Kuier in Nagkantoor – SA se ‘Bonnie en Clyde’

(Foto: Neville Petersen)

In die vroeë tagtigerjare is Suid-Afrika aangegryp deur ’n paartjie wat op ’n wilde moordtog van 17 dae gegaan en vier onskuldige en niksvermoedende mans koelbloedig doodgemaak het, bloot om hulle geld vir drank en dwelms te steel. Charmaine Phillips en Pieter Grundlingh is gou die Bonnie en Clyde van Suid-Afrika gedoop deur die pers en daar is soveel aandag aan die twee gegee, dat ’n mens eintlik heeltemal te min oor die slagoffers te hore gekom het.

Op 22 Junie vanjaar het die persfotograaf Neville Petersen ses foto’s van die paartjie op Nagkantoor geplaas – die fyn bloedjong meisie met haar rooiblonde hare en die lang ouer man met die pikswart hare. Treffende foto’s van onder meer hulle hofverskynings en ook ’n foto in die polisiemotor wat geneem is met ’n langafstandlens. Op hierdie foto steek Charmaine tong uit vir die fotograwe wat almal probeer het om die beste moontlike foto te kry.

(Foto: Neville Petersen)

Die plasing op Nagkantoor het heelwat reaksie ontlok. Skielik was almal weer teruggeneem na daardie tyd toe die twee uiteindelik aangekeer is en voor die hof moes verskyn. Opmerklik op sommige van die foto’s is dat die twee loop en lag en gesels, geensins gepla deur die feit dat hulle ondersoek word vir moord nie. Neville maak iewers op die plasing die aanmerking dat hy goed kan onthou hoe die twee aan die begin baie gelag het maar dat dit mettertyd al hoe minder geword het.

(Foto: Neville Petersen)

Neville Petersen het soveel aangrypende oomblikke op film verewig.

Neville vertel dat hy daardie tyd ʼn jong fotograaf was, maar dat hy die hofsaak baie goed onthou. “Dit was beslis een van die grootste sake waarvan ek moes foto’s neem. Ek was nog jonk en dit het my nogal geskok om te sien hoe ligsinnig hulle was en dit nadat hulle vier mense doodgemaak het.

“Net nadat hulle gearresteer is, het ek die kans gekry om hulle af te neem. Daardie dag het hulle vreeslik gelag, en by daardie geleentheid het ek die foto van Charmaine geneem waar sy tong uitsteek en vinger wys. Aan die begin van die hofsaak het sy ook vreeslik gevloek en tekere gegaan, maar dit het mettertyd begin afneem. Hulle was glad nie gepla dat ek hulle afneem nie, maar teen die einde van die hofsaak het hulle al hoe meer probeer wegkruip vir die kameras,” vertel Neville.

’n Nag om te onthou

Sharon Ann du Toit het op Neville se foto’s gereageer en vertel dat sy Charmaine se sussie en ouer broer goed geken het. In die tyd wat Charmaine en Pieter voortvlugtig was vir die polisie is Sharon en haar man een aand uit die slaap wakker geklop.

“Ons het destyds oʼn’n plek gebly met die naam Swart Umfolozi, net buite Vryheid. Charmaine se broer Rob ʼns ’n werktuigkundige wat op ons bure se plaas gewerk en gewoon het. So het ons hom goed leer ken. Hy was baie bitter teenoor sy pa, en het sy ma se van, Dubery, gebruik.

(Foto: Neville Petersen)

“Robert het ons baie van hulle omstandighede vertel en ek weet hoe moeilik hulle kinderjare was. Dit was nogal ’n spanningsvolle tyd toe ons gehoor het dit is Charmaine, Rob se sussie, wat aan die vlug was vir die polisie.

“Die huis op ons buurplaas het leeg gestaan nadat die mense getrek het. Dit was nie ver van ons huis af nie maar aan die ander kant van die rivier. Daar was nie krag op ons plaas nie maar daardie nag drie-uur, het ons wakker geword van ’n gehamer aan die deure. Alles om ons was helder verlig. Die polisie het ons huis omsingel. Hulle het inligting ontvang dat Charmaine en Phillip iewers in die omgewing skuil en wou weet of hulle in ons huis wegkruip.

“Daar was seker 15 polisiemanne. Die eerste ding wat hulle wou weet, is of ons dalk die twee wegsteek maar ons het net gesê ons weet niks nie. Uiteindelik het die leë huis aan die oorkant van die rivier ter sprake gekom. My broer was nog op skool en hy en ’n vriend het daar by ons gekuier. Die polisie het toe gevra of die twee laaities vir hulle die huis oorkant die rivier sal kan gaan wys. Hulle is toe saam met ’n paar konstabels te voet daar weg.

