Kyk: Bokkies bly koelkop toe wildehonde toeslaan

‘n Skermgreep uit die video wat by die MalaMala-wildreservaat geneem is. Dié video is deur Steff McWilliam geneem.

Drie klipspringers het Dinsdag koelkop gebly en ʼn trop wildehonde uitoorlê toe hulle die dapper bokkies wou bykom.

Die voorval het by die MalaMala-wildreservaat in Mpumalanga afgespeel en is deur twee veldgidse, Steff McWilliam en Michael Botes, afgeneem.

Op die video kan gesien word hoe die bokke heel kalm op die rand van ʼn steil klip staan terwyl die roofdiere hulle omsingel en omtrent hul nekke rek om by die klipspringers uit te kom.

Gareth van Rooyen, woordvoerder vir die reservaat, sê die hele voorval het sowat 20 minute geduur. Dit het ongeveer 800 m van MalaMala se hoofkamp plaasgevind.

Die korter video wat deur McWilliam geneem is, het intussen soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

Hoewel die uitkoms van die ongemaklike ervaring nie op dié video te sien is nie, verseker Van Rooyen dat die klipspringers inderdaad oorleef het. “Twee impalas is wel kort ná die voorval deur die honde doodgemaak.”

ʼn Volledige video wat deur Botes geneem is, sal na verwagting Donderdag op die reservaat se YouTube-kanaal gepubliseer word.

‘n Skermgreep uit die video wat by die MalaMala-wildreservaat geneem is. Dié video is deur Michael Botes geneem.

Van Rooyen sê dis nie ongewoon vir klipspringers om roofdiere soos wildehonde te uitoorlê nie.

“Dis een van hul verdedigingstrategieë. Klipspringers se liggaamsbou laat dié bokke toe om tot op moeilik bereikbare plekke te klouter. Hulle hoewe is boonop baie puntig, wat dit vir hulle moontlik maak om op baie nou rotslyste en rante te staan.”

Volgens Van Rooyen het Botes ʼn soortgelyke voorval sowat drie jaar gelede op presies dieselfde plek beleef.

“Dit was dieselfde klipspringers op dieselfde klip. Dit was wel ʼn ander trop wildehonde.”

Hy sê sowat 21 wildehonde was deel van die trop wat op die video te sien is. Dit was hoofsaaklik die jonger wildehonde wat by die klip of en af gehardloop het om die klipspringers te probeer vang.

Dit is nie duidelik presies hoeveel klipspringers in die koppies en klipperige gebiede op die reservaat woon nie. Troppe wildehonde trek ook gereeld van een plek na ʼn ander.

MalaMala beslaan 13 300 ha en deel ’n 19 km‑ onomheinde grens met die wêreldbekende Krugerwildtuin. Dit is een van die grootste Groot Vyf- private wildreservate in Suid-Afrika en is tussen die Krugerwildtuin en die Sabi Sand-wildreservaat geleë.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Natasha ·

Moeder natuur bly asemrowend en verbysterend. Stel nooit teleur nie!

anniekiewiet ·

Dankie vir sulke pragtige interessante berigte ook, MM

Frank ·

Hier is die plaas moordenaars in aksie. Baie goeie video wat wys hoe hulle net as `n groep aanval. Altyd ses en meer van hulle. Die wildehonde.

Robert ·

Ek vrtstaan wat jy bedoel maar wildehonde is beslis beter as plaasmoordenaars.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.