Kunswerk van inhuldiging aan Voortrekkermonument geskenk

Petra Luus, museumkurator, bestudeer die skildery. (Foto: Verskaf)

Die Erfenisstigting het ʼn skildery van die destydse inhuldiging van die Voortrekkermonument in Pretoria, nou meer as 60 jaar gelede, ontvang. Die skildery is die eerste om deur ʼn private persoon geskenk te word.

Die skildery dateer uit 1949 en is onlangs deur die kunstenaar Erich R. Schulz se dogter aan die monument se museumversameling geskenk, op die dag wat Erich sy 107de verjaarsdag sou vier.

Die kunswerk beeld ’n man en ’n vrou uit wat op die dag van die inhuldiging – 16 Desember 1949 – na die Voortrekkermonument in Pretoria staar.

Ingeborg Schulz sê haar pa, wat ’n groot liefde vir die monument en die Afrikanergeskiedenis gehad het, het destyds ’n bakkery in Sunnyside in Pretoria bedryf en graag geskilder.

Op die vraag hoekom haar pa die kunswerk aan die monument se museumversameling sou skenk, antwoord Ingeborg: “Wat anders gaan daarvan word? My pa was lief vir die monument en hy sou daarvan gehou het as dit hier bewaar word.

“Hy sou 107 geword het; so dit is ’n baie spesiale dag om dit aan die museum te skenk.”

Erich R. Schulz se skildery van die destydse inhuldiging van die Voortrekkermonument in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Petra Luus, die museumkurator, sê op haar beurt die museum ontvang verskeie versoeke om foto’s en programme van die inhuldigingsdag aan die museum te skenk. Dié is egter die eerste skildery van die inhuldiging wat ’n private persoon geskenk het.

“Dit wys jou watter waarde kuns aan geskiedenis bied. In die museumversameling is daar van bekende kunstenaars soos WH Coetzer se skilderye en nou is ons ook die trotse bewaarders van ’n skildery van iemand soos Erich Schulz.

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir die familie om ons te vertrou om na die kultuurskat om te sien nie.”

Ingeborg het bygevoeg sy is beïndruk met hoe daar na die terrein van die Voortrekkermonument omgesien word en die instandhouding wat gedoen word.

  • Die museumversameling is nie oop vir die publiek nie, maar uitstallings word wel gereël waar van die werke uitgestal word. Persone wat die versameling wil besigtig, kan ʼn afspraak maak. Skakel die Voortrekkermonument by 012 326 6770.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.