Krulkop-skoonheid Anke oor ‘Die Kaplyn’, Mej. SA-reis

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Al het Anke Rothmann verlede jaar soos ʼn wafferse model oor die verhoog van die Mej. SA-kompetisie gestap, is sy as’t ware ʼn plattelandse meisie wat veel eerder ʼn paar tekkies as ʼn paar hoëhakskoene sal dra.

Dié 24-jarige krulkopskoonheid is tans te sien in Die Kaplyn, ʼn musiekspel wat rondom die grensoorlog handel en by die AfriForum Teater in Pretoria uitgevoer word.

Anke onthou hoe sy in 2022 Die Gelofte en ʼn jaar later Die Kaplyn gaan kyk het. Dit het lekker gelyk om deel van die produksie te wees, sê sy, en buitendien was sy nog altyd lief vir musiek en toneelspel.

Die rolverdeling van die jongste speelvlak lyk ietwat anders, met Carmen Basson wat nou die hoofrol van Lyfie vertolk, terwyl Anke en Mariné Moffat ook nuut in die produksie is.

Anke het reeds in 2023 harte verower toe sy aan die Mej. SA-skoonheidskompetisie deelgeneem het. Sy het uiteindelik die topsewe gehaal, en hoewel sy dit vandag as ʼn reuseprestasie beskou, het sy nooit in haar wildste drome gedink sy sou so ver in die kompetisie vorder nie.

“Ek het nog nooit vantevore aan ʼn skoonheidskompetisie deelgeneem nie,” erken sy aan Maroela Media.

Haar bos krulhare het haar veral laat uitstaan tydens die Mej. SA-kompetisie. Dit is juis haar unieke kapsel wat ʼn paar jaar gelede die oog van ʼn fotograaf gevang het. Dié het haar afgeneem en aangeraai om oor ʼn paar jaar vir die kompetisie in te skryf.

Onder normale omstandighede sou dié stukkie raad soos water van ʼn eend se rug afgerol het, want sy is ʼn Noord-Kaapse, plattelandse meisie in murg een been. Wat sal sy nou op die verhoog van so ʼn groot kompetisie gaan staan en maak?

Dié fotograaf het egter jare lank as amptelike Mej. SA-fotograaf gedien, en sy woorde het onder haar vel gaan sit. Soveel so dat sy tog ʼn paar jaar later besluit het om in te skryf.

“Ek sou dit nooit uit my eie uit gedoen het nie. Ek het nooit ernstig oorweeg nie.”

Tog onthou sy hoe sy as jong tiener daarvan gedroom het om in Rolene Strauss se voetspore te volg.

“Dit is mos waaroor alle jong meisiekinders droom.”

En toe gebeur dit

Anke onthou vandag nog presies waar sy was toe sy die oproep ontvang het wat haar in kennis gestel het dat sy die top-30 van die kompetisie gehaal het.

“Ek was so geskok. Jy skryf in, jy neem hierdie video, maar tog is jy baie realisties oor jouself. Daar is duisende meisies wat inskryf, almal is mooi, en almal kan hulleself goed oordra.”

Dit was ʼn uitdagende proses, onthou sy. Weke in ʼn hotel saam met die res van die deelnemers en ʼn splinternuwe klerekas wat sy tot vandag toe nie ten volle benut nie.

In die weke wat sy in die hotel gebly het, is die werklikheidsreeks Crown Chasers geskiet. Sy onthou hoe sy nie regtig kontak met haar gesin of vriende gehad het nie.

Wanneer sy vandag terugdink aan die ervaring, weet sy beslis dat Natasha Joubert verdien het om die kroon te dra.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Ek was nie vir een oomblik hartseer daaroor nie, en trouens beskou ek Natasha vandag nog as ʼn rolmodel by wie ek kon leer.”

Wat het sy in die proses geleer?

“Wees jouself, so cliché soos wat dit mag klink. Dit is belangrik om nie in jouself te twyfel nie.”

Verlief, verloof

Sy en haar gesin het ietwat rondgetrek in haar kinderjare, met die gevolg dat sy nie eintlik ʼn spesifieke tuisdorp het nie. Tog wanneer sy gevra word van waar sy kom, is sy ʼn trotse Noord-Kapenaar.

Anke is in Upington gebore, en “in die rooi sand sal haar hart bly”.

Sy het in Potchefstroom aan die Noordwes-Universiteit (NWU) studeer. Dit is ook waar sy haar verloofde, Pieter-Christiaan Coetzer, ontmoet het. Oor hom gesels sy graag; die skoot is hoog deur.

“Ek het lank ʼn oog op hom gehad, en toe hy my die dag nooi vir ʼn koffie-afspraak, het dit vir my gevoel asof ek ʼn reuseboerpot gewen het.”

Dié paartjie het vroeër vanjaar in Parys, Vrystaat, verloof geraak, ʼn dag wat sy nimmer as te nooit sal vergeet nie.

“Hy was so opgewonde, ek was nog nie eers by hom nie, toe is hy al op sy knie.

“Hy is nie eintlik ʼn romantikus nie, maar hy het daai dag sommer twee bosse blomme vir my gekoop!”

  • Die Kaplyn is tot en met 9 Junie by die AfriForum Teater in Pretoria te sien. Koop jou kaartjies hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Martie ·

Pragtige hare maar ek glo daar was baie gehuil as kind toe daardie hare uitgekam moes word. So ‘n krullebol kan maar lol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.