Krisis by universiteite: Belofte maak (studie-)skuld

Studente en lede van die EFF betoog in Johannesburg vir gratis hoër onderwys. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Universiteite byt nou die spit af vir die belofte van gratis hoër onderwys wat oudpres. Jacob Zuma met groot fanfare in 2017 gemaak het. Zuma het skynbaar nie ʼn krimpende staatskas, groeiende studentegetalle en onbevoegdheid van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) in ag geneem toe hy dié belofte gemaak het nie.

Studente het die afgelope week weer amok gemaak op universiteitskampusse en daarop aangedring dat studieskuld afgeskryf word. Kenners waarsku egter universiteite kan nie bekostig om skuld af te skryf nie, aangesien staatsubsidies jaarliks krimp.

NSFAS het boonop ʼn tekort van miljarde rande en teen die koers wat studente druip, is daar geen hoop dat die skema ooit die geld wat studente hom skuld, sal kan invorder nie.

“Gratis hoër onderwys bestaan nie,” sê dr. Theuns Eloff, ʼn oudrektor en onafhanklike onderwyskenner.

“Iemand betaal altyd en daardie persoon is in hierdie geval die belastingbetaler.”

Agterstallige studieskuld aan universiteite beloop in hierdie stadium meer as R13 miljard en talle universiteite wou nie studente vir die nuwe akademiese jaar laat registreer voor hul skuld nie betaal is nie.

Eloff sê sommige studente bestee die geld wat hulle van NSFAS kry, aan ander uitgawes soos om ʼn voertuig af te betaal of hul gesinne te ondersteun, eerder as om studieskuld te delg. Dié studente eis nou dat hul skuld afgeskryf word.

“Dit is geld wat hulle nie toekom nie,” sê hy.

“Universiteite kan nie bekostig om die skuld af te skryf nie, want dan is hulle bankrot. As universiteite dan sluit, is dit ʼn geval van studente wat hulself in die voet skiet.”

Die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, benadruk dié posisie en het die afgelope week gesê die departement het bloot nie die geld om skuld af te skryf nie. Hy sê die departement se begroting is nes dié van ander departemente besnoei en het die huidige tekort aan geld grootliks voor die deur van Covid-19 gelê.

NSFAS se benarde posisie

Teen 2019 het studente universiteite naastenby R10 miljard geskuld. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Ook NSFAS se begroting is ontoereikend. Die skema se begroting vir vanjaar het aanvanklik op sowat R37 miljard gestaan en bykomende geld moes inderhaas op ander plekke bymekaargeskraap word om die tekort te vul.

Sowat 790 000 studente het aansoek gedoen vir NSFAS-finansiering in 2021, naastenby 185 000 meer as ʼn jaar tevore. Van die meer as ʼn miljoen studente wat tans hoër onderwys ontvang, word tussen 60% en 65% dus reeds deur NSFAS gefinansier.

Chantel King, die DA se woordvoerder oor hoër onderwys, sê tot 47% van eerstejaarstudente skop op. Sommige studente neem tussen ses en sewe jaar om ʼn graad te voltooi en tussen 40% en 50% van NSFAS-begunstigdes sit tans tuis.

“Daar is dus nie ʼn opbrengs op die belegging vir die volgende geslag nie,” sê sy.

Teen 2019 het studente universiteite naastenby R10 miljard geskuld nadat die departement van hoër onderwys boonop amper ʼn R1 miljard se skuld namens naastenby 50 000 studente betaal het.

Luidens ʼn NSFAS-navorsingsverslag gaan die getal universiteitstudente na verwagting van 839 000 in 2019 tot 850 000 in 2025 toeneem. Nog meer geld sal dus nodig wees om studente wat kwalifiseer om aan ʼn universiteit te studeer, te finansier.

Universiteite in die moeilikheid

Studente het die afgelope week weer amok gemaak op universiteitskampusse en onder meer daarop aangedring dat studieskuld afgeskryf word. (Foto: Michele Spatari/AFP)

Eloff waarsku dat universiteite op medium- en lang termyn beslis in die moeilikheid is. Sedert Zuma se gratis onderwys-aankondiging, is geld van die hoër onderwysfunksies, soos navorsing en die behoud van uitstekende dosente, reeds gekanaliseer om studiegeld te finansier. Daar is onder meer geld van die nasionale navorsingstigting weggeneem om aan universiteite toe te ken.

