Kyk: 2023 se gewildste nuusvideo’s

Maroela Media het die afgelope jaar meer as 600 video’s op ons YouTube-kanaal geplaas. Van resepte en onderhoude met bekende kunstenaars tot beeldmateriaal van verwoestende brande en oorstromings.

Hier is die video’s wat vanjaar die meeste op ons YouTube-kanaal gekyk is.

  1. Brand verwoes vakansieoord

In September vanjaar het ʼn brand by die wildplaas Mabalingwe duisende hektare se plantegroei en ʼn hele paar vakansiehuise verwoes. Hierdie video wys die skade wat aan van die huise aangerig is en is 14 691 keer gekyk.

 

  1. Trane van vreugde: Heldehond Sussie is tuis

Trane van blydskap het vrylik gevloei toe Sussie, die vermiste langhaar- Jack Russell-terriër, ná meer as ʼn week veilig tussen bosse naby die Vaal-winkelsentrum in Vanderbijlpark opgespoor is. Dié video oor sussie se tuiskoms is 15 304 keer gekyk.

 

  1. David de Wet se Hekmeester

Dié jong entrepreneur het ʼn slim plan met ʼn plaashek gemaak. In dié video, wat 18 851 keer gekyk is, wys David de Wet hoe sy uitvindsel werk.

 

  1. Zak jaag prys op

As daar nou twee goed is wat die agtjarige Zak Thuynsma onder die knie het, is dit hoe om ʼn boranbees en ʼn biltongruiker te bemark. Die video wat wys hoe dié jong mannetjie sy afslaervaardighede vertoon, is 25 170 keer gekyk.

 

  1. Brande woed voort by Mabalingwe-wildreservaat

Die video van die brande by Mabalingwe in September is deur ʼn leser geneem en 27 228 keer gekyk.

 

  1. Liggaam van Garsfontein-leerder op rugbyveld gevind

ʼn Gr. 10-leerder van Hoërskool Garsfontein in die ooste van Pretoria se liggaam is op die skool se rugbyveld gevind. Haar ma het haar Maandag om middernag die laaste keer lewend tuis gesien. Maroela Media het die skool besoek en met die polisie gepraat. Die video daaroor is 29 904 keer gekyk.

 

  1. Vetkoekpaleis II op pad

Maroela Media het die stel van ʼn splinternuwe Vetkoekpaleis-reeks besoek. Die video, wat onderhoude met die akteurs insluit, is 33 314 keer gekyk.

 

  1. ‘Hoendervel-oomblik’ toe skoolorkes besluit basta met beurtkrag

Hierdie video van die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria se orkes is die derde meeste keer op Maroela Media se YouTube-kanaal gekyk. Die meisies het nie toegelaat dat beurtkrag hul optrede in die wiele ry nie. Die video wys hoe die meisies in donkerte voortspeel, al kan hulle nie die dirigent óf die bladmusiek sien nie. Dit is 41 568 keer gekyk.

 

  1. Woonwaens spoel weg by die Mangolds Pool-woonwapark

By die Mangolds Pool-woonwapark in Port Elizabeth is ʼn aantal woonwaens en strukture in September deur seestrome meegesleur. Dié video is die tweede meeste (44 829 keer) gekyk en wys die toneel van verwoesting.

 

  1. Steve Hofmeyr praat op die man af met Maroela Media

Die gewilde Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr het Maroela Media se kantore in Maart besoek en ʼn openhartige video-onderhoud onderneem. Dié video is 128 800 keer gekyk, die meeste van al die video’s wat vanjaar geplaas is. In die video bespreek Steve onder meer sy omstrede uitlatings, kanselleerkultuur, sy gewildheid as kunstenaar ondanks teenkanting én die behoud van Afrikaans. Indien jy nog nie daarna gekyk het nie, hier is die video:

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.