Kriminele rekord- sentrum weens ‘wanbetaling’ gesluit

Suid-Afrikaners in die land sowel as in die buiteland is in die knyp oor die polisie se kriminele rekord- sentrum tans gesluit is. (Foto: Facebook / CouncilAssist for Educators)

Suid-Afrikaners in die land sowel as in die buiteland is in die knyp oor die polisie se kriminele rekord- sentrum tans gesluit is, glo weens ʼn “betalingsdispuut”. Dít ná die sentrum reeds etlike maande ʼn agterstand met die uitreik van polisieklaringsertifikate ervaar.

Aansoekers en koeriers het die afgelope week voor dooiemansdeur te staan gekom toe hulle klaringsertifikate by dié sentrum in Francis Baardstraat in die Pretoriase middestad wou afhaal.

’n Polisieklaringsertifikaat is ’n amptelike dokument wat deur die kriminele rekord- en misdaadtoneelbestuursentrums uitgereik word en dui aan of enige strafregtelike skuldigbevindings teen ’n individu aangeteken is of nie.

Dit laat onder andere werk-, visum-, vuurwapenlisensieaansoekers asook kriminele ondersoekers met  ʼn reusedilemma.

Die polisie het egter nog nie op Maroela Media se navrae gereageer oor of die sentrum wél weens ʼn betalingsdispuut gesluit is nie. Dit is ook nie duidelik wanneer die sentrum sy bedrywighede sal hervat en wat die omkeertyd sal wees nie.

Die polisie se kennisgewing op sy webwerf sê bloot dat die sentrum tans ʼn agterstand ervaar en dat daar onverpoosd gewerk word om die agterstand op te klaar.

Maroela Media het van ʼn bron in Nieu-Seeland verneem dat Suid-Afrikaners wat in dié land woon uiters bekommerd is oor die hernuwing van hul klaringsertifikate vir visumdoeleindes. Die bron werk vir ʼn maatskappy wat Suid-Afrikaanse kliënte met aansoeke vir klaringsertifikate bystaan.

“Die kriminele rekord- sentrum in Pretoria is die enigste plek in Suid-Afrika wat dié diens kan lewer.

“Dinsdagoggend het een van ons kliënte se familielede daarheen gegaan om ʼn klaringsertifikaat te gaan afhaal, net om te vind dat die deure gesluit is omdat die polisie nie huur betaal het nie. Daar was groot rooi plakkers op die deure wat sê ‘gesluit weens onbetaalde huur tot verdere kennisgewing’.

“Nou is ons in ʼn groot penarie. Die aantal aansoeke wat deur ons maatskappy ingedien is, het die mense in Nieu-Seeland op hol aangesien hul aansoeke vir verblyfreg van dié klaringsertifikaat afhanklik is.

“In Nieu-Seeland mag jy ook nie ʼn dag langer as die datum op jou visum in die land wees nie. Hoe nou gemaak en wat gebeur verder?” het die bron in ʼn boodskap aan Maroela Media gesê.

Sentrum ervaar ‘vele uitdagings’

Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder vir polisie, sê agter dié geslote deure skuil verdere uitdagings wat die uitreik van klaringsertifikate in die wiele ry.

Volgens Whitfield moet die geoutomatiseerde vingerafdrukidentifiseringstelsel vervang word, en kan vingerafdrukke nie daarsonder verwerk word nie.

Bheki Cele, minister van polisie, het dit in November verlede jaar in terugvoer op parlementêre navrae aan die DA bevestig. Ander redes wat vir die agterstand aangevoer word, is die Covid-19-pandemie, verhoogde aantal aansoeke en te min personeel, stelselprobleme weens beurtkrag en prosedurele veranderings in die aansoekproses.

Teen November kon die sentrum sowat 25% van die aansoeke nie binne 15 werkdae verwerk en uitreik nie.

Whitfield sê dit skep reuseprobleme vir mense wat reeds oorsee is, wil emigreer of na die buiteland reis. Dit skep ook uitdagings met die aanstel van werknemers waar polisieklarings ʼn voorvereiste vir die sodanige pos is. Volgens Whitfield lei dit uiteraard tot risiko’s dat mense in die openbare en private sektor aangestel word sonder dat polisieklarings afgehandel is. Dit maak dit ook moeilik vir mense om aanbiedings in Suid-Afrika en die buiteland te aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Chris dupreez ·

En so raak die anc polisiediens , met ou Hoed as hoofnar , net nog slegter.