Eloff sê iets ingrypend sal moet gebeur om die situasie om te keer. Een moontlikheid is dat universiteite begin spesialiseer en almal nie dieselfde kursusse aanbied nie. Een universiteit fokus in so ʼn geval op byvoorbeeld op voorgraadse studie, terwyl ʼn ander meer konsentreer op navorsing.

Eloff sê nog ʼn kwessie wat toenemend ʼn probleem kan word, is die behoud van dosente wat weens die sukkelende hoëronderwysstelsel en die alewige gebrek aan geld hul heil in die private sektor of in die buiteland kan gaan soek.

“Die Grondwet bepaal nie dat hoër onderwys ʼn reg is nie; dit bepaal dat basiese onderwys ʼn basiese reg is. Wat hoër onderwys betref, bepaal dit dat bekostigbare hoër onderwys toenemend moet realiseer. Ek dink ook dit gebeur wel as jy kyk na die 650 000 studente uit bykans ʼn miljoen wat reeds NSFAS-beurse kry wat bykans alle uitgawes dek,” sê hy.

Eloff sê die ANC-regering het die bevolking van hom afhanklik gemaak met alles van maatskaplike toelae, tot gratis onderwys, gratis gesondheidsorg en onder sekere omstandighede ook gratis water en elektrisiteit.

“Daar is ook ʼn kultuur van toe-eiening wat ons al hoe meer in die land kry.”

Prof. Carolina Koornhof, ʼn uitvoerende direkteur by die Universiteit van Pretoria (UP), sê universiteite het drie hoofbronne van inkomste: Die regering se subsidie, onderriggeld, en die inkomste wat uit bronne soos skenkings, navorsing, konsultasiedienste en onderrigkursusse verdien word.

Sy sê sedert 2010 het die hoëronderwysstelsel beduidend gegroei, maar subsidies het nie met die stygende studentegetalle bygehou nie en die subsidie per studente – selfs sonder dat inflasie in berekening gebring word – het deurlopend gedaal.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het universiteite in 2019 net meer as R88 miljard in inkomste ontvang. Hiervan was R42 miljard afkomstig van die staat en nog R46 miljard van ander finansieringsbronne.

StatsSA sê ʼn alternatiewe manier om daarna te kyk is soos volg: Vir elke R100 se inkomste wat ʼn universiteit in 2014 verdien het, was R44 van ʼn staatstoelaag en R56 uit ander bronne (R34 uit studiegeld, R7 van skenkings, R4 van rente en dividende en R11 uit ander inkomstebronne).

Teen 2019 het die regering se bydrae tot R48 toegeneem. Studiegeld het in 2015 net meer as R21 miljard beloop (35% van die totaal) en het teen 2019 toegeneem tot net meer as R29 miljard (33%).

Betreklik nuwe universiteite – soos die Universiteit van Mpumalanga en die Sol Plaatjie-universiteit wat 2014 op die been gebring is – het in 2019 die meeste op staatstoelae staatgemaak. Universiteite soos Kaapstad, Stellenbosch en Wits ontvang nagenoeg ʼn derde van hul inkomste van staatstoelae

Alternatiewe finansieringsmodel

‘n Student word in hegtenis geneem tydens een van die betogings. (Foto: Michele Spatari/AFP)

Die DA stel ʼn studenteleningstelsel voor, waar kommersiële banke deur NSFAS volle of gedeeltelike lenings – wat deur die regering gewaarborg word – ingevolge huishoudelike inkomste beskikbaar stel. Die lening word terugbetaalbaar wanneer die gegradueerde ʼn salaris bo ʼn sekere drempel begin verdien. ʼn Beperking word op die terugbetalingsbedrag geplaas en die stelsel word deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geadministreer.

Die DA sê volgens die stelsel het elke kwalifiserende student toegang tot hoër onderwys, ongeag hul vermoë om te betaal. Hoër onderwys is gratis vir arm studente, maar nie vir gegradueerdes wat ʼn inkomste verdien nie.

“Wanneer dit ʼn bedryf word in ʼn liberaal-demokratiese bestel met ʼn maatskaplike markekonomie en veilige private eiendomsregte, verbeter die kans dat gegradueerdes behoorlike werk sal kry en hul lenings kan terugbetaal,” sê DA-leier John Steenhuisen.