“Die huis was sowat twee kilometer van ons huis af. Ná ’n hele ruk het die polisie saam met my broer-hulle daar aangekom en aan die bevelvoerder gesê hulle kon niks by die ander huis kry nie. Eers nadat hulle almal daar weg is, het my broer vertel hulle het nooit by die huis uitgekom nie. Die klomp polisiemanne het mekaar so bang gepraat, hulle het besluit om om te draai nog voor hulle by die verlate huis was. Vroeg die volgende oggend, net voor sonop, het ons die geluid van ʼn dreunende motorfiets gehoor…

“Ek het baie keer gedink as iemand net kon ingryp toe Charmaine-hulle klein was, dan sou haar lewe dalk heel anders uitgedraai het. Hierdie herinneringe sal vir ewig by my bly,” sê Sharon.

Saam in die tronk

(Foto: Neville Petersen)

Iemand wat die kans gekry het om Pieter Grundlingh te ontmoet terwyl hy verhoorafwagtend was, is Corné Stoltz. In daardie tyd het Corné vir die Natal Mercury as verslaggewer gewerk. Corné was een van die mense wat saamgesels het en op Neville se plasing verklap het dat hy in dieselfde tyd as Grundlingh in die gevangenis was.

“Nou ja, in daardie tyd was ek ook maar ’n hardegat joernalis wat nie vir die duiwel gestuit het nie. Iemand het aan my ’n dokument gegee wat ’n hooggeplaaste in die Nasionale Party in groot moeilikheid sou laat beland het. Op 28 November 1983 het die balju na my toe gekom by my huis in Amanzimtoti met ’n hofbevel. Ek is skuldig bevind aan minagting van die hof, want ek wou nie die dokument oorhandig nie.

“Die dag laat het ons aangekom by die sentrale gevangenis in Durban. Die eerste nag het ek in die siekeboeg deurgebring en die volgende dag is ek na sel drie geneem. Daar was nege mense in die sel en Pieter Grundlingh is in dieselfde sel aangehou. Daardie middag het hulle hom uitgeskuif na sel twee.

“Hy en ene Mey wat aangekeer was vir bankroof met ’n speelgoedrewolwer, was saam in sel drie. Hulle het toe probeer om die tralies van die sel oop te buig met toiletpapier en ʼn skoen, en is toe al twee uitgeskuif na ’n enkelsel. Om daardie rede is hulle ook nie toegelaat om in die oggende saam met die ander gevangenes na buite te beweeg vir die tyd wat ons toegelaat is in die binnehof nie.

“Toe ons later die dag uitgaan vir aandete, in die tronk eet jy mos drie-uur in die middag jou aandete, het ek hom agter sy traliedeur sien staan en ek het hom gegroet. Daarna het ek altyd, wanneer ek verby sy sel beweeg, altyd ’n bietjie met hom gesels. Wanneer hy ook al probeer het om enigiets aan my te sê oor sy misdade, het ek dit weggepraat want ek wou op geen manier teruggeroep word om in die hof te getuig nie. Een ding wat ek wel onthou wat hy vir my gesê het, is: “Chamie is ’n baie, baie goeie mens.” Hy het die troetelnaam Chamie gebruik en nie na haar verwys as Charmaine nie.

(Foto: Neville Petersen)

“Een ding is seker, ek kon daardie tyd nie glo die man in die tronksel langs myne het al die goed gedoen waarvoor hy uiteindelik met sy lewe geboet het nie. Ons het op ʼn manier byna vriende begin raak en dit was vreemd, want hy het met niemand anders gesels nie. Hy het ook aan my gesê dat hy nie weet wat met hom gebeur het en hoekom hy dit gedoen het nie.

“Miskien het hy my nader aan hom toegelaat omdat ek altyd vir hom uit die eetplek in die binnehof ’n stuk brood saamgebring het met ʼn bietjie stroop of konfyt daarop. Op ’n dag het hy ook vir my gesê dat ek as joernalis gaan sien Charmaine is onskuldig.

“Presies ’n maand nadat ek toegesluit is, het iemand by my aangekom met ’n dokument wat ek moes teken. Dit het verklaar dat ek my heeltemal distansieer van die dokument, dat ek nooit iets sal maak met die inligting daarop nie en dat ek dit vernietig het. Ek het geteken en die volgende oggend uit die bloute het een van die bewaarders vir my gesê: ‘Stolz, bring jou goed. Jy gaan uit.’