Pietertjie ·

En skielik het niemand meer ‘n kriminele rekord nie, tot verdere kennisgewing.

Herman ·

Nog ‘n bewys dat die minister van polisie nie ‘n idee het van wat in sy portefeulje aangaan nie en ook nie beheer daaroor kan uitoefen nie. Hy beskik ook nie oor die vaardigheid om sodanige departement te bestuur nie. Tipiese gevolge van die regering se kadawerontplooiing. Geen ondervinding, geen bevoegdheid, geen vaardighede… Die knaap moes lankal afgedank gewees het. Dieselfde geld vir die “president” wat besig is om al verder te sink. Suid-Afrika – Die mislukte staat!

AH ·

Ek sal nooit gewoond kan raak aan swak dienslewering nie. By my is dit ‘n geval van bekhou en uithou…..

domheks ·

Is dit 1 April ou hoed??? Net in die PIESANG RSA wat so iets kan gebeur!

efjy ·

Dink daar moet nou ernstig oorweeg word om die Weskaap se onafhanklikheid te eis en af te stig van die onbekwame staat. Belasting geld word vir enige rede gemors en niks word in stand gehou of behoorlik bestuur nie.

Piet ·

Ek dink julle kolonialers en hensoppers moet nou afstig en klaar kry. Los net ons mense hier in die Republiek uit.

gatgogga ·

Goed so, Piet.
As jy gelukkig is in die Suid Afrika waarin jy woon, dan kan jy met plesier bly waar jy is. Maar wat van jou kinders? Wat van ‘n beter opsie vir hulle?

Johan ·

Sluit sommer hele land. Niks werk in elk geval nie meer nie

Karel Kobus Kruger ·

Soos met enige ander dokument, kan dit ook op die swartmark gekoop word. En ons uiters professionele swartmark is 24/7 oop.

Wielspore ·

Ek en my vrou het nuwe ID boeke met vinger afdrukke gedurende 1988 uitgeneem, so regte suurknol het ons gehelp. Toe ons in die ry staan om die vorms in te gee merk ek op my vinger afdrukke is op my vrou se vorm is en hare op myne. Ek bly doodstil, het nie kans gesien om daai suurknol weer on die oë te kyk. Toe ons buite is vertel ek my vrou daarvan, sy wil terug gaan om dit reg te maak, ek sê vir nooit, ek ry nou huis toe.
As ek misdaad pleeg gaan my vrou toegesluit word….. sy moet ligloop!

henndrik ·

Nasionale tesourie se kantore in 240 Madiba straat ís ook gesluit, seker vir dieselfde rede

Swerwer ·

Is dit met opset of is dit die werklike waarheid? Kyk as die Kriminele rekord- sentrum van ‘n land eers gesluit word moet jy weet daar is nie meer omdraaikans nie. Kry Hoed /President en die ANC kader nie skaam vir die gemors waarin hul hierdie land gesit het nie.

Casper ·

Cyril raak asseblief van hoedman ontslae en stel iemand aan wat ‘n “diens” aan die inwoners kan lewer in die ware sin van die woord.Hoekom beskerm rampie sekere rampokkers soos hoedman Frazer en duisende ander.Wat se geraamtes kruip in sy kas weg. wat niemand van mag weet nie.

gatgogga ·

Dit sal alles uitkom nadat hy sy pos verloor teen die einde van die jaar. Wag geduldig.

Genis ·

SUID AFRIKAANSE PATETIESE DIENS- tot die grond in bestuur… Ek dink, dat die ANC se plan al die jare was; om al die funktionele entiteite en dienste te vernietig… Dit was en is hul doel voor oe…

Hein ·

So verloor klomp mense hul werk omdat hulle daardie klarings moet hê

Oros Soros ·

Staatsgeboue en gehuurde persele vir staatsdepartemente se huur en dienstegeld is die verantwoordelikheid van die Departement van Openbare Werke. Het daar al enigiets goed by hulle voortgespruit sedert Patricia de Lille aangestel is as minister?

Nico ·

Hoekom altyd die Covid19 die skuld gee, bestaan die pandemie regtig of is ‘n wolhaar storie.

AH ·

Die pandemie bestaan regtig, maar word gebruik as rede vir swak/geen diensverskaffing deur ieder en elk. Net soos apartheid nog altyd die skuld gekry het vir mense se wangedrag/onvermoë/onnoselheid en veel meer word Covid19 nou die sondebok vir alles wat skeef loop….

Mieke ·

Meer soos dat die ANC onverpoosd voort werk om SA op sy knieë te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.