Hy sê ekonomiese groei volg altyd op die hakke van ʼn oop ekonomie.

Steenhuisen sê die benadering gee finansiering vir hoër onderwys ʼn verdere hupstoot: Lenings word beter terugbetaal en die jaarlikse begroting vir NSFAS- en universiteitstoelae is hoër omdat die belastinginkomste hoër is.

“Dit skep ʼn volhoubare stelsel wat nie net toegang tot hoër onderwys beskerm nie, maar ook die gehalte en kwantiteit van hoër onderwys in Suid-Afrika. Dit is gegrond in die werklikheid dat gratis (fee-free) hoër onderwys terugkerend is en begrotingsbesnoeiings aan maatskaplike prioriteite soos basiese onderwys en maatskaplike toelae noodsaak.”

Universities South Africa (USAf) stem saam dat indien hoër onderwys openbare waarde (ʼn waarde aan die breër gemeenskap) en private waarde (ʼn waarde vir die individu wat as gegradueerde meer geld verdien) voeg, moet dit gedeeltelik deur die staatskas en gedeeltelik deur private belegging (bv. studiegeld) betaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Werner ·

Die persoon wat dink dat hierdie werklik gaan oor studie skuld yl.Dit is n rewolusie wat besig is om te ontstaan.Dit is hoe die Arab springs ontstaan het.

Stefaan ·

Dit het begin net nadat zuma en malema se tee partytjie plaas gevind het. Soek die eff se hand hierin

Tanja ·

Kan ons die studente kwaalik neem, hulle ouers het dan geld by staat gekry net omdat hy gebore is, gratis en verniet, toe kry hy gratis medies, gratis water en krag, gratis skool onderrig, gratis behuising, gratis t-hemp en kospakkie as hy stem, o ja en as hy brand en plunder kry hy sy sin, en alles word reg gemaak wat hy afgebreuk het, weer gratis en verniet, soek hy net sy gratis universiteits serifikaat en dan gaan hy aandring op sy gratis werk om sy gratis salaris te verdien, lekker in SA

Nie Verbaas ·

Die studente eis dat hulle skuld afgeskryf word. Wie en wat dink hulle is hulle? Nou moet universiteite mense met die verkrampte benadering in die ekonomie instuur. Hoekom betaal NSFAS in elk geval die gelde aan die student oor en nie direk aan die universiteite nie? Op die manier word geld dan werklik gebruik waarvoor dit veronderstel is om voor aangewend te word.

gatgogga ·

Ek sien die studente se begrip van historiese skuld so:
Jy maak skuld, onderneem om dit terug te betaal – maar jy betaal nie terug nie.
Dan gaan jy voort en maak weer skuld. Jou vorige uitstaande skuld is nou historiese skuld, en word nou outomaties gekanseller en vervang met jou nuwe skuld alleen.
As jy dit nie kan begryp nie, stel ek voor jy skryf in by enige instansie van hoer onderwys vir die kurses “De-colonised Economy I”. Dis gratis, met die komplimente van Jakop Zuma en die belatingbetaler.

Mariana ·

“Teen die koers wat studente druip”, maw hulle sit en doen niks en hoort eintlik daar nie. Dan word die wat wil leer en wil vorentoe beweeg weggewys. Laat my nie vertel dat al daai “studente”daar is omdat hulle so goed geslaag het in matriek nie, slaagvereistes vir matriek is pateties en nie moeilik om te slaag nie. Nee hulle is daar met doel en natuurlik is die EFF daar om als te ontwrig en te vernietig.

Jack ·

NSFAS is maar net nog een van die spykers in die doodskis van die Seffrican ekonomie. Ander spykers wat al reeds diep ingeslaan is is regstelende aksie, swart ekonomiese bevoordeling, kader ontplooing en staatskaping. En ons moet ook nie tenderpreneuring vergeet nie. Al hierdie verskynsels is deel van ‘n taktiek van die heersende kommunisties geinspireerde , sosialisties voorgewende ANC regering om die bevolking van hom afhanklik te maak en so ‘n houvas op hulle steun te verkry. Die enigste probleem is dat as die geld opdroog verswak die greep en stort alles in duie.
Ek is baie optimisties oor die jonsgte verwikkelinge. Die ANC se steun en hegemonie is besig om te verkrummel. Daar gaan groot moleste kom maar dit gaan deel wees van ‘n uitskud proses waartydens die ANC en ander radikale swart groepe se greep op swart kiesers gaan vervaag. Dis ook waarskynlik dat verskillende swart groepe mekaar gaan teenstaan. Alle regdenkende mense moet hierdie in berekening bring .

gatgogga ·

Ek dink jy lees dinge heeltemal reg, Jack.
Ek wou jou eers teregwys op jou “regstelende aksie”, maar ek dink jy bedoel dit so, en ek stem weer saam.

