Kragsentrales steier terwyl Eskom skarrel om ligte aan te hou

(Argieffoto: Unsplash)

Die reën en oorstromings oor groot dele van die land het ook ʼn uitwerking op Eskom se reeds sukkelende vloot kragsentrales en André de Ruyter waarsku dat Suid-Afrikaners hulle moet staal vir fase 6-beurtkrag tot minstens Donderdagoggend.

Dit is die vierde keer die afgelope twee maande dat Eskom gedwing word om fase 6-beurtkrag in te stel, maar volgens die Eskom-hoof is die algehele ineenstorting van die netwerk egter nie op hande nie.

Eskom steun tans swaar op sy oopsiklus-gasturbines om die netwerk aan die gang te hou en De Ruyter sê daar was geen ander opsie as om na fase 6 oor te skakel nie.

Daar was die afgelope paar dae uiters hoë ladingsverliese – onder meer weens ʼn probleem met die verskaffing van steenkool aan die Lethabo-kragsentrale – wat die inwerkingstelling van fase 6 genoodsaak het.

Die vraag na krag sal Maandagaand na verwagting op sowat 27 282 MW staan, terwyl Eskom ʼn tekort van 5 834 MW het om daarin te voldoen.

“ʼn Duisend megawatt kom min of meer neer op een fase van beurtkrag; julle kan dus sien hoekom ons fase 6 moes instel,” sê De Ruyter.

Eskom hoop om Dinsdag, Woensdag en Donderdag onderskeidelik 2 000 MW per dag by die netwerkkapasiteit te voeg, namate eenhede weer aanlyn gebring word. Daar sal dan na verwagting teen Donderdag na fase 4 oorgeskakel word en teen die naweek na fase 3.

Fase 8 in vooruitsig?

Die oopsiklus-gasturbines waarop Eskom staatmaak, het die afgelope naweek egter ook probleme ondervind met diesel wat nie aan vereistes voldoen het nie en eers aangepas moes word. Dié probleem is intussen opgelos.

“Ons het ook ons finansiering van diesel uitgestryk en sal dit met die hulp van die nasionale tesourie doen, waarvoor ons baie dankbaar is,” sê De Ruyter.

“Die tesourie het sy steun gegee vir versekering aan banke by wie ons geld leen om diesel te koop, naamlik dat die tesourie dit sal waarborg en daarom kan ons voortgaan om aankope te doen.”

De Ruyter het ook ʼn hou na Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, ingekry omdat hy vroeër geweier het om ʼn groothandellisensie vir diesel aan Eskom toe te staan. Die Eskom-hoof sê die dieselrekening sou veel kleiner gewees het danksy dié lisensie.

De Ruyter het ook weer benadruk dat die kans op ʼn algehele netwerkineenstorting – en selfs die inwerkingstelling van fase 8-beurtkrag, laag bly. Sou die netwerk wél ineenstort, sal dit tussen 10 en 14 dae duur om op te los.

“Beurtkrag is die meganisme wat ons gebruik om die stelsel teen ʼn ganse ineenstorting te beskerm,” sê De Ruyter. “In hierdie stadium verwag ons nie dat die risiko verder as fase 8 sal gaan nie. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat ons nie daardie punt bereik nie.”

Isabel Fick, hoofbestuurder by die stelseloperateur, sê die beurtkragskedule en regulasies daaroor word tans in oorleg met die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) hersien en dat daar in dié dokumente na verskillende fases (moontlik ook hoër as fase 8) gekyk sal word.

“Ons kyk na gebeurlikheidsplanne vir verskillende fases van beurtkrag en daar is planne daarvoor, sou ons fase 8 bereik. Indien dit gebeur, sal ons die nodige vlakke aan die beheersentrums deurgee … maar ons verwag dit nie in hierdie stadium nie,” sê Fick.

Kragsentrales steier

By Kusile is drie eenhede (2 116 MW) tans buite werking nadat groot skade tydens die ineenstorting van ʼn skoorsteen verlede jaar aangerig is.

