Kritieke poste in SAPD gevul

Genl. Fannie Masemola (links) en genl.maj. Maropeng Johanna Mamothethi (Foto verskaf)

Twee noodsaaklike poste in die SAPD se bestuurstruktuur is gevul met die aanstelling van ʼn afdelingskommissaris verantwoordelik vir sigbare polisiëring en ‘n provinsiale polisiekommissaris in Gauteng.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het gesê die aanstellings is noodsaaklik om die ontplooiing van kapasiteit en hulpbronne in die uitvoering van die SAPD se mandaat te verseker.

“Dit sal die SAPD se pogings verskerp om polisiesigbaarheid in gemeenskappe te verhoog om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek en uiteindelik die oortreders aan te keer.”

Genl.maj. Maropeng Johanna Mamothethi is met ingang van 1 Maart 2024 aangestel as afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring en operasies met die rang van luitenant-generaal. Mamothethi het 28 jaar diens en het ʼn diploma in polisiëring, ʼn B-Tech-graad in polisiëring en ʼn B.Com-graad in menslikehulpbronbestuur.

Sy het as adjunk- provinsiale kommissaris vir ondersteuningsdienste in die Noord-Kaap gedien en ook as afdelingshoof vir misdaadvoorkoming waar sy verantwoordelik was vir vennootskappolisiëringsprogramme.

As afdelingshoof van vuurwapens, alkohol en tweedehandse goedere, het sy die agterstand in amnestie-aansoeke vir vuurwapens en vuurwapenlisensiëring met 94% verminder. In die 2021/2022- finansiële jaar het sy die finalisering van 531 249 vuurwapenverwante aansoeke hanteer.

Masemola sê die doeltreffende bestuur van amnestie-aansoeke het die getal onwettige vuurwapens in sirkulasie in die land verminder.

Sedert April 2022 het sy toesig gehou oor die vernietiging van meer as 72 000 vuurwapens wat vrywillig aan die staat oorhandig is of tydens misdaadvoorkomingsoperasies gekonfiskeer is.

Genl. Fannie Masemola (links) en genl.maj. Tommy Mthombeni (Foto verskaf deur die SAPD)

Genl.maj. Tommy Mthombeni is aangestel as Gautengse polisiekommissaris op die rang van luitenant-generaal. Sy aanstelling is ook geldig vanaf 1 Maart 2024.

Dié pos is sedert 1 Februarie 2024 vakant.

“Aangesien Gauteng die ekonomiese middelpunt van die land is, het die SAPD die proses, om die vakante pos te vul, bespoedig om voortgesette misdaadbekamping te verseker,” sê Masemola.

Mthombeni dien sedert 2020 as adjunk- provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, verantwoordelik vir sigbare polisiëring.

Hy het in 1986 by die polisie aangesluit en het 37 jaar diens. Hy het al verskeie senior poste beklee insluitend bevelvoerder en distrikskommissaris van Tshwane, en stasiebevelvoerder van die Jabulani-polisiestasie in Soweto en stasiebevelvoerder vir Pretoria-Sentraal.

Hy het ʼn nasionale diploma in polisieadministrasie en ʼn nasionale hoër diploma in polisiëring asook ʼn meestersgraad in staatsadministrasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Heinrich ·

Lyk maar vir my maar net na verdere kaderontplooing. Sal bittergraag verkeerd bewys wil word met tasbare positiewe vordering uit hierdie aanstellings; gaan nie my asem ophou nie.

anko ·

Hoop aanstellings het deur die range gegaan om te weet waar oor polisiëring gaan veral die praktiese aspekte

Piet parys ·

25 jaar in die polisie beteken niks in die Anc regering se polisie nie . Die vraag is eerder wat het jy positief gedoen om misdaad te verminder. Lyk my die kentucky s in die omgewing maak groot wins uit die oorgewig kaders en die belasting betaler betaal daarvoor.

Di ·

Nog twee wat niks gaan doen maar ‘n massiewe salaris ontvang! Al stel hulle 20 000 lede aan, gaan dit GEEN verskil maak aan die polisiemag nie. Die meeste wat daar werk is of kriminele of onbevoeg en te sleg om te werk. DIE wat wel hulle werk doen is slegs ‘n handtjievol en ons is dankbaar vir hulle.

Minnie ·

Al die sogenaamde grade maar wat help dit as die kennis nie toegepas kan word nie?
Hul gaan seker van die huis af werk want HK is toe.
Lyk nie juis of hul fiks genoeg is vir fisiese misdaadvoorkoming nie……
Pure geldmors….. weereens!!!!

Wikkie ·

Poste gevul, ja, met nog onbevoegte en korrupte kandidate. Hierdie mense ag hulself generale, maar die kanse is baie goed dat hulle nie ‘n enkele dag se opleiding as konstabels ontvang het en toe, van die grondfase af opwaarts, gevorder het tot by die rang van generaal nie. Dis ongelooflik hoe trots en aanstellerig mense kan wees oor ‘n rang wat hulle op geen manier verdien het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.