Aikie ·

Dit is nou die nasleep van Jacob Zuma wat sy bes probeer het om die aandag van homself af te lei. Daardeur het hy ons oneindige moeilikheid op die hals gehaal.
Erens in die toekoms gaan die ANC die N-woord moét gebruik, dan gaan die vonke spat en daar gaan vuurwerke wees van dié wat gewoond is om net freebies te kry. Erens gaan hulle moét nee sê.

gatgogga ·

Zuma se gratis universiteits onderrig belofte, was sy “hospital pass” aan Cyril.
Maar dit gaan nog backfire.

Deon ·

En hoe meer hulle nou so gratis uitdeel, hoe vinniger kom daai nee aan,

Persheks Adri ·

Vir die hoeveelste keer: BETAAL soos ons blankes vir wat jy wil hê in die lewe! Absoluut NIKS is verniet, mahala en gratis nie magtag man kry dit in julle koppe pffft!!! Bekotsingswaardig dis wat julle is klomp liberale

Debbie ·

Waarom gaan betoog hulle nie voor Zuma se nkandla nie, hy het hierdie verniet onderwys belowe. Nie die universiteite nie

Zombie ·

Ek dink die idee van “self in die voet skiet” is te moeilik om te verstaan. Elders berig MM dat ambulanse met ‘n petrolbom bestook is. Sal ‘n regdenkende persoon wat die begrip “self in die voet skiet” verstaan, afbrand, weier om studieskuld af te betaal en ambulanse aan die brand steek ? Ek betwyfel dit.

Hermien ·

Universiteite se toelatings vereistes moet minstens n gemiddels van 75% wees, studie lenings moet kwartaalliks wees, dis wel beskikbaar vir die jaar maar as jy x hoeveelheid klas gemis het en onder 75 vir 3 toetse gekry het word jou studie lening opgeskort. Jy moet hard werk en comitted wees om met n beurs te studeer want dan mors jy nie jou ouers se geld nie maar ander mense se geld. As jy ook opgeskop het het jy nie n tweede kans nie.

gatgogga ·

En studente moet in die keuringsproses ook voorkeur kry as hulle ten minste vakke bestudeer wat vir die vooruitgang van die land iets beteken.
Almal wil dinge soos Political Science (Science?) leer. En die “de-colonised” twak, wat dit ookal mag wees – maar dis net vir ‘n lekker studente vakansie op ons onkoste.

Deon ·

Ja dis waarvoor hul daar is, as hulle besig gehou word gaan hulle nie tyd he vir aanjaag nie…

Eragrostis ·

Op die einde gaan dit alles oor politiek. Zuma se selfsugtige en ondeurdagte uitspraak (soos vele daarvan) was om sy persoonlike politieke agenda te dryf in ń poging om meer stemme vir homself te werf midde ń dreigende skeuring en faksie gevegte binne die ANC op daardie stadium. Net daarna was hy onttroon deur Ramaphosa. ‘n Benoude kat wat benoude spronge gemaak het, en nou betaal Suid-Afrika die prys.

Strandloper ·

Wonder soms hoekom daar altyd iets moet brand waar die Everything Failed Family betroke is…kry hul dan koud? Normale mens raak warm waneer hulle kwaai is?

anko ·

Hello??? Niks is gratis is in die lewe nie, miskien suurstof wat jy inasem sonder ‘n masjien, want die lug is ook besoedeld. My ouers kon nie vir ons kinders universiteitsgelde bekostig nie en moes dit derhalwe so aanvaar. Beurse was nie vir ons beskikbaar nie. Ons het nie “demand” nie en het in ander rigtings gegaan. Dit wat gratis verskaf word, word nie waardeer nie. Wonder wanneer die studente eendag hul eie besighede het of hulle dan werknemers gratis gaan aanstel? Vra net. Wees en aanvaar verantwoordelikheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.