Koeberg se eenheid 1 is buite werking weens die vervanging van ʼn stoomopwekker en hoewel dié projek op koers is om teen die einde van Augustus afgehandel te word, beteken dit nog 928 MW is nie beskikbaar nie. Koeberg se eenheid 2 het die afgelope naweek boonop weens beplande instandhoudingswerk uitgeskop, maar is binne ure weer aanlyn gebring. Die eenheid word later vanjaar (nadat eenheid 1 aanlyn gebring word) ook vir beplande instandhoudingswerk afgeskakel.

Kusile se eenheid 5 (400 MW) het ʼn brand ondervind en sal teen die einde van Julie hopelik aan die netwerk gekoppel word. Medupi se eenheid 4 het vroeër ʼn katastrofiese ontploffing ondervind en sal na verwagting eers in September volgende jaar aanlyn gebring kan word.

By Matimba was daar ʼn ladingsverlies van 600 MW weens die warm temperature in die omgewing en die uitwerking wat dit onder meer op die kragsentrale se verkoelingsvermoë het, sê De Ruyter.

Eskom hoop egter om sommige van die eenhede deur die loop van die week weer aanlyn te bring. Dit sluit in drie eenhede by Lethabo en ʼn eenheid by Camden.

“Die res van die aanlegte is oud en onbetroubaar en gevolglik het ons voorvalle soos dié by Lethabo wat veroorsaak dat die tekort aan opwekkingsvermoë drastiese afmetings aanneem,” sê De Ruyter.

Thomas Conradie, waarnemende hoof van opwekking by Eskom, sê die swaar reën het beteken dat eenhede by die Lethabo-kragsentrale afgeskakel moes word omdat die steenkool sopnat is. Eskom het ʼn voldoende voorraad steenkool by die kragsentrale (asook ʼn rugsteun-voorraad), maar sommige daarvan was heeltemal onbruikbaar omdat dit weens die kwaai reën in ʼn pappery verander het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Pietertjie ·

Waar is die minister van nat steenkool? Hopelik sal fase agt die stemvee wat alles so verniet kry, se oë laat oopgaan vir volgende jaar se verwagte verkiesing. Hopelik val die social-grant se skille van hulle oë af. Die uitverkorenes sal nooit sonder krag wees nie, nes dit Noord van die Limpopo gebeur. Dus sal die kragnetwerk nie toegelaat word om in duie te stort nie. Nes Noord van … skies ek herhaal myself.

kaplyn ·

Pietertjie, ek stem saam met jou, maar moenie jou hart vashou dat die stemvee se oe sal oopgaan en dat dit hulle stemme in volgende jaar se verskiesing sal verander nie. Net een belofte van ‘n nuwe huis (gebou natuurlik met belastingbetalers se geld) en oorhandig aan die nuwe bewoner as ‘n geskenk van die anc, sal veroorsaak dat hulle weeeer anc stem.

Koos 100 ·

As jy nooit 24/7 elekstriesiteit gehad het nie, en nou 8 ure per dag dit kry, teen geen koste nie, het jy mos vooruitgang beleef? Vir die rede sal die stemvee se oë nie oopgaan nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Sabotasie het die steenkool in ‘n pappery verander.

Roek ·

Maak louis liebenberg die minister van elektrisiteit, hy sal ons in ‘n week of helemal red of alles laat sink , hy stort en bad tog met “die regte koneksies” volgens hom, hy kies ook sommer konings, my pel het altyd gese .Hy wat louis is.is ‘n yster! na ‘n klin rukkie het besef hy is n yster in die form van tin foelie!

Truman Burbank ·

Net Saterdag toe word daar gese dat Koeberg 2 herstel is, en kort daarna fase ses? Iewers word ons n bol gerol

Michael ·

Dit wil voorkom of die steenkool net natreen vandat die spul kommuniste aan bewind gekom het. Voor dit het die swaar reen alle kragstasies misgeval want ons het nooit van nat steenkool voor 94 gehoor nie

Harley Davidson ·

Nat steenkool is net nog ‘n verskoning, dit is nie soos hout nie nat steenkool brand beter as droë steenkool agv die olie inhoud.

