur deregulering en die skep van ʼn mededingende mark wat opwekking en verspreiding aanbetref.

“Eindelik kan daar net werklik van die probleem ontslae geraak word deur die ANC te verwyder as regering.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Andries ·

Ja, en so kom di verkiesing (sonder n datum) al nader…
Maar ons wat graad 12 nog met n minimum van 40% geslaag het, sê, onthou eskom moet nog 920 MW by Koeberg onttrek – dalk nog 2x soveel…

Andries ·

Asbeskom dan so ‘vorder’ hoekom nog binnekort meer as 1000MW van buurlande invoer… En ons miljoenêr minsters en adjunkte, gaan seker pa staan vir di koste – of hoe bedoel meneer di menister dan nou…

Pietertjie ·

Soos oom de Ruyter gesê het: hulle wurg die laaste bietjie lewe uit die stelsel…

Papsak ·

Ag asb smile vir jouself krag krisis gaan bly jy doen dit omdat verkiesing om die draai is so jy flous ons nie na verkiesing is beurtkrag weer tien keer erger

Deon ·

O aarde tog! Dit wil my lyk die DA en die Weskaap matig hulself aan as die enigste oplossing vir al die land se probleme. Hou net al die politiek uit die besigheid en dit sal sommer baie beter gaan met ALMAL in hierdie land.

Jacobus ·

Ten minste werk die Weskaap en is die besbestuurde provinsie in die land. Ek bly hier ek weet waarvan ek praat.

Sê maar net ·

Ek glo nie een van die ANC parlementslede het al OOIT met ‘n yskas vol bedorwe voedsel gesit, as gevolg van beurtkrag nie. Hul elektriese toestelle gee nie in agv gedurige “power surges” nie. Hul kinders sit nie in die donker met kerse en huiswerk doen of studeer nie. Hulle het nie ‘n geliefde aan die dood afgestaan agv lewensnoodsaaklike implemente wat jou tuis help om asem te haal, as die krag afgaan nie. En, en, en ….
Beurtkrag raak hulle nie, want die ligte is altyd aan vir hulle…
Hulle lewe in ‘n selfgeskape paradys op die soustrein (op pad hel toe) terwyl Suid Afrika in ellende sit.

Truman Burbank ·

Nou is verkeerdste tyd om te worry oor besoedeling. As hulle bekommerd is oor co2 uitlatings, verbied beeste en vliegtuie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.