‘Krisis in sakevertroue kan voortduur’, waarsku Sakeliga

Die organisasie Sakeliga sê hy is bekommerd oor die onlangse afname in sakevertroue, soos gemeet aan die RMB/BEO se Indeks van Sakevertroue (BCI).

Die RMB/BEO se sakevertroue-indeks het in die derde kwartaal van 2019 tot die laagste vlak in 20 jaar gedaal. Die indeks staan tans op laer vlakke as gedurende die groot finansiële krisis van die laat 2000’s.

“Ons vind die skerp daling in sakevertroue in die derde kwartaal van 2019 tot 21 punte hoogs verontrustend, maar nie heeltemal verbasend nie. Die werklikheid is dat baie mense in die sakesektor groot onsekerheid beleef en toenemende politieke risiko bespeur, terwyl hulle wesenlike regulering- en nakomingslaste die hoof moet bied,” het Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, gesê.

Sakeliga het in ʼn verklaring gesê sy interne opname onder lede en intekenaars in Augustus 2019 toon dat 84% van die respondente groter politieke risiko as drie jaar gelede ondervind. Faktore soos swak ekonomiese vooruitsigte, kommer oor regeringsbeleidstellings (soos SEB) en politieke onstabiliteit en onsekerheid in die algemeen, is van die vernaamste risikotemas vir die respondente in die opname.

“Oormatige ekonomiese inmenging en duur nakomingslaste is duidelik faktore wat sakevertroue afrem. Ons opname dui nog nie op ʼn grootskaalse uittog nie, maar dit toon wel dat baie ondernemings diversifiseer of beoog om te diversifiseer na vriendeliker sakeomgewings in die buiteland oor die volgende drie jaar, ten einde geleenthede te soek en as verskansing teen waargenome plaaslike politieke en beleidsrisiko’s,” het Van Onselen gesê.

“Te oordeel na die dalende vertroue het die huidige regering se pogings om die ekonomie te hervorm nog geen vrug gedra nie. Intussen word die onsekerheid vererger deur politieke kommentaar oor onteiening sonder vergoeding, dreigemente van strenger toepassing van diensbillikheid en SEB, die NGV, voorgeskrewe bates en ander dreigende beperkings op markvryheid en private eiendom.”

Sakeliga het gesê hy verwelkom die stappe vir markvryheid soos blyk uit die onlangse beleidsdokument wat die tesourie onder die minister van finansies, Tito Mboweni, uitgereik het.

Sakeliga het gesê hoewel hy die dokument nie in sy geheel kan steun nie, verwelkom die organisasie beslis die markvriendeliker voorstelle daarin vervat, soos verslapping van visumregulasies, beoogde hersiening van rompslomp, vrystelling van sommige regulasies vir kleinsakeondernemings, proeflopies van Spesiale Ekonomiese Gebiede (SEG’e), asook stappe om oorgrenshandel te vergemaklik.

Ondanks die tesourie se dokument en die klaarblyklik onsekere status daarvan, vereis die beleidsomgewing egter nog baie meer ernstige stappe in die rigting van markvryheid, het Sakeliga gesê.

Hy glo die regering moet uiteindelik ʼn veel kleiner rol in die ekonomie speel en entrepreneurs, beleggers en ander sakelui die vryheid gun om gesonde handelsaktiwiteit na te streef met so min beperking, staatsinmenging en rompslomp moontlik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Frik ·

Tito se plannetjie dra geen gewig nie. Vroeg volgende jaar sal die ANC ‘n nuwe plan op die tafel sit, en dit sal ‘n groter rol vir die staat uitstippel.

John ·

Was dit nie die sakelui wat voor 1994 voor in die koor… die oorverdowende soprano… geskreeu het vir verandering sodat die geldjies kan inrol nie… sè net ja-ja… skreeu ook amandla seblief tog… en wat nou? Het die plan toe nie gewerk nie?

JR ·

En toe dit misluk toe vlug van hulle maar land uit en los ons met die gemors

Oom Koos ·

Daar gaan dadels kom van die regering se planne om ekonomiese groei aan te wakker. Sy sosialisties/kommunistiese beleidsrigtings en vyandige houding jeens entrepreneurs sal daarvoor sorg.

Sieg ·

Ja die vertrou sal nog verder daal, dit sal maar sukkel-sukkel gaan om in n gangster state te belê. Sake vertrou kan nie vertroue verbeter in n gangster state nie.

Sieg ·

Ja ek gaan doen liewer sake in n ander land waar ek veilig is en nie versmoor word met verwoesting, verkragde tax, moorddadige optredes teen maatskappye nie.

Jerry ·

Die ANC behoort politieke en beleidsrisiko’s te verslap om die publiek te paai en te mislei sodat die staat beheer kan neem oor privaatmaatskappye, privaatfondse en pensioenfondse en om dit te kanaliseer deur SOE’s na kaderstrukture. Sodra hierdie fondse gemelk is en die publiek verarm het, dan sal lande soos China groot beleggings instoot vir die ANC om die rand op te tel vir die ANC en vir China.

Johanna Botha ·

Die mense wat n verskil wou en kon maak ….IS WEGGGG ! ! Die wat nou oorbly demand net …en die buiteland en beleggers weet dit !

Andrea van Vuren ·

Ons land is leierloos. CR glo as hy by bankrot lande gaan kruip dit hom en ons êrens gaan bring. Ons is kerklos, kerkloos en taalloos. Wat bly oor? Ons wag vir SAKELIGA om iets te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.