“Ek het soos altyd voor Pieter Grundlingh se sel gaan staan. Hy het sy hand in ’n groet gelig. “Sterkte ou!” Toe hy twee jaar later gehang is, was ek selfs so ’n bietjie hartseer daaroor. Daar in die tronk, met ’n snytjie brood wat ek af en toe vir hom aangedra het, het ons soort van vriende geword,” vertel Corné.

Met tannie Sienie onder die vlerk

(Foto: Neville Petersen)

’n Saak wat hom diep geraak het en wat beslis een van die hoogtepunte in sy lang loopbaan in die joernalistiek was, sê Philip de Bruin, was Pieter en Charmaine se hofsaak. Hy het die saak namens Beeld gedek en was daagliks in die hof.

Beeld het destyds Pieter se ma, tant Siena, onder die vlerk geneem. Sy het nie geld gehad om haar kind se verhoor by te woon nie. Beeld het toe vir haar verblyf betaal en sy het saam met my afgery Pietermaritzburg toe.

“Pieter het nie veel gesê tydens nie verhoor nie, maar Charmaine was ’n geitjie wat nie haar mond gehou het nie. Selfs nie vir die regter nie. Sy was die hele tyd vermakerig en uitdagend. Charmaine het ook nie gehuiwer om tussenwerpsels te skreeu wanneer een of ander getuie besig was nie en die regter moes haar gereeld aanspreek. Sy het ook baie gevloek en selfs na die fotograwe gespoeg.

“Tant Sienie het eintlik so ʼn tragiese lewe gehad en sy het die hele hofsaak reg langs my gesit en nooit my hand gelos nie. Een etenstyd het sy my gevra of ons dalk na ’n groentewinkel kan gaan, want sy wou vir Pieter ’n paar lemoene koop. Daar in die groentewinkel staan sy toe met die twee lemoentjies, niks groter as ’n tennisbal nie. “En nou tannie Sienie?” het ek gevra maar sy het gesê sy het nie geld vir meer nie. Toe vat ek maar die mandjie en sit ’n hele sak vol vrugte daarin waarvoor ek betaal het. Dit maak my nou nog hartseer as ek daaraan dink.

“Tannie Sienie het die geleentheid gekry om soms in etenstyd af te gaan en met Pieter-hulle in die aanhoudingselle te gesels. Op ʼn dag kom sy na my toe en sê Charmaine wil haar diamantring verkoop. Ek het toe die diamantring van Charmaine gekoop, en dit is steeds hier by my in ’n vertoonkas. Charmaine het baie verander in die tronk en ons het oor die jare vriende gebly, ʼn sagte, goeie mens. Heel anders as die geitjie van die hofsaak.

“Die twee het beslis die media se verbeelding aangegryp – die Bonnie en Clyde van Suid-Afrika. Dit was ʼn aangrypende verhaal: hulle woeste jaagtog om van die polisie weg te kom, dan duik hulle hier op, dan daar! G’n wonder dit het Suid-Afrikaners se aandag vasgevang gehou nie,” sê Philip.

(Foto: Neville Petersen)

Charmaine en Pieter se bloedspoor

Charmaine se verhaal begin nie op 24 Desember 1981 toe sy Pieter Grundlingh vir die eerste keer ontmoet het nie. Dit begin veel vroeër in ’n disfunksionele huisgesin. Sy was een van sewe kinders. Haar ma was ’n alkoholis en haar pa ’n skisofreen wat die hele tyd hoog was op dagga. Om haar kinders aan die lewe te hou, het Charmaine se ma as sekswerker geld verdien. Sy het haar klante sommer huis toe gebring. Daar was ook verskeie selfdoodpogings van die ma waarvan Charmaine meer as een keer getuie was. Die kinders was in en uit veilige plekke maar Charmaine was skaars 14 toe sy by haar pleegouers wegloop, al hulle geld steel en self op straat probeer oorleef. Ook as sekswerker in Durban.

Op 15-jarige ouderdom raak sy swanger en sy gaan na ’n tuiste vir ongehude moeders in Port Elizabeth waar sy geboorte skenk aan haar eerste seun, Ricky-Lee. Hy was die seun van ’n Libanese matroos wat haar weggejaag het toe hy hoor dat sy swanger is. Die owerhede het die seuntjie in pleegsorg geplaas en haar aangesê om terug te gaan skool toe. Dit het net drie ure geduur, toe is sy weer terug strate toe. Sy het die maatskaplike werkers oortuig om die baba vir haar terug te gee.

Die volgende hoofstuk in haar verhaal is toe sy ’n Griekse seeman ontmoet het. Hy het beloof om haar terug te neem Griekeland toe. As sy met hom trou, het sy geweet, sou sy makliker toesig oor Ricky-Lee kry. Elke keer wanneer die Griek weg is op die see, het sy haar tot prostitusie gewend om te oorleef. Op ’n dag het hy net nie teruggekeer nie. Die huwelik is ontbind weens verlating.

