Kragskuld veroorsaak diplomatieke hoofpyn

[Foto: Skermskoot]

ʼn Dispuut oor ʼn agterstallige kragrekening het die Suid-Afrikaanse regering in ʼn ongemaklike posisie geplaas wat sy Nigeriese eweknie betref.

Die Nigeriese konsulaat in Johannesburg het by die Suid-Afrikaanse regering gekla nadat hul kragtoevoer deur City Power afgesny is.  Die krag is afgesny omdat die konsulaat agterstallig is met sy kragrekening.

As deel van ʼn veldtog om lank agterstallige kragskuld in te vorder, het beamptes van City Power Woensdag verskeie instansies en ondernemings in Johannesburg se krag gesny. Dit is in ʼn poging om sowat R36 miljoen se skuld in te vorder.

Toe beamptes Woensdag die konsulaat in Illovo nader, het die konsulaat beamptes toegang tot die perseel geweier en die krag is toe van ʼn afstand afgeskakel.

Volgens City Power skuld die konsulaat hom meer as R400 000.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van buitelandse sake, het Vrydag aan AFP gesê die konsulaat het ʼn “diplomatieke kennisgewing” aan sy departement gestuur.

“Die saak word tans deur diplomatieke kanale hanteer. Ons sal met alle betrokke partye konsulteer in die hoop om ʼn werkbare oplossing vir die probleem te vind.”

Krag na die gebou is later dieselfde dag nog herstel ná ʼn onderneming van die konsulaat dat die rekening aan die einde van die maand vereffen sal word. Volgens Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, het die konsulaat self die kragvoorsiener se kantoor besoek en met beamptes onderhandel. “Hy het die skuld erken en onderneem om dit einde Januarie te vereffen. Ons hanteer hulle nie anders as enige ander klante nie.”

Die Nigeriese regering blyk egter nie in hul skik met die verloop van gebeure te wees nie en in ʼn verklaring beskryf die konsulaat die Stad Johannesburg se optrede as “ʼn algehele oortreding van internasionale ooreenkomste en konvensies, wat die onaantasbaarheid van konsulaateiendom verseker”.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.