Izak ·

Dit help nie om die Bestuur van Escom te verander sonder om die kundiges terug te bring nie.

annie ·

Hoeveel het die nuwe nat-steenkool-eskapades by Eskom te make met die eis vir hoër tariewe? Dit wil voorkom of klimaatsverandering Eskom erg aantas. Dit het nooit gereën gedurende die vorige bedeling nie want toe was nat steenkool nie so ‘n massiewe probleem nie. Die arme ANC het dit darem bitter sleg getref. Net toe hul die land begin bestuur draai die hele natuurorde teen hulle… So onregverdig!

Aggie ·

Ek weet jy sê dit tong in die kies, maar onthou in die “vorige bedeling” was al die kragstasies relatief nuut en daar is na berig word, omtrent elke jaar ‘n nuwe een gebou. Onderhoud is ook stiptelik gedoen. Wat ek bedoel om te sê is dat daar oorgenoeg reserwe krag was om in te gryp as sommige steenkool nat was.

Harley Davidson ·

Dit blyk dat niks werk by escom ,wat doen die huidige hoogs betaalde werknemers dan?

Erika ·

Wonder nou net, wie kry die skuld dat Eskom besig is om stadig maar seker te sterf? Seker die arme Jan Van Riebeeck! Eskom soek 18.5 of hoeveel dit ook nou al mag wees, verhoging, maar ons het feitlik nooit krag nie, soek hulle hierdie fondse om te betaal vir die vingerete by hulle roudiens? RIP ESKOM! Jou krag het van krag tot geen krag gegaan. Jou liggie het gesterf, jou liggie is stil!

Isobel ·

En…….so hoor ons weer al dieselfde verskonings. Maar dit gaan net daaroor dat die mense baie geld verdien en nie hulle werk doen nie. Ek glo nie een van ons kan dit meer hanteer nie. Hou net aan en aan en aan en ons moet net betaal en meer betaal vir geen krag nie. BELAGLIK

agnes ·

Waarom word die Pelindaba navorsings stasie nie omskep in n Baie nodige atoom krag stasiewa nie?

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Alles is Apartheid en die White Monopoly Capital se skuld. Daar is geen nuwe spaar kragstasies in Malls of op die rakke in enige skure vir invoergoedere gestoor wat nou ingespan kon word nie. Maar hou goeie moed. Voordat ons by Fase 100 kom, sal die nuwe sy Hoogagtende Edele Minister Towerstaaf Elektrisiteit gesorg het dat voldoende Eskom-krag volhoubaar sonder enige onderbreking beskikbaar sal wees by die 2024 Algemene Verkiesing en vir ewig daarna. Ha-ha-ha.

Jaco ·

Ek sidder vir die dag wanneer ‘n regstellende aksie aangestelde eskom werker die verkeerde knoppie by Koeberg kernkragstasie druk…..
4 miljoen mense in Kaapstad sal dan deur die gevare van “nuclear meltdown” bedreig word.
As bekwame mense wat net op meriete en nie op grond van ras nie by Chernobil aangestel is en toe nie die werk kon doen nie, dan is die potensiaal dat alles by Koeberg kan skeefloop mos 1000 maal groter.

Aggie ·

Mens wil nie eens aan so ‘n skrikwekkende situasie dink nie. Maar onthou, Koeberg is onder toesig van die Franse gedoen met beter konstruksie en ek glo Koeberg sal so ‘n situasie baie beter as Chernobil kan hanteer.

Martie Smartie ·

En dis hoe twee blanke mans Eskom bestuur. Mooi man

Andre ·

Stel julle self gerus met die idee dat die regering en munisipaliteite die beste mense in beheer het wat geld maar kan koop.

piet ·

4-ure af op ‘n slag is definitief nie meer ‘n grap nie. Uiters ongerieflik.

Keelvol ·

Al wat ek lees is Verskonings, maar geen oplossing tot die probleem nie. 6 Krag opwekkers raak ontklaar tergelyketyd en geen alternatiewe plan nie, is n toonbeeld van swak leierskap en geen beheer nie.

Danie ·

Kan iemand dalk verduidelik wat het nat steenkool met die opwekking van krag te make , is daar dan nie reeds hitte wat die steenkool moet verbrand nie of word daar so n swak standaard steenkool gelewer dat dit “smelt” en ‘n pappery word sodra dit reen ?

Jacobus ·

Steenkool beskikbaarheid?? Nie vir vloot uitvoer vragmotors nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.