Charmaine het ’n ou vriend ontmoet en saam het hulle klein misdade gepleeg bloot om hulle daggagewoontes te befonds. Ricky-Lee is van haar weggeneem en is uiteindelik deur ’n Ierse egpaar aangeneem wat hom saam met hulle na Ierland geneem het. Sy het nooit weer haar seun gesien nie.

Dit is ook hierdie vriend van Charmaine wat haar aan Pieter Grundlingh voorgestel het. Sy was nou terug in Durban. Charmaine en Pieter het ’n paar dinge gemeen gehad, hulle liefde vir dwelms en om te fuif.

Pieter se agtergrond het heelwat van hare verskil. Hy het grootgeword in ’n plaasgemeenskap in Ermelo, en sy familie het later gesê dat sy tyd in die tronk hom gewelddadig gemaak het. Hy was aangehou vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en was pas op parool uit toe hy vir Charmaine ontmoet het. Pieter het gou vir Charmaine geleer dat dit nie nodig is om haar lyf te verkoop om geld in die hande te kry nie. Dit is veel makliker om ’n vuurwapen op iemand te rig en hom of haar só te oortuig om die geld te oorhandig. Daar was ’n hele paar sulke slagoffers, maar almal van hulle het bly leef, al was hulle erg getraumatiseerd.

Intussen het Pieter vir Charmaine Ermelo toe gevat om sy ma te ontmoet. Sy het weer ’n keer swanger geraak en in 1982 is hulle seuntjie, Pietertjie, gebore. Hy was saam met hulle tydens hulle uiteindelike moordtog. Op 14 Junie 1983 daag Pieter en Charmaine in Umdloti aan die Natalse Noordkus op. Dis winter en die toeristedorpie is stil. Al die geld van hulle vorige rooftogte was op en hulle wou dwelms en drank in die hande kry.

Die twee besluit toe om na die kroeg Smugglers in Durban te gaan. Gerald Meyer (34) was die aand in die kroeg nadat hy die hele dag op sy branderplank in die see was. Die twee het vriende gemaak en Pieter het voorgestel hulle ry na ’n afgeleë plek waar hulle ongestoord dagga kon rook. Langs Gerald op die agtersitplek het Pietertjie gelê en slaap. Ná 20 minute het hulle op ’n verlate plek stilgehou. Pieter het Gerald beveel om uit die motor te klim. Hy het ’n vuurwapen teen sy kop gedruk en Gerald gevra om sy beursie te oorhandig. Terwyl Gerald nog sy kop met sy hande wou bedek, is hy in die kop geskiet.

Vir die volgende paar dae het die paartjie laag gelê maar met ’n baba by hulle, het niemand enige onraad vermoed nie. Hulle is toe van daar af Richardsbaai toe waar Pieter ʼn vriend van hom gevra het of hulle ʼn paar aande in sy huis kan bly. Pieter is weer kroeg toe op die aand van 19 Junie en hy keer terug met Vernon Alexander Swart (28). Pieter beloof om hom saam te neem Empangeni toe en ’n uur later stop hulle in Melmoth. Pieter beveel vir Charmaine om Vernon aan ’n boom vas te bind. Dieselfde patroon sou volg. Hulle skiet hom, vat sy geld en los hom net daar.

Vir ongeveer ’n week het die twee weer laag gelê. Nou keer hulle terug Ermelo toe. By ’n kroeg ontmoet Pieter vir Barend Greyvenstein (32). Greyvenstein was op soek na ’n geleentheid Kinross toe en die drie saam met die baba is toe daar weg. Hulle stop toe eers op Secunda by vriende van Pieter waar hulle ’n rugbywedstryd sit en kyk. Greyvenstein maak toe die fout om te sê hy sal al die geld in sy bank verwed op een van die spanne. Net daar sê Pieter toe hulle moet ry. ’n Ent weg van die Kinross-dam, hou hulle stil en dwing weer vir Greyvenstein uit die kar uit. Die keer vat hulle sy bankkaart en dwing hom om die PIN vir hulle te gee. Die oomblik toe hy dit doen, word hy geskiet en agtergelaat. Daarna het hulle daar by ’n vriend van Pieter se huis gestop. Net die huishulp was daar, want die vriende was op vakansie. Hulle oortuig haar dat hulle in die huis mag slaap.

Die volgende oggend vroeg is hulle Bloemfontein toe waar hulle al die geld uit Greyvenstein se bankrekening onttrek het. In Bloemfontein het hulle die 25-jarige Martin Mofosi langs die pad sien loop. Hulle het hom opgelaai en gevra of hy dagga in sy besit het. Hy het gesê dat hy het en ’n entjie uit Bloemfontein het hulle stilgehou en Mofosi uit die kar getrek. ’n Enkele koeël in die kop het sy kort lewe op 30 Junie 1983 beëindig.

Teen hierdie tyd was die polisie al goed op hulle spoor danksy verskeie getuies wat dieselfde beskrywing van die paartjie met die baba gegee het. Die volgende wat hulle gesien het, was toe hulle foto op die destydse Police File, ’n misdaadprogram, verskyn het. Nou was hulle op die vlug. In hierdie tyd het die koerante besonder baie blootstelling aan Suid-Afrika se Bonnie en Clyde en die bloedspoor wat hulle agtergelaat het, gegee.

Die twee is uiteindelik na Braamfontein in Johannesburg waar Charmaine vir Pietertjie aan haar skoonsuster oorhandig het. Daarna het hulle ’n rooi Kawasaki gesteel en weer verder gevlug. Hulle is uiteindelik op 15 Julie 1983 in Vereeniging aangekeer.

Charmaine en Pieter se hofsaak het in Oktober 1983 begin. Hulle is aangekla van vier moorde en verskeie voorvalle van diefstal. Weens Charmaine se slegte gedrag in die hof, het die regter ná drie weke besluit om haar eers weg te stuur vir sielkundige waarneming. Vroeg in 1984 is daar egter bevind sy het geen dieperliggende sielkundige probleme nie en die hofsaak kon voortgaan.

Die res van die hofsaak was om te probeer vasstel of Charmain ’n koelbloedige moordenaar was, of bloot die slagoffer van ’n veel ouer aggressiewe minnaar. Albei het getuig dat hulle die sneller getrek het. Charmaine was net 19 jaar oud en in 1983 kon iemand jonger as 21 jaar nie die doodstraf kry nie. Uiteindelik het die regter gesê dit maak nie saak wie die sneller getrek het nie, hulle is albei ewe skuldig. Hy het ook gesê indien Charmaine ouer was, sou sy dieselfde vonnis as Pieter gekry het.

Charmaine het vier lewenslange vonnisse gekry, en Pieter die doodstraf. Op 30 Julie 1985 het hy die 52 trappe na die galg geklim en met sy lewe vir sy misdade geboet. Net voor sy teregstelling het hy ’n brief aan die ondersoekbeampte gegee waarin hy al die detail van hulle moordtog beskryf het. Hy het daarin gesê dat hy elke keer die sneller getrek het, Charmaine was in sy oë onskuldig.

Charmaine is in 2004 op parool vrygelaat nadat sy byna 20 jaar van haar tronkstraf uitgedien het. Sy het haar in die tronk bekeer en het ’n haarkapper geword. Sy is ook ʼn kranige kunstenaar.

Pietertjie wat by haar broer grootgeword het, het ook die pad byster geraak en het self op ’n keer vir ’n kort vonnis in die tronk beland. Hy is na die Kroonstad-gevangenis oorgeplaas om nader aan sy ma te wees. Pietertjie, wat hom ook tot prostitusie gewend het, het MIV opgedoen. In Maart 2006 sterf hy op 26-jarige ouderdom. ʼn Mens kan nie anders as om te wonder of die twee se lewens anders sou uitdraai indien hulle mekaar nie op daardie Oukersdag in 1991 ontmoet het nie.

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

KatjieDeKat ·

Ja as iets interressant is, kan mens maar die tyd neem om dit te lees. Dis n onrusbarende neiging wat ek op oorsese forums ook sien, die afgelope paar jaar. Many people don’t seem to have attention spans anymore. As die artikel langer as n twiet is, lees hulle dit eenvoudig nie. Ek sê altyd: The movie “Idiocracy” was a documentary. Ek sê nie jy is n idioot nie, verstaan my mooi. But people seem to be losing their ability to concentrate on more than the briefest of “soundbytes” or tweets. Onrusbarend.

Realis Thailand ·

Daar is mense wie die lang berig in n paar minute lees. Verder dit bring dae terug toe ons almal veel jonger was.
Sou graag wil weet waar Charmaine vandag is. Dit wys ook hoe die land daardie jare nog misdaad behoorlik ondersoek het.

Treurwilger ·

Só interessant om die gebeure weer te lees noudat ‘n mens ‘groot’ is.
Dit gee so eienaardige hartseer-gevoel.

Realis Thailand ·

Skryf gerus nog sulke stories uit die ou dae
Dit bring herinneringe terug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.