Kyk: Kinders in die wolke oor ‘vliegmasjien’

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Altesame 80 kindertjies van uiteenlopende agtergronde het Vrydag met breë glimlagte en ʼn glinster in hul oë opgekyk na die hemele in afwagting om in een van die vele ligte vliegtuie te klim en in die lug rond te rits.

Die organiseerders van vanjaar se Children’s Flight-inisiatief by die Magalies Gliding-klub in Gauteng het toegesien dat kinders van verskeie weeshuise, terminale siekes en brandslagoffers van regoor die land die kans kry om saam met ʼn ervare vlieënier in die wolke te sweef.

Die kinders se glimlagte het van oor tot oor gestrek terwyl hulle woes gewaai het vir elke toeskouer wat rondstaan en wag dat die vliegtuie opstyg.

“Dit was die lekkerste dag van my lewe,” het een kind gesê nadat hy sy beurt in ʼn vliegtuig gehad het.

“Ek kan nie wag om dit weer te doen en self eendag só vliegmasjien te vlieg nie.”

The Children’s Flight-inisiatief is in 2016 van stapel gestuur toe Felix Gosher en Michael Ferguson koppe bymekaar gesit het en die liedjie “Paper Planes” geskryf het. Dié liedjie bevorder die idee dat enigiemand wat ʼn droom het, dit kan bereik.

“Vir jare lank was lugvaart, in enige vorm, ʼn eksklusiewe voorreg vir geselekteerde individue of die superrykes, maar ons wou dit oopstel vir kinders van enige agtergrond,” sê Laurien Kemp, organiseerder van die geleentheid.

“Dit gee kinders die hoop en vrymoedigheid om te droom en te weet dat hulle kan wees wat hul droom om te wees.”

Deur dié geleentheid het meer as 1 800 kinders reeds die geleentheid gehad om in die lug opgevat te word vir ʼn opwindende ervaring en dikwels een wat een keer in ʼn leeftyd voorkom.

Tientalle vlieëniers kom jaarliks in Magaliesburg byeen en stel, in hul private hoedanigheid, hul tyd, ervaring en vliegtuie op dié dag beskikbaar.

“Baie van hierdie kinders gaan dalk nooit weer die geleentheid kry om in ʼn vliegtuig te sit nie. ʼn Paar van die kinders is terminaal siek en dit kan dalk hul laaste vlug ooit wees, so ons probeer alles in ons vermoë om hierdie ondervinding so lekker as moontlik te maak sodat kinders weer begin droom en geïnspireer word,” sê Kemp.

Rob Osner, ʼn vlieënier wat sy dienste op hierdie dag aangebied het, sê The Children’s Flight wentel daarom dat die lugvaartbedryf meer toeganklik vir almal is.

“Diegene in die lugvaartbedryf kan elke jaar vir minder bevoorregte kinders die geleentheid bied om dít te geniet wat ons die voorreg het om elke liewe dag te geniet,” sê hy.

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

“Al slaag ons daarin om net een kind te inspireer of aan te moedig om sy of haar droom te volg, of om self ʼn vlieënier te word, het ons ons werk gedoen.”

Voordat die opgewonde gesigte ʼn voet op een van die vliegtuie gesit het, is hulle met ʼn valskermspringvertoning trakteer. Vier ervare valskermspringers het van kilometers in die lug uit ʼn vliegtuig gespring met ʼn enorme Suid-Afrikaanse vlag, wat meer as 80 kg weeg, in die hand.

Die kinders het met verwondering in die lug opgekyk, terwyl hulle trots op aandag gestaan het vir die volkslied wat in die agtergrond speel.

“Die kinders was byna uit hul vel van opgewondenheid en elke nuwe ding, van gesigsverf tot die valskermspringers, het die afwagting vir hul beurt om te vlieg net nog meer gemaak,” sê Osner.

“Alles wat op hierdie dag gedoen is, is spesiaal beplan sodat die kinders dit ten volle kan geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Samuel ·

Dit is ‘n baie goeie, eerbare inisiatief en ek hoop dit is volhoubaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.