Kwotas, brandstofprys vat wind effe uit Sea Harvest se seile

(Foto: Sea Harvest)

Visvangkwotas en insetkoste het Sea Harvest veral geknou en die maatskappy se wins het geduik ná ʼn moeilike afgelope ses maande.

Felix Ratheb, hoof van die Sea Harvest-groep, sê taai makro-ekonomiese faktore, aangedryf deur beduidende insetkoste en ontwrigting aan die verskaffingswaardeketting, het sake vir die maatskappy bemoeilik.

Die groep, ʼn voorste produsent en bemarker van wilde en geteelde seekosprodukte, moes klaarkom met ʼn 10%-daling in beskikbare stokviskwotavolumes en ʼn vermindering van sy algehele toegelate vangs.

“Dit is vererger deur beduidend hoër brandstofpryse en ʼn sterker rand, wat gelei het tot ʼn 25%-daling in bedryfswins vir die tydperk,” sê Ratheb.

Ondanks die wind van voor, het Sea Harvest steeds wins voor rente en belasting van R287 miljoen verklaar, asook wesensverdienste van 65 sent per aandeel.

Ratheb sê hoewel hulle teleurgesteld was met die uitkoms van die visregtetoekenningsproses wat onlangs afgehandel is, het dit steeds ʼn goeie grondslag vir bestendigheid in die maatskappy oor die volgende 15 jaar gegee.

Die maatskappy het ook die verkryging van die Australiese onderneming MG Kailis afgehandel as deel van sy pogings om in die internasionale seekosruimte, waar gefokus word op seekosspesies van hoë waarde, te groei.

“Dít komplementeer en diversifiseer ons bestaande sakebedrywighede in Australië. Die Australiese filiaal presteer goed met ʼn 17%-toename in inkomste vir die tydperk.”

Die Cape Harvest Foods-segment het met 85% tot R965 miljoen gegroei danksy verhoogde kapasiteit by Ladismith Cheese en die verkryging van Mooivallei en BM Foods. Laasgenoemde produseer geriefsprodukte vir die kleinhandel en voedseldienstebedryf en sluit in doopsouse, pasteie, sop, slaai, olywe en seekos. Daar is verwerkingsaanlegte in Kaapstad en Johannesburg.

Die waterteelt-segment groei ook steeds en inkomste het met 55% tot R56 miljoen toegeneem. Die maatskappy sê daar word veral voordeel getrek uit verhoogde verkoopsvolumes en die prys van perlemoen, wat beteken die segment het sy verlies tot R18 miljoen gehalveer.

Die maatskappy bedryf twee perlemoenteelplase en twee oesterplase in Suid-Afrika en Namibië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Boatsie ·

Is hierdie nie nou die wiel wat begin draai nie of die Groot Meester wat aan iemand wys jul doen verkeerd deur visvangregte by die gewone klein bestaans vissermanne weg te vat en die kwotas vir die groot maatskappye te gee.
Dink maar net.

Schalk ·

Dit is my gedagte ook. Die klein bestaans vissermanne kan nie :spesiale geskenkpakkies” weggee om meer kwotas te kry nie.

Renier ·

en china vang voort nes hulle harte ,en honger volk, begeer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.