“Die saak is tot 8 Mei uitgestel weens die regter wat nie beskikbaar was nie,” het Nathi Mncube, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), gesê. Hy sê die nuwe regter wat die saak sal aanhoor is eers Donderdag beskikbaar. Krejcir en sy medebeskuldigdes het onder streng polisiebewaking in die hof verskyn.
Krejcir, Siboniso Miya, Desai Luphondo, ao. Samuel Modise Maropeng, George Jeff Nthoroane en Ian Jan Mofokeng word daarvan beskuldig dat hulle in Junie 2013 die broer van ʼn man, wat met 25kg tik verdwyn het, ontvoer en aangerand het. Die man, slegs bekend as “Doctor”, sou hulle glo help om die dwelms uit die land te smokkel.
Die mans word daarvan verdink dat hulle die broer by Krejcir se Money Point-besigheid in Bedfordview in Johannesburg vir vier dae lank aangehou en hom aangerand het. -SAPA