Krugersdorp-moorde: Twee verskyn in hof

Hanle Lategan. Foto: Facebook

Hanle Lategan. Foto: Facebook

Twee mans, onderskeidelik 29 en 36 jaar oud, het Maandag vlugtig in die Krugersdorp-landdroshof verskyn in verband met die drie opspraakwekkende moorde wat die dorp die afgelope maand geruk het.

Kapt. Appel Ernst, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die landdros het beslis dat daar nie foto’s van die verdagtes gepubliseer mag word nie weens die sensitiwiteit van die saak. Christian Kruger (29) en Fabian Luff (36) se saak is tot 14 Junie uitgestel wanneer hulle moontlik om borgtog sal aansoek doen. Die verdagtes staan tereg op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede. Hulle bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig Kruger is laat Donderdagaand in Krugersdorp in hegtenis geneem na ʼn intensiewe ondersoek deur die span ondersoekbeamptes sedert verlede Dinsdag. Luff is oor die naweek in hegtenis geneem.

Kapt. Ernst het intussen bevestig ʼn 19-jarige man, sowel as ander mense, is oor die naweek vir ondervraging ingeneem. Die 19-jarige is egter Sondagaand vrygelaat.

Die drie slagoffers is almal die afgelope tyd onder dieselfde omstandighede vermoor.

Hanle Lategan (52), ʼn eiendomsagent van Roodepoort, het verlede Maandagaand verdwyn nadat sy ʼn huis in Krugersdorp aan kliënte sou gaan wys het. ʼn Motoris is omstreeks 06:45 Dinsdagoggend deur skoolkinders voorgekeer wat gesê het dat hulle ʼn vrou se liggaam in ʼn veld gevind het. Die polisie het gaan ondersoek instel en Lategan se liggaam is langs ʼn spruit buite Randfontein gevind.

Kevin Mc Alpine (29), ʼn versekeringsmakelaar by InSHoor, se liggaam is die aand van 27 Mei in die kattebak van sy motor gevind op die hoek van Sivewright- en Francisstraat. Hy is kort voor sy liggaam gevind is as vermis aangegee nadat hy ʼn kliënt sou sien maar nooit teruggekker het huis toe nie.

Anthony Schofield (67), ʼn versekeringsmakelaar by Momentum, se liggaam is op 10 Mei in die kattebak van sy motor in Premierstraat gevind. Schofield moes ook vroeër die dag ʼn kliënt sien waarna hy verdwyn het.

** Die berig is gewysig na nuwe inligting aan die lig gekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

rocky bell ·

Ander media het die twee mans se name bekend gemaak. Hulle fotos mag nie gepubliseer word. Kom nou Maroela!

Nico Strydom ·

Dagsê rocky bell

Jammer vir die oorsig. Die berig is gewysig.

Vriendelike groete
Nico Strydom nms Maroela Media

Irene ·

Asnsoek doen vir borgtog en ons mag nie gesigte sien nie hoe werk ons regstelsel

Mel ·

Ja nee te flippen lekker, doen aansoek vir borg, tien teen een word dit in elk geval toegestaan maar Ja net 3 wat vermoor is, dis ‘n skande. Ek dink ni di woord kwaad en haat gaan eers kan beskryf hoe mens voel ni!!!My hart gaan uit na di families van di slagoffers, RIV

Joann ·

Verstaan nie nou,Sondagkoerant het dan van 19 jarige gepraat.

Sune van Heerden ·

Dagsê Joann

Die artikel bevestig kapt. Ernst het gesê ʼn 19-jarige man, sowel as ander mense, is oor die naweek vir ondervraging ingeneem. Die 19-jarige is egter Sondagaand vrygelaat.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

FRED ·

Ek het nie woorde nie. Stuur hulle vir my – Here, help my dat ek liewer sal swyg. Dis vreeslik – Wat ek dink – Ag, los dit daar, sal liewer nie kommentaar lewer nie. Nie op hierdie stadium nie. Asb. ander gelowiges, bid vir my. ASB.

Gironki ·

Ek sal graag wil weet watter rol die vrou, wat by die hospitaal op kringtelevisie saam met Hanle Lategan gesien is, gespeel het. Is sy een van die verdagtes?

Karin ·

Die is vir my wreed verby !!
My ma is ook n agent in Krugersdorp …en ek dink Hanle se begrafnis is juis vandag… ?
Maar wat vir my ontstellend is is dat dit ons eie wit mense is wat onder mekaar bgn moor!!!
En ek bly my ma waarsku om net ons mense as kliente te help…en nou dit???
Werklik ek dink nie iemand kan besef hoe beangs en hartseer dit my ma oa gemaak het om enigsins kliente te moet gaan sien nie . .sy is 63 en op die stadium is dit haar en my pa se enigste inkomste …en dan kry jy hierdie wreedheid wat aan onskuldige mense gedoen word!!!!
God sal nooit ons land red as ons so teenoor mekaar optree!!!

Hannie ·

Hoe sê hulle jy kan dink wat jy wil maar nie sê wat jy wil!

Flippie ·

Ek dink in die geval van skuldigbevinding kan die regter ‘n vonnis van openbare steniging oplê.

Dit behoort hierdie sieklike moréle verval in ons gemeenskap stop te sit. Sulke mense kan nie staatmaak op die gemeenskap se menslikheid nie.

johann cb ·

Dit wil vir my voorkom of hierdie moontlik ‘n sindikaat kan wees wat hier vasgetrek is. Ek glo dit is die geval, sodat mense weer hulle lewens na normaal kan terugkry. Baie sterkte aan die slagoffers se naasbestaandes.

Marita Marais ·

Iemand het iewers in kommentaar gese dat ‘n mens moet gaan loer na die Fabian Luff se fb blad en het verwys daarna dat hy die status ‘How to get away with murder’ het. Ek het gaan loer en sien dat dit verwys na ‘n hele reeks. Sal nogal interessant wees om te weet waar het sy idees vandaan gekom en watter rol hierdie TV reeks